Petrolprysdaling kon byna ses keer meer gewees het, sê DA

  • 0

Terwyl die laer brandstofpryse wat Woensdag in werking tree, allerweë verwelkom word, meen opposisiepartye die regering kan baie meer doen om vuisvoos Suid-Afrikaanse motoriste tegemoet te kom.

Die Departement van Energie en Minerale Hulpbronne het die afgelope naweek bevestig die prys van 95- en 93-oktaan-petrol daal Woensdag met R1,32 per liter.

Die DA sê egter as dit nie vir die buitensporige heffings was wat Suid-Afrikaners vir elke liter petrol moet opdok nie, kon die daling meer as R6 per liter gewees het.

Versoeke om deregulering van die mark vir petrol het ook al uit verskeie oorde opgeklink, met die verstandhouding dat groter mededinging laer pryse tot gevolg moet hê.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het verlede maand in ’n verklaring gesê ondanks die daling is brandstofpryse in Suid-Afrika steeds hoog en die vorige stygings sal steeds die ekonomie in die komende maande beïnvloed.

“Verlagings bied onmiddellike verligting, maar die verhogings syfer mettertyd in die ekonomie in, veral omdat daardie sektore wat daardeur geraak word, nie onmiddellik hul pryse afwaarts aanpas nie, maar eerder wag vir meer konsekwente brandstofbesnoeiings wat hul insetkoste verlaag. Ons staan ​​by ons oproep dat ’n hersiening van die brandstofprysstruktuur, en ’n oudit van die komponente waaruit die brandstofprys bestaan, noodsaaklik is en lankal gedoen moes gewees het om volhoubare oplossings te bied teen die stygende brandstofkoste,” sê die AA.

Die enigste aankondiging rondom die brandstofprys wat die ANC-regering dié week moes gemaak het, is volgens die DA om dit met meer as R6 per liter te verminder deur die buitensporige heffings en belasting op brandstof te beëindig.

Die DA se skaduminister van energie, Kevin Mileham, sê in ’n verklaring die ANC-regering gaan egter voort om brandstofpryse kunsmatig hoog by die pompe te hou deur brandstofbelasting, heffings en ’n sentraalbeheerde brandstofprys.

Mileham sê die verregaande hoë brandstofpryse sal nie verlig word deur klein dalings na gelang van die globale olieprys maand vir maand nie, maar slegs deur substansiële, berekende en fundamentele veranderinge aan die manier waaro[ die regering die brandstofprys beheer.

Die Vryheidsfront Plus se woordvoerder oor energiesake, Wynand Boshoff, sê daar is tydens die afgelope maande verskeie voorstelle gemaak om prysstygings in toom te hou. Hy sê in ’n verklaring hoewel die prys nie ten volle binne die regering se beheer is nie, het die regering ’n groot invloed daarop.

Die grootste deel van die petrolprys is die basiese prys (tans bykans R16,90). Dit is hoofsaaklik op die waarde van die rand teenoor die Amerikaanse dollar, sowel as die internasionale prys vir Brent-ruolie gegrond. Dit is ook die deel wat van maand tot maand wissel.

Boshoff sê deregulering is ’n goeie opsie in ’n betreklik vrye mark. In Suid-Afrika is daar egter min ondernemings met die vermoë om brandstof in te voer en te berg en slegs een raffinadery. Hierdie ondernemings het ’n oorheersende posisie teenoor groot- en kleinhandelaars, wat beteken dat deregulering die kwesbare deel van die waardeketting nog meer kwesbaar sal maak.

Die sowat 60 000 brandstofjoggies kan as gevolg daarvan nuwe werk soek.

Die VF Plus het al tevore ook standpunt oor die brandstofheffing en die padongeluksfonds se heffing ingeneem. Die grootste invloed wat die regering kan hê, lê egter op ’n heel ander vlak, sê Boshoff, naamlik die waarde van die land se geldeenheid.

Hoe laer die waarde van die rand is, hoe duurder kos brandstof vir Suid-Afrikaners. Laer ruoliepryse kan tot voordeel van Suid-Afrika wees slegs as dit nie met verlaagde waarde van die rand gepaard gaan nie. Wanneer ’n mens in ag neem dat die waarde van ’n land se geldeenheid ’n barometer vir internasionale vertroue in die ekonomie is, is dit duidelik watter verskil die regering werklik kan maak, sê Boshoff.

“Ekonomiese beleid wat vertroue skep, arbeidsbeleid wat tot werkskepping lei, stabiliteit wat die land uit rommelstatus lig, en die afskaffing van transformasiegedrewe inmenging in die ekonomie kan die rand se waarde herstel.”

Boshoff  sê op dié manier kan alle Suid-Afrikaners die voordeel van laer brandstofpryse geniet sonder dat party hulle werk moet prysgee of selfs besighede moet sluit.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top