Dit moet ongetwyfeld een van die mooiste (treffendste, meelewendste) vertellings wees van een van die ergste (mees skokkende, hartseerste) oomblikke in die geskiedenis van ’n nasie; en Arthur M Schlesinger, gerekende historikus en spesiale assistent vir pres John F Kennedy, het dié oomblik – naamlik die sluipmoord op Kennedy op 22 November 1963 – op ’n diep persoonlike wyse ervaar.
In A thousand days, Schlesinger se boek oor Kennedy se termyn in die Wit Huis, haal hy op die sesde laaste bladsy van die slothoofstuk die Texas-goewerneursvrou Nellie Connally aan, wat Kennedy gemoedelik wys op die vriendelike ontvangs wat hy gekry het: “You certainly can’t say that the people of Dallas haven’t given you a nice welcome.”
Oomblikke daarna tref die ironie van Connally se stelling wanneer die presidensiële motorkade in Elmstraat indraai en heuwel af verby die Texas School Book Depository ry; dan die skote uit die sluipmoordenaar se wapen, klanke wat Schlesinger as volg beskryf: “[...] faint and frightening, suddenly distinct over the roar of the motorcade [...]”. Ook die uitdrukking op ’n sterwende Kennedy se gesig en die reaksie van sy vrou: “[...] the quizzical look on the President’s face before he pitched over, and Jacqueline crying, ‘Oh, no, no ... Oh, my God, they have shot my husband’”. Dan, amper asof dit ’n toneel uit ’n fliek is wat hier afspeel, die effek van die gebeure op die atmosfeer: “[...] the horror, the vacancy”.
“Die gruwel” en “die leemte” wat daardeur gelaat word: Sluipmoorde op presidente is niks nuuts vir Amerikaners nie, soos ’n mens leer uit Abraham Lincoln (1865), James Garfield (1881) en William McKinley (1901), wat elkeen slagoffers was daarvan voor Kennedy se heengaan; Theodore Roosevelt (1912) en Ronald Reagan (1981) is geskiet, maar het oorleef; en Franklin D Roosevelt (1933), Harry Truman (1950) en Gerald Ford (twee keer, die laaste keer in 1975) het ongeskonde daarvan afgekom, maar ander mense is in die voorvalle dood of beseer. (Lees meer hier.)
En toe, in die vroeë oggendure (Suid-Afrikaanse tyd) van 15 Julie verlede jaar, word (indertyd voormalige) pres Donald Trump deur die oor geskiet by ’n verkiesingsbyeenkoms vir wat nou sy tweede termyn is. In dié geval, wat deur kommentators as ongelooflik onwaarskynlik beskou is, is ’n Trump-ondersteuner noodlottig getref; in ’n ander (beweerde, word op nuusplatforms berig) sluipmoordpoging op Trump, dié terwyl hy gholf speel by sy landgoed in West Palm Beach, Florida, het hy ook ongedeerd daaruit gekom.
Ten spyte van die agterdog oor albei Trump-insidente, bly sluipmoordpogings op ’n staatshoof ’n kwessie waaroor nie ligtelik omgegaan behoort te word nie. In Suid-Afrikaanse geskiedenis het die mees opspraakwekkende voorval van dié aard in September 1966 geskied toe die voormalige premier, Hendrik Verwoerd, in die destydse Volksraad deur ’n parlementêre bode doodgesteek is; in die meer onlangse verlede was die naaste wat die land aan ’n gebeurtenis van só ’n opspraakwekkende (ontwrigtende, emosioneel opruiende) voorval gekom het, die sluipmoord op die prominente ANC-leier Chris Hani in 1993, maande voor die land se eerste ná-apartheidsverkiesing.
Nou trek die land al by sy vyfde president van die demokratiese era, Cyril Ramaphosa, wat verlede jaar vir ’n tweede vyfjaartermyn (tot 2029) verkies is. Dit is egter geen uitgemaakte saak dat hy sy termyn sal uitdien nie, omdat twee van sy voorgangers – Jacob Zuma en voor hom Thabo Mbeki – deur die ANC uit die poste verwyder is kort nadat nuwe partyleiers verkies is.
Paul Mashatile (Foto: Foreign, Commonwealth, and Development Office OGL 3 via Wikimedia)
In die nadraai van die Mei 2024-uitslae van die algemene verkiesing, waartydens die ANC gedwing is om ’n regering van nasionale eenheid met onder meer die grootste opposisieparty (Demokratiese Alliansie) te vorm, is ’n volgende presidentsaanstelling die party nie gewaarborg nie. Nogtans het die mededinging reeds afgeskop. Altans, dit wil so voorkom, want dit is dié mededinging wat as ’n moontlike beweegrede aangedui word vir ’n beweerde skietaanval op adjpres Paul Mashatile, wat sowel Ramaphosa se onderleier in die ANC as in die Uniegebou is.
