Parlementsgebou ná ’n jaar steeds in puin

  • 0

’n Jaar sedert ’n brand die land se parlementsgebou, wat die Nasionale Vergadering huisves, vernietig het en dele van die ou Volksraad beskadig het, is daar nog geen duidelikheid wanneer daar met herstelwerk begin sal word en hoe lank dit sal duur nie.

Dit was Maandag presies ’n jaar gelede dat die brand op 2 Januarie 2022 uitgebreek en vir minstens drie dae gewoed het.

Die brand het deur die vyf verdiepings van die Nasionale Vergadering en die aangrensende ou Volksraadsvleuel gewoed, die dak het ineengestort en honderde kantore wat parlementslede, personeel en dokumente en toerusting gehuisves het, is vernietig.

Die parlement se voorsittende beamptes sal glo hierdie week planne uiteensit om die geboue wat tydens die brand vernietig is herbou.

Parlementêre woordvoerder Moloto Mothapo het in ’n verklaring gesê die brand het ’n kollektiewe nasionale trauma veroorsaak wat vir baie jare in die gedagtes van Suid-Afrikaners geëts sal wees.

Hy sê die werk om die parlement te herstel sal vanjaar verskerp word.

“Die voorsittende beamptes van die parlement, die speaker van die Nasionale Vergadering en die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies sal later vandeesweek besonderhede van die herbouprogram, die projektydraamwerke en ander relevante inligting op ’n perskonferensie met die nasie deel."

Hy sê die parlement is bemoedig deur dade van patriotisme uit verskeie sektore van die samelewing die afgelope jaar sedert die brand miljoene rand se skade aan die parlementêre kompleks aangerig het. “Dit sluit in vrywilligerswerk, aanbiedinge van ondersteuning en boodskappe van solidariteit van susterparlemente en ander instellings, plaaslik en internasionaal.”

Sedert die brand is parlementsittings by die Kaapstadse stadsaal gehou, maar die DA sê die lokaal is nie groot genoeg nie. Die party sê hy oorweeg nog regsopsies oor of die parlement aanspreeklik gehou moet word vir die brand of nie.

Die DA se parlementêre hoofsweep, Siviwe Gwarube, het aan die TV-kanaal eNCA gesê die regering moet prioritiseer om ’n alternatiewe vergaderplek vir die parlement te vind.

Sy sê daar is nog geen behoorlike ondersoek gedoen nie en mens sou dink dat ’n instelling van hierdie omvang baie gou sou vasstel presies wat gebeur het.

Daar is verlede jaar berig dat dit die belastingbetalers ongeveer R3 miljard sal kos om die uitgebrande parlementsgeboue weer tot hulle volle glorie te herstel.

Die skatting vir die herstelkoste is vervat in ’n verslag wat verlede jaar aan die minister van openbare werke en infrastruktuur, Patricia de Lille, oorhandig is.

Die 49-jarige Zandile Christmas Mafe, wat daarvan aangekla word dat hy die gebou aan die brand gesteek het, is steeds in aanhouding ná sy voorverhoor in November verlede jaar.

Hy staan ​​in die Hooggeregshof in Kaapstad tereg op verskeie aanklagte, insluitend huisbraak met die doel om terrorisme te pleeg, twee aanklagte van brandstigting en diefstal.

Hy het verlede jaar twee verhore in Augustus en September misgeloop voordat hy later voor regter Nape Dolamo in die Wes-Kaapse Hooggeregshof verskyn het.

Mafe is op 2 Januarie 2022 deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPCI), die Valke, in hegtenis geneem.

Na ’n kort verskyning in die landdroshof in Kaapstad was hy tot 11 Januarie verlede jaar in aanhouding, hangende ’n borgtogaansoek en verdere ondersoek. Hy is met paranoïese skisofrenie gediagnoseer en vir 30 dae waarneming na ’n geestesinrigting gestuur vir ’n besluit of hy geskik is om verhoor te word.

Op 6 Januarie 2022 het die Stad Kaapstad ’n voorlopige verslag vrygestel gebaseer op waarnemings van die brandweerdienste wat bevind het dat die sprinkelklepstelsel van die Nasionale Vergadering sedert 2017 nie gediens is nie, en ook af was ten tye van die brand. Daar is ook bevind dat branddeure oop was, wat die verspreiding van die brand aangehelp het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top