Hiermee ’n vriendelike uitnodiging na ’n lesing deur Carina van der Walt oor die jongste ontwikkeling in Strijdom van der Merwe se kuns. Dit hou verband met die werk van die Nederlander Piet Mondriaan en vind neerslag in argitektuur.
- 12 April 2022, om 10:00 by NALN
- RSVP: annelien.naln@sacr.fs.gov.za
Stilspraak, Strijdom van der Merwe en landkuns deur Carina van der Walt is die eerste Afrikaanse populêr-wetenskaplike boek oor landkuns. Stilspraak is genomineer vir die kykNET-Rapport Boekprys 2021 in die afdeling nie-fiksie.
Prof. Dirk van den Berg skryf: “As ’n populêr-wetenskaplike kunsboek bied hierdie teks ’n gemaklike leesbare en ook lesenswaardige bekendstelling van die landkuns van Strijdom van der Merwe. Die wedersyds ondersteunende en beligtende verhouding tussen teks en foto’s, woord en beeld, is uitstekend.”
“Geen taal is haar sout werd as sy nie bereid is om haar grootste kunstenaars te eer nie. Strijdom van der Merwe is Afrikaans. Hy het groot geword op ’n plaas in die omgewing van Meyerton. Nie net is sy lewe van sy vroegste kindertyd vervleg met die Suid-Afrikaanse landskap nie, maar hy is ook Suid-Afrika se pionier op die gebied van landkuns. Alhoewel landkuns as genre nog relatief nuut is, is dit ’n kontemporêre en visuele kunsvorm wat al uit die 1960’s dateer. Van der Merwe beskik oor ’n poëtiese blik. Hierdie kwaliteit manifesteer in sy landkuns en word as tema uitgewerk. Sy oeuvre strek oor ’n tydperk van vier-en-twintig jaar en word in die publikasie merendeels beskryf en gekontekstualiseer.” – Aanhaling uit omslagteks.
- Besoek gerus Carina van der Walt se webblad: www.carinavanderwalt.com.
- Die geleentheid word in samewerking met die Vriende van NALN-vereniging aangebied.
- Covid-regulasies sal geld.
- Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) is geleë op die h/v Pres. Brand- en Miriam Makebastraat, Bloemfontein.
- Kontak NALN: naln@sacr.fs.gov.za of skakel 072 260 7117 (Kurator: Wyno Simes)
- Vriende van NALN se Facebookblad is beskikbaar by die volgende skakel: https://www.facebook.com/vriendevannaln?fref=ts.
- Parkering is beskikbaar via die hoofhek in President Brandstraat.