Die eerste sprake hiervan is “gehoor” in ’n berig deur die Sondagkoerant City Press. Mashatile was glo op pad terug van ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee in Boksburg, Johannesburg toe die voorval sou plaasvind. Maar dan die vreemde verduideliking toe hy ná ’n Paas-kerkdiens daaroor gevra word: dat sy beskermingspan gedink het dit was gewoon klippe wat die motor getref het – net om agterna vas te stel dat dit in werklikheid skote was. Genoeg rede vir die adjunkpresident, wat beide die presidentspos van die ANC én die land in sy visier het, om te glo dat iemand hom dood wil hê.
Selfs die ANC se belangrikste uitvoerende amptenaar, sekretaris-generaal Fikile Mbalula, is egter deur die nuus onkant betrap. Nòg Mashatile nòg enigiemand anders in die regering, het Mbalula verlede week by ’n gedenkdiens vir pous Franciskus gesê, het die party ingelig oor die gebeure (wat drie weke tevore glo plaasgevind het). Dit val heel vreemd op as dit wel die geval is – en dalk verklaar dit die agterdog in Mbalula se bykomende uitlatings, soos “in dié omstandighede maak ’n mens nie net gevolgtrekkings nie, want baie dinge word gesê”.
Terwyl ’n mens sou verwag dat die media heelweek oor die “aanval” sou berig en dat besprekings met veiligheidskundiges hieroor gehou sou word, was daar ’n amperse dawerende stilte te bespeur. Slegs op die radiostasie SAfm kon inbellers gereeld gehoor word hul mening oor die beweerde aanval deel – en die meerderheid was baie ongunstig jeens Mashatile.
Gister het die Sunday Times, Suid-Afrika se grootste Sondagblad, slegs in sy politieke hekelrubriek Hogarth ruimte kon vind vir (soos die opskrif dit stel) “Mashatile, man of mystery”: “Was it an assassination attempt, bullets or rocks, the work of a highly-trained sniper or stray shotgun pellets? The truth seems not to matter as everyone believes what they want to believe.” Hier vind Hogarth ook aansluiting by die vermoedens dat die beweerde aanval met die ANC se opvolgstryd te make het: “based on who they think should be elected as the new ANC leader at its national conference in December 2027”.
Nogtans word die saak nou op die hoogste vlak ondersoek en die nasionale polisiekommissaris, genl Fannie Masemola, het die land die versekering gegee dat die president en adjunkpresident se veiligheid prioriteit geniet by die polisie se presidensiële beskermingsdiens.
’n Wolk swaar met onbeantwoorde vrae hang egter nou oor die insident. Hier is drie:
- Waarom sou die adjunkpresident se beskermingspan nie onmiddellik ondersoek instel wanneer ’n voorwerp sy kar tref nie?
- Hoekom is die voorval nie by sy partybase aangemeld nie?
- Was dit nie dieselfde beskermingspan wat in Julie 2023 haastig was om die insittendes van ’n voertuig, wat glo nie gou genoeg vir die konvooi op die N1 in Johannesburg padgegee het nie, van die snelweg af te dwing en by te dam nie?
Die enigste manier hoe daar van ons verwag kan word om die Mashatile-storie te glo, is as die polisie die volledige uitslag van sy ondersoek na die insident openbaar sal maak en nie sou skuil agter die vertroulikheid van die adjunkpresident se veiligheidsplan nie.
Wanneer ’n aantyging van ’n sluipmoordpoging op die land se tweede belangrikste leier gemaak word, is dit uiteindelik die stabiliteit van die staat wat onder bedreiging kom en gevolglik ook die veiligheid van die ganse burgery. Dit is dus ’n aantyging wat nie ligtelik gemaak kan word en ook nooit ligtelik opgeneem mag word nie – onwaarskynlik soos wat dit ook al mag voorkom.
Die feit is dat die geskiedenis van sluipmoorde op Amerikaanse presidente – en elders in die wêreld – genoeg bewys is dat daar altyd iemand daar buite mag wees met sulke moordgedagtes, aangedryf deur ideologie, geestesversteurdheid of politieke ambisie. Maar politieke “kulkuns” hoort nie tuis in ’n land waar gemoedere vinnig opvlam nie: Indien Mashatile wel aangeval is, sou ’n mens verwag dat daar dringendheid in die optrede van sy veiligheidspan moes wees. Omdat dit nie gebeur het nie, is die algemene vermoede nou dat hy homself dalk op hierdie wyse as ’n “slagoffer” wou posisioneer – soortgelyk aan die taktiek van Jacob Zuma – om steun te werf vir ’n presidensiële veldtog. Dit sal, as dit waar is, onverskoonbaar onverantwoordelik wees. Ook ongevoelig teenoor leiers wat inderdaad slagoffers van sluipmoordaanvalle was. Dit is ’n slag wat nie eens deur die poëtiese beskrywing van die oomblik – soos Schlesinger oor Kennedy se skietdood – versag kan word nie.