Personeeltekorte, aappokke, wol, koraalriwwe en stambome

  • 0

Schiphol-lughawe (Foto: Werner Barendrecht)

Steeds lang toue op Schiphol

Reisigers moes Maandag opnuut ure lank by Schiphol-lughawe in toue staan weens ’n gebrek aan personeel. ’n Woordvoerder van die lughawe sê dié keer was dit te wyte aan ’n gebrek aan veiligheidspersoneel. “Het is ontzettend vervelend voor de reizigers. We doen er alles aan om lange rijen te voorkomen,” sê die woordvoerder aan die NOS.

Sommige reisigers het selfs hul vlugte verpas. Werner Barendrecht was op reis van Nederland na Portugal. Hy deel sy ervaring met ons.

Schiphol benadruk dat die meeste reisigers wel hul vlugte gehaal het.

Dit is egter nog onseker hoe besig die lughawe die volgende paar dae gaan wees.

KLM het op sy webwerf gewaarsku dat daar vir Maandag en Dinsdag langer wagtye verwag is en het reisigers die moontlikheid gebied om hul vlugte te herskeduleer.

Die woordvoerder van Schiphol sê die verwagting is dat die lughawe tot die somervakansie baie druk sal wees.

Openbare vervoer in België ly ook onder personeeltekort

VRT NWS berig die Belgiese treindiens die NMBS moes weens ’n gebrek aan personeel sy dienste inkort. Die besluit raak 10 treine tydens spitstyd soggens tussen Neerpelt en Brussel, Herentals en Antwerpen, en Lier en Herentals.

’n Woordvoerder van die NMBS, Dimitri Temmerman, sê: “We doen dit natuurlijk niet graag, maar het is noodzakelijk, ook voor de veiligheid van onze reizigers. Er kunnen geen treinen rijden als er geen treinbegeleiders zijn.”

Die NMBS kon nie sê tot wanneer die ingekorte diensrooster sal geld nie. Die spoordiens sê egter daar word ernstig gekyk na die werwing van nuwe personeel. “Dit jaar werven we 1 000 nieuwe mensen aan waaronder ook 260 treinbegeleiders, want daar hebben wen u een tekort aan. Meer dan de helft van de nieuwe treinbegeleiders is al in dienst genomen, maar die mensen zijn nog bezig met hun opleiding.”

Aappokke-infeksies kring verder uit

In België, waar die aappokke-infeksie die afgelope week vasgestel is, is tot dusver vier bevestigde gevalle aangemeld. Die besmette persone het almal vroeër vandeesmaand die Darklands-fetisjfees in Antwerpen bygewoon.

In Nederland is al ses gevalle bevestig. Die eerste geval is Vrydag aangemeld.

Hoewel die virus meestal in Afrika voorkom, is daar in die verlede al gevalle buite die kontinent aangemeld, berig VRT NWS. So was daar in 2003 gevalle in die VSA, in 2018 in die Verenigde Koninkryk en in 2019 in Singapoer. Die uitbrekings was nog altyd plaaslik van aard en die getal besmettings beperk.

Hans Kluge, direkteur Europa van die WGO, sê: “Het is zorgwekkend dat we zoveel gevallen zien buiten West- en Centraal-Afrika en dit is misschien maar het topje van de ijsberg.” Kluge sê wat die jongste uitbreking besonders maak, is dat die virus gewoonlik van diere na mense oorgedra word, maar in dié geval blyk dit tussen mense oorgedra te word.

Die WGO vermoed dat die virus in die komende weke verder sal versprei, maar volgens Kluge is dit geen rede tot paniek nie. “Ik wil beklemtonen dat het een milde ziekte is. We moeten wel opletten bij jongere kinderen en mensen met een verzwakt immuunsysteem.”

Mense wat die infeksie opdoen, is gewoonlik twee tot vier weke lank siek. Die vernaamste simptome wat die meeste mense kry, is koors, spierpyn en vermoeidheid, waarna bultjies op die vel ontstaan wat later in blasies verander. Mense bly besmetlik totdat die blasies verdroog en afgeval het.

Die munisipale gesondheidsdiens of GGD in Nederland het intussen ’n beroep op die publiek gedoen om as ’n voorsorgmaatreël drie weke lank in kwarantyn te gaan indien hulle met aappokke besmet raak.

Nederlandse skaapboere sukkel om van wol ontslae te raak

Nederlandse boere sukkel al hoe meer om van hul wol ontslae te raak. In die verlede was daar altyd nog êrens ’n koper vir die wol te vinde, maar dit raak al hoe moeiliker, tot so ’n mate dat dit binnekort op die vullishoop kan beland. Trouens, dit kos boere meer geld om hul skape te skeer as wat hulle vir die wol verdien. Die rede daarvoor is dat die klerasiebedryf al hoe minder wol nodig het.

Sommige boere probeer die wol bewaar in die hoop dat daar in die toekoms tog nog ’n mark voor sal wees. Dit kom egter met sy eie probleme, omdat wol byvoorbeeld nie nat of vuil mag word nie.

Nuwe hoop vir koraalriwwe

’n Maatskappy in Delft in Nederland het ’n kunsmatige rif ontwikkel wat geheel en al van biologies afbreekbare materiaal gemaak is. Die kunsriwwe bestaan uit boublokke wat op mekaar gestapel kan word waarin die koraal kan groei. Dit is broodnodig omdat koraal deur die opwarming van seetemperature en al hoe sterker storms bedreig word. Tot nog toe is kunsmatige riwwe van staal of plastiek gemaak, wat beteken dat daar altyd ’n mensgemaakte produk in die see agterbly. Hierdie kunsriwwe los egter met verloop van tyd op.

Belg ontdek hy’s familie van Beethoven

’n Belg uit Aarschot naby Leuven was stomgeslaan toe hy per ongeluk ontdek dat hy inderwaarheid ’n afstammeling van die Duitse komponis Ludwig von Beethoven is. Lode Mommaerts is al jare besig om sy familiestamboom op te teken. Groot was sy verbasing toe hy onlangs uit nuuskierigheid in sy stamboomprogram die naam van Ludwig von Beethoven intik en ontdek dat hy inderdaad familie is.

“Beethoven is een neef van mij,” sê Lode. “Zijn voorvader werd weduwnaar en is dan hertrouwd met mijn stamovergrootmoeder ergens in de jaren 1600.”

Dat daar ’n verband tussen Belge en Beethoven bestaan, is nie heeltemal toevallig nie. “De grootouders van Beethoven zijn afkomstig van Mechelen.”

  • 0
Top