PE se burgemeester oorleef vierde mosie van wantroue

  • 0

Nelson Mandelabaai se DA-burgemeester in Port Elizabeth, Athol Trollip, het ’n vierde mosie van wantroue om van hom ontslae te raak oorleef.

Opposisiepartye wat van Trollip ontslae wou raak moes weer eens op hul neuse kyk toe een van die opposisiepartye wat aanvanklik die wantrouemosie teen hom sou steun, op die laaste nippertjie besluit het om dit nie meer te doen nie.

Die vergadering van die Nelson Mandelabaai se metroraad waar die mosie van wantroue Donderdag teen die burgemeester Athol Trollip ter tafel gelê sou word, is verdaag voordat daaroor gestem kon word. Verskeie opposisiepartye, insluitend die ANC, die EFF, die UDM en die AIC het uit die vergadering gestap voor die stemmery kon begin.

Hulle het aan die Speaker gesê dat hulle nie die sakelys vir die vergadering ontvang het nie en dat die vergadering derhalwe onwettig is. Nóg ’n opposisieparty, die Partriotic Alliance (PA) het Woensdagaand aangedui dat hy nie saam met die ander partye gaan stem om die vereiste 61 stemme te kry sodat die wantrouemosie kan slaag nie. Die Speaker, Jonathan Lawack, sê raadslede sal kennis kry van ’n volgende vergadering.

Die PA se Marlon Daniels wat deel vorm van die DA-koalisieregering in die metro het Woensdagmiddag nog aangedui dat hy saam met die opposisie sou stem om van Trollip ontslae te raak, maar het op die laaste nippertjie besluit om nie die mosie teen Trollip te steun nie. Daniels het Donderdag gesê die PA sal nooit weer hul steun aan opposisiepartye verleen nie.

Die verdeelde opposisie het elke moontlike stem nodig gehad om van Trollip ontslae te raak, maar ’n bekgeveg tussen die EFF en die PA het gesorg dat Trollip nie uit die kussings gelig kon word nie. Die geveg het glo onder andere gehandel oor wie die burgemeesterskandidaat sou wees indien Trollip uitgestem word. Blykbaar het die PA se Marlon Daniels sy tande daarvoor geslyp maar die EFF was nie ten gunste daarvan nie.

Die ANC, die African Independent Congress (AIC), United Front (UF) en die United Democratic Movement (UDM) se stemme was nie genoeg om Trollip in die pad te steek nie en die PA se enigste lid het hulle planne in die wiele gery.

Die afgelope week se stemmery in die Nelson Mandelabaai se metro het opnuut getoon watter groot rol opposisiepartye kan speel wanneer daar nie ’n volstrekte meerderheid is nie en ’n regering deur koalisies aan bewind gehou word.

In hierdie geval kon ’n klein party soos die PA met slegs een lid in die stadsraad die septer swaai en bepaal of Trollip sou aanbly as burgemeester of nie. Dit plaas kleiner partye soos die PA in ’n baie magtige posisie wanneer daar ’n koalisieregering aan bewind is.

Trollip het in reaksie op die uitstappery gesê die koalisie doen alles in sy vermoë om bestendigheid in die Raad te verseker. Hy sê die Raad is vasbeslote om sy termyn te voltooi. Die Patriotic Alliance het intussen die inwoners van die metropool om verskoning gevra dat die Raad nie kon voortgaan met die sake van die dag nie weens die opposisie se uitstappery.  Raadslid Marlon Daniels sê sy party sal nooit weer saam met die opposisie stem nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top