Met minder as drie weke voordat Suid-Afrikaners na die stembus gaan om hulle kruisies te strek in vanjaar se algemene verkiesing, bevestig die jongste meningspeiling die tendens van die ANC se dalende steun en toenemende ongewildheid onder kiesers.
Die TV-nuuskanaal eNCA se verkiesingspeiling 2024 wat deur Mark Data uitgevoer is en Donderdag bekend gemaak is, voorspel, soos die meeste ander peilings die afgelope tyd, dat die ANC se gewildheid skerp afneem onder kiesers.
eNCA, ook bekend as eNews Channel Africa, is ’n 24-uur-televisienuus-uitsaaier wat deur e.tv besit word en op Afrika-stories en -gebeure fokus.
Die kanaal sê op hulle webwerf 29 Mei 2024 is ’n belangrike dag in die geskiedenis van Suid-Afrika se demokrasie. Om die gevoelens van Suid-Afrikaners te peil, het eNCA die strate ingevaar en, bygestaan deur Mark Data (Edms) Bpk, onderhoude gevoer met 3 022 huishoudings wat verteenwoordigend is van die breër samelewing. Die onderhoude is van aangesig tot aangesig en op ’n een-tot-een-basis gevoer.
eNCA together with MarkData (Pty) Ltd took to the streets to gauge the feelings of ordinary citizens ahead of the 29 May national elections. We interviewed 3022 households that are representative of SA demographics. The interviews were conducted face-to-face, on a one-on-one… pic.twitter.com/2Qamp38WnP
— eNCA (@eNCA) May 9, 2024
Diegene met wie onderhoude gevoer is, het gewissel van stedelinge tot plattelandse burgers. Verder is die onderhoude in die persoon se voorkeurtaal gevoer.
Inligting van 30% van diegene wat ondervra is, is dubbel gekontroleer om die kwaliteit van die data te verbeter. Die foutmarge was ’n aanvaarbare 1,8%.
eNCA sê hulle is besig om nog ’n verkiesingspeiling af te handel. Die uitslae sal ’n paar dae voor stemdag vrygestel word, op 19 Mei 2024.
Die deelnemers is in die aanvanklike opname net meer as 40 vrae gevra. Van die hoogtepunte uit die peiling toon dat korrupsie een van die grootste redes is waarom die ANC steun verloor. ’n Skrale 14% van diegene wat ondervra is, meen die ANC doen hulle beste.
Werkloosheid, beurtkrag, armoede en die tekort aan watervoorsiening is van die ander redes waarom die ANC steun verloor.
’n Oorweldigende meerderheid van die respondente, naamlik 83%, is teleurgesteld met die maner waarop die land se politiek bedryf word. ’n Skrale 16% is tevrede daarmee en nie teleurgesteld met die regering se resultate nie.
Slegs 21% van die mense wat aan die peiling deelgeneem het, glo die ANC sal bereid wees om die mag prys te gee indien hulle die verkiesing verloor. Altesaam 77% glo hulle sal ’n manier vind om aan die bewind te bly.
Dit is veral in KwaZulu-Natal waar die rooi ligte volgens hierdie peiling vir die ANC flikker. Volgens die peiling sal die ANC, wat tans in beheer is van KZN, ná die verkiesing die derde grootste party in die provinsie wees. Die nuutgestigte MK-party van Jacob Zuma sal volgens die opname die meeste stemme kry.
Daar word voorspel dat die MK-party 35,6% van die stemme in KZN sal kry, die IVP 20,9%, die DA 13,6%, die ANC slegs 13,1%, die EFF 10,6% en die ander kleiner partye saam 6,2%.
Meer as die helfte van die respondente (53%) is van mening dat Suid-Afrika ’n nuwe regering benodig.
Altesaam 49% het gesê Suid-Afrika moet terugkeer na die gees van 1994. Slegs 16% dink Suid-Afrika raak beter en net 12% glo die ANC doen hulle beste.
Op ’n vraag waarom daar ’n toename in armoede en ongelykheid is, het feitlik die helfte van die respondente (49%) gesê dit is omdat die regering nie omgee nie; 48% glo dit is weens die gierigheid van die swart elite; 35% meen dit is die gevolg van ANC-beleid; en 33% sê dit is omdat blankes steeds voordeel trek uit apartheid.
Die rede waarom die DA die Wes-Kaap suksesvol regeer, is volgens 37% van die respondente dat blanke en bruin kiesers die DA ondersteun. Altesaam 34% sê dit is omdat die DA-leiers goed gekwalifiseerd is; 35% sê dit is omdat die DA hard werk en nie korrup is nie; 30% het gesê dit is omdat die DA voordeel getrek het uit apartheid. Slegs 20% was van mening dat die DA nie die Wes-Kaap goed regeer nie.