Suid-Afrikaners sal van November minder vir petrol en diesel hoef op te dok, maar nie soveel minder soos wat daar aanvanklik gehoop is nie.
Die minister van minerale hulpbronne en energie, Gwede Mantashe, het die aanpassing van die pryse Maandag in ’n verklaring aangekondig.
Suid-Afrika se brandstofpryse word maandeliks aangepas, op grond van internasionale en plaaslike faktore. Internasionale faktore sluit in die feit dat Suid-Afrika beide ruolie en voltooide produkte invoer teen ’n prys wat op internasionale vlak vasgestel word, en dan ook invoerkoste, byvoorbeeld die verskepingskoste.
Dit sal die eerste daling in brandstofpryse wees nadat verbruikers vier agtereenvolgende maande die knyp gevoel het van duurder brandstof.
Ongelukkig moet die brandstofheffing ook in November verhoog word. Dit bring mee dat petrol met minder as twee rand per liter goedkoper word en diesel met minder as een rand per liter.
Die November-pryse sal na verwagting die druk van verbruikers verlig, met dieselpryse wat ’n groot insetkoste vir die landbou- en mynboubedrywe bly.
’n Woordvoerder van die departement van minerale bronne en energie, Robert Maake, het gesê paraffien sal ook minder kos wanneer die veranderinge Woensdag in werking tree.
Die hoofredes vir die prysaanpassings is ’n daling in die gemiddelde Brent-ruolieprys van $91,86 na $88,72.
Dit was hoofsaaklik as gevolg van die styging in die globale ruolievoorraad weens verhoogde produksie van nie-Opul-produsente. Die opheffing van sanksies teen Venezuela deur die VSA het ook ’n positiewe invloed op die aanbod gehad.
Verder het die lae impak van die Israel-Hamas-konflik volgens Mantashe se verklaring ook ’n rol gespeel, aangesien dit nog nie die vloei van ruolie beïnvloed het nie, al vind die oorlog in die olieryke Midde-Ooste plaas.
Die gemiddelde internasionale pryse van petrol (207,06 sent per liter laer), diesel (115,15 c/l laer) en paraffien (105,18 c/l jaer) het die dalende tendens van ruolie gevolg, terwyl die prys van gas toegeneem het omdat verbruikers bereid was om meer vir propaan- en butaangas gedurende die oorsigtydperk te betaal.
Die rand het gemiddeld effens verswak teenoor die Amerikaanse dollar (van R19 tot R19,08) gedurende die oorsigtydperk in vergelyking met die vorige oorsigtydperk. Dit het weer tot relatiewe stygings gelei in wat ons vir petrol (6,34 c/l hoër), diesel (7,57 c/l) en paraffien (7,61 c/l) betaal.
Mantashe sê die kumulatiewe balans op petrol en diesel aan die einde van September was ’n negatiewe saldo van R6,2 miljard. Daarom sal die balansfondsheffing met 21,92 c/l tot 52,62 c/l styg. Dit sal met ingang 1 November 2023 in die prysstruktuur van petrol en diesel geïmplementeer word.
Gebaseer op huidige plaaslike en internasionale faktore, sal die brandstofpryse vir November 2023 soos volg aangepas word:
- Petrol (beide 93 en 95 ULP en LRP) sal met R1,78 c/l daal.
- Diesel (0,05% swael) sal met 85 c/l afneem.
- Diesel (0,005% swael) sal met 82,09 c/l afneem.
- Paraffien (groothandel) daal met 97 c/l liter.
Alhoewel November se brandstofprysdalings ’n welkome verligting is, bly die Automobiel- Assosiasie (AA) bekommerd oor die impak van pryse wat steeds histories hoog is ná die prysstygings wat vanjaar geïmplementeer is.
"’n Volhoubare oplossing om stygende brandstofkoste te versag is steeds nodig, en totdat daardie oplossing gevind word, sal Suid-Afrikaners aan die genade van brandstofprysverhogings oorgelewer wees," het die vereniging gesê.