Die ondersoekende joernalis Jacques Pauw en skrywer van die bekroonde boek The President’s keepers dagvaar ’n ander joernalis vir laster omdat hy Pauw na bewering voortdurend in die openbaar beskinder en belaster.
Piet Rampedi beskuldig Pauw op sosiale media van allerlei skokkende dade. Hy beweer onder andere Pauw is ’n pedofiel wat kinders in Mosambiek gemolesteer het.
Rampedi is redakteur van die Sunday Independent se afdeling vir ondersoekende joernalistiek. Hy voer reeds geruime tyd ’n persoonlike veldtog teen Pauw op sosiale media. Hy skryf onder andere op Twitter Pauw is ’n rassistiese leuenaar, boelie en inligtingsmous wat as joernalis paradeer.
Rampedi, wat voorheen vir die Sunday Times gewerk het, is een van die joernaliste wat onder ’n wolk daar weg is vir sy aandeel aan die berigte oor die sogenaamde rogue unit by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Die koerant het die berigte later onttrek en toegegee dit was vals, misleidend en onbillik.
Jacques Pauw (Foto: LitNet)
Sedertdien voer hy ’n smeerveldtog op Twitter teen Pauw en verskeie van sy voormalige kollegas by die Sunday Times en ander Suid-Afrikaanse joernaliste. Die joernaliste wat onder sy skerp tong deurloop, is volgens hom almal deel van die vermeende kabaal wat deur Pravin Gordhan beheer word.
’n Prokureursbrief is Woensdag deur Pauw en sy uitgewers aan Rampedi gestuur. Daarin word hy aangesê om alle lasterlike twiets oor Pauw binne 24 uur te verwyder en verskoning te vra vir die impak wat dit gehad het.
The lawyer's letter that my attorney sent to journalist Piet Rampedi a few minutes ago in reaction to him calling me a paedophile, liar and racist on Twitter. pic.twitter.com/B3o1K59ndk
— Jacques Pauw (@Jaqqs) February 19, 2020
Dit volg nadat Rampedi hom die afgelope week weer gebrandmerk het as ’n pedofiel wat na bewering tydens die vroeë 2000’s seuns in Mosambiek misbruik het en dat hy ’n leuenaar en rassis is.
Die twiet is meer as 400 keer hertwiet deur Rampedi se volgelinge, onder andere die leier van die EFF, Julius Malema. Dit het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Die bewerings is ook deur Rampedi op Facebook herhaal.
Rampedi se jongste sarsie aanvalle op Pauw volg na ’n artikel van Pauw in die elektroniese koerant Daily Maverick. Die artikel handel oor beweerde leuens wat versprei is oor die inkomstediens se sogenaamde rogue unit.
Pauw haal in sy artikel aan uit ’n radio- en TV-onderhoud met Rampedi waar hy volgens Pauw buitensporige en opgemaakte bewerings oor die “rogue unit” maak.
Kort nadat Rampedi die prokureursbrief van Pauw se prokureur ontvang het, het hy op Twitter gesê hy weier om aan die eise gehoor te gee en is nie bereid om enige van sy bewerings teug te trek nie.
Hy het op Twitter gesê sy prokureur, Eric Mabuza, het hom versoek om al die getuienis wat hy teen Pauw het, bymekaar te maak, insluitend die smeerveldtog wat Pauw na bewering sedert 2014 teen hom voer, en dat hulle later breedvoerig op Pauw se prokureursbrief sal reageer.
In Pauw se prokureursbrief wat namens hom deur sy prokureur Willem de Klerk opgestel is, sê Pauw die bewerings teen hom is van alle waarheid ontbloot, dat dit uiters lasterlik is en inbreuk maak op Pauw se grondwetlike regte en integriteit.
Die vete tussen die twee joernaliste broei al sedert The President’s keepers in 2017 op die rak verskyn het. In sy boek skilder Pauw ’n negatiewe prentjie van Rampedi as ’n uiters onbetroubare joernalis.
Hy is glo deur ’n “mampara” soos die destydse minister van kommunikasie, Faith Muthambi, en oudpresident Jacob Zuma geprys toe hy ’n nuwe koerant, die African Times, wou begin, het Pauw onder andere in sy boek geskryf.
Buro: MvH