Partye span saam teen regering se ramptoestand

  • 0

Die regering word uit verskeie oorde met die hof gedreig omdat hulle nie die nasionale ramptoestand wil ophef nie.

Die DA en ActionSA het aangedui dat hulle ook die regering se jongste verlenging van die ramptoestand tot 15 April 2022 gaan uitdaag. Die vakbond Solidariteit het reeds gesê hulle staan gereed om deel te neem aan die regsproses en te litigeer indien die onderskeie ministers voortgaan met die inwerkingstelling van die nuwe regulasies.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het Donderdag in ’n verklaring gesê hy het hulle prokureurs opdrag gegee om ’n dringende hofaansoek in te dien na Dinsdag se “irrasionele en onredelike” verlenging van die ramptoestand.

Volgende Woensdag sal dit twee jaar wees sedert Suid-Afrika ’n drie weke lange inperking betree het om voor te berei vir die COVID-19-epidemie.

Steenhuisen sê dit is nie genoeg om net die ramptoestand te beëindig nie. Die inperking self moet volgens hom beëindig word. Hy sê dit kan nie net permanente wetgewing word, soos die regering tans probeer doen nie.

Die inperking is nie in Suid-Afrika se beste belang nie. Inteendeel, dit veroorsaak al hoe meer werkloosheid en groter armoede, sê Steenhuisen.

ActionSA sê in hulle verklaring hulle sal alle moontlike maniere begin ondersoek om die regering se besluit uit te daag. “Dit kan regstappe en die ondersoek van samewerking met eendersdenkende politieke partye insluit om te verseker dat die vryhede van Suid-Afrikaners herstel word.”

Die party sê daar is geen twyfel dat Suid-Afrikaners, soos mense oor die hele wêreld, sekere beperkings in die hoogtepunt van die pandemie moes verduur om lewens te beskerm nie, maar die land is by daardie punt verby.

“Vryhede is heilig in Suid-Afrika en kan nie voortdurend onnodig beperk word deur enige regering wat homself bewys het as so korrup, wat so gevoelloos oor ekonomiese lyding is, en wat soveel minagting vir sy burgers het soos hierdie een nie.”

Volgens Solidariteit is die voorgestelde regulasies geheel en al onprakties en duidelik ondeurdag.

“Feitlik al hierdie regulasies verteenwoordig dieselfde tipe maatreëls wat min of geen impak tydens die inperking gehad het nie. Daar is geen rasionele motivering hiervoor nie. ’n Mens kry die indruk dat die regering nou bloot net reguleer ter wille daarvan om te reguleer,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

“Die kanse dat selfs ’n enkele persoon se lewe deur hierdie regulasies gered sou word, is bitter skraal, terwyl die regulasies eintlik ongelooflike ekonomiese en maatskaplike skade kan aanrig. Dit is totaal waansinnig.”

Solidariteit voer in hulle verklaring aan dat die inwerkingstelling van hierdie regulasies ’n reusestap agteruit vir die land beteken.

“Internasionaal is die norm om weg te beweeg van alle vorme van inperkingsregulasies, en om heeltemal weg te beweeg van pandemieverwante maatreëls. Dit is slegs in Suid-Afrika waar ons regering verwag dat daar permanente maatreëls [...] moet wees om in effek ’n permanente ramptoestand daar te stel,” sê Mulder.

Hy sê bo en behalwe die onwenslikheid van enige sulke regulasies is hierdie maatreëls besonder swak geformuleer: Daar word geen teikens genoem vir die afstel van die maatreëls nie; dit probeer nasionale oplossings vir plaaslike probleme skep, en dit dreig om die hele land tot stilstand te bring vir enkele gevalle.

“Hierdie voorgestelde regulasies is nie bloot net skadelik nie; hulle is absurd, onlogies en dui op ’n regering wat heeltemal ontkoppel van die werklikheid is,” aldus Mulder.

Die verpligte dra van maskers is volgens die DA ook uitgedien.

In Suid-Afrika is dit steeds die wet om maskers in die openbaar te dra, ook in skole, maar volgens die DA is dit ’n hindernis tot leer en ’n bron van ongemak.

“In die meeste lande word maskers slegs in spesifieke hoërisiko-kontekste vereis. Die vereiste om maskers buite te dra is besonder irrasioneel.”

Die DA sê dit is tyd om COVID-19 op dieselfde manier te behandel as wat ander gesondheidsrisiko's behandel word, soos MIV, TB, kanker en moedersterftes.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top