Ongeveer 23% van Suid-Afrikaners sukkel om toegang tot voldoende kos te kry. ’n Landwye petisie wat na 100 000 handtekeninge streef, is geloods om druk op die regering te plaas om op te tree teen stygende voedselpryse en honger.
’n Onlangse verslag deur die Socio-Economic Rights Institute of South Africa (SERI) belig die nypende uitdagings wat baie Suid-Afrikaners in die gesig staar om toegang tot bekostigbare en voedsame kos te kry. Veral kwesbare gemeenskappe word hard getref.
Die verslag, met die titel Food for thought: Reflections on food (in)security. Laws, experiences, interventions, is die afgelope week bekendgestel.
SERI se verslag het lig gewerp op die krisis wat duisende arm huishoudings daagliks in die gesig staar om kos in die hande te kry. Die navorsing, wat fokus op informele nedersettings in Gauteng en die Wes-Kaap, skets ’n skokkende prentjie van hoe voedselonsekerheid ’n daaglikse werklkheid vir baie Suid-Afrikaners is en hoe die regering nie daarin slaag om te help nie.
Volgens die verslag het die meeste mense nie toegang tot bekostigbare, voedsame kos nie. Daar’s min of geen supermarkte in hul omgewing nie, en privaat kleinhandel is dikwels hul enigste opsie, maar teen pryse wat hulle eenvoudig nie kan bekostig nie. Dienste soos water, elektrisiteit en sanitasie is beperk, wat dit selfs moeiliker maak om kos behoorlik te stoor of voor te berei.
Een inwoner van ’n nedersetting in Kaapstad het dit só gestel: “Soms eet ons net pap vir drie dae, en dan niks nie.”
Interessant genoeg wys die verslag dat baie mense kreatiewe maniere gebruik om kos te bekom deur tuine, stokvels of kosdeelinisiatiewe. Maar hierdie plaaslike pogings kry min ondersteuning van die staat. Staatsprogramme soos Sassa en voedselhulp is óf ontoeganklik óf oneffektief. Mense voel eenvoudig uitgesluit.
Die petisie om die voedselkrisis aan te pak is geloods deur burgerlike organisasies en aktiviste wat bekommerd is oor die stygende koste van basiese voedselitems.
🚨 A nationwide petition in South Africa calls for action against rising food prices, aiming for 100,000 signatures to combat hunger and malnutrition. 📉🍽️
Read more: https://t.co/Zi1IXr1DHK#FoodPrices #SouthAfrica #HungerCrisis #Petition #NutritionMatters pic.twitter.com/JDW0zUOlG0— The Mercury™ (@TheMercurySA) June 3, 2025
Die voedselkrisis raak nie net huishoudings nie, maar het ook breër sosiale en ekonomiese implikasies, insluitend verhoogde ongelykheid en sosiale onrus.
Die petisie beklemtoon die impak op kinders, met statistieke wat toon dat 60% van alle kinders onder die broodlyn leef en dat wanvoeding tot langtermyngesondheidsprobleme lei.
Kinders is veral kwesbaar, met 2,1 miljoen kinders in huishoudings wat nie genoeg kos het nie. Een uit tien kinders gaan honger slaap, met KwaZulu-Natal en Gauteng as die provinsies wat die ergste geraak word.
In 2019 is geraam dat 17,3% van Suid-Afrikaners onder matige tot ernstige voedselonsekerheid ly, met 7% wat ernstige voedselonsekerheid ervaar. Die situasie het teen 2020 vererger, met byna een uit vyf mense wat voedselonsekerheid ondervind.
Tot op hede is daar geen aanduiding van ’n direkte reaksie van die regering op hierdie spesifieke petisie nie, maar die druk vanuit burgerlike organisasies en die media kan moontlik tot aksie lei.
Die sukses van die petisie hang daarvan af of dit die beoogde aantal handtekeninge kan bereik en of dit tot konkrete beleidsveranderinge kan lei. Histories het petisies, soos dié deur AfriForum oor die waterkrisis in 2015, getoon dat sulke inisiatiewe aandag kan trek, maar nie altyd onmiddellike resultate lewer nie.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet waarborg die reg op toegang tot voldoende voedsel, maar kritici, insluitend die petisie se ondersteuners, argumenteer dat die regering nie genoeg doen om hierdie reg te verwesenlik nie.
Organisasies soos Food Forward SA beklemtoon dat daar geen subsidies of aansporings is om voedsel goedkoper te maak vir verbruikers of om kleinboere te ondersteun nie.
Suid-Afrika is selfvoorsienend wat voedselproduksie betref, maar armoede en ongelykheid verhoed dat baie mense toegang tot hierdie voedsel kry. Dit staan bekend as die voedselparadoks: Ten spyte van genoeg voedsel, ly miljoene honger weens ekonomiese beperkings.