Petrolskok wag in Junie op SA motoriste

  • 0

Suid-Afrikaanse motoriste moet hulle voorberei op ’n massiewe styging in die prys van petrol wanneer die nuwe brandstofpryse die einde van die maand aangekondig word.

Verlede maand se prysverligting vir petrolvoertuigeienaars, toe die prys van ’n liter petrol met 12c per liter gedaal het, was van korte duur en slegs ’n tydelike toegewing. Dit was te danke aan die regering se ingryping om ’n drastiese styging wat toe reeds in werking moes tree, te versag.

Ontleders en ekonome waarsku Suid-Afrikaanse motoriste om gereed te maak vir ’n skerp styging in brandstofpryse in Junie, wanneer die regering se algemene brandstofheffing-ingryping na verwagting tot ’n einde kom.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het in Maart gesê die gebruik van die land se reserwes het dit toegelaat om die algemene brandstofheffing wat by die basiese brandstofprys ingesluit is, met R1,50/liter vir die tydperk 6 April tot 31 Mei te verminder. Dit was egter slegs ’n tydelike maatreël.

Wanneer die petrolprys vir Junie vasgestel word, sal die R1,50-belastingverligting weer by die geraamde koste gevoeg word. Dit beteken dat motoriste van volgende maand ’n styging in die prys van petrol van soveel as R3 per liter of selfs meer kan verwag .

Dieselvoertuigeienaars moes verlede maand reeds vrede maak met die prysskok toe die prys van diesel skerp gestyg het terwyl die prys van petrol effens gedaal het.

Beide petrol en diesel word met ruolie geproduseer, maar petrol word nie op dieselfde manier beïnvloed nie, aangesien die produksieproses anders is as dié van diesel en die vraag na petrol nie ten volle teruggekeer het na prepandemievlakke nie.

Die nuuswebwerf Buisiness Tech berig ook dat motoriste moet aanvaar dat die R1,50-heffing volgende maand weer by die algehele prys van petrol gevoeg sal word wat motoriste by die pomp moet betaal.

Daar word algemeen aanvaar dat die mark nie die opbrengs van die R1,50-heffing sal kan absorbeer nie tensy die rand- en olieprysneigings heeltemal omkeer en ’n oorverhaling veroorsaak, wat in dié stadium hoogs onwaarskynlik lyk.

Die jongste data van die Sentrale Energiefonds (SEF) – die sleutelinstelling wat die petrolprys reguleer – het volgens Business Tech  reeds die waarde van petrol en diesel op koers vir ’n styging van net minder as R2 per liter.

Wanneer die algemene brandstofheffingopskorting, wat slegs tot die einde van die maand geld, in ag geneem word saam met die wisselvalligheid van verskeie internasionale markte wat die prys van olie weer tot rekordhoogtes kan laat styg, voorspel dit niks goed vir motoriste nie.

Die treurige prestasie van die rand teenoor groot geldeenhede soos die Amerikaanse dollar beteken dat Suid-Afrikaners van volgende maand af meer as R25 vir ’n liter petrol in die binneland kan betaal.

Die ekonoom Heinrich Bohlmann het die afgelope week gewaarsku dat Suid-Afrikaners ook in Junie ’n aansienlike petrolprysverhoging te wagte kan wees.

Hy het tydens die vierde jaarlikse Academy of Sciences Business Leadership Forum in Pretoria gesê die oorlog in Oekraïne het ’n ernstige uitwerking op die olieprys en Suid-Afrika se ekonomie gehad.

In Maart het die wêreldprys van Brent-ruolie tot 14-jaar-hoogtepunte van $139 per vat gestyg nadat die VSA en sy Europese eweknieë gedreig het om sanksies teen Rusland in te stel ná Moskou se inval in Oekraïne. Rusland is die wêreld se derde grootste olieverskaffer.

As mens die huidige petrolprys neem en die nuwe skattings byvoeg, dan kan daar gesien word presies hoe verwoestend die skade in Junie volgens ontleders kan wees. Hier is die voorspelde petrol- en dieselpryse wat moontlik oor ’n paar weke in werking kan tree:

Kusstreke

  • Graad 93-petrol: R24,11
  • Graad 95-petrol: R24,40
  • Diesel, groothandel: R24,83

Binnelandse streke

  • Graad 93-petrol: R24,76
  • Graad 95-petrol: R25,15
  • Diesel, groothandel: R25,45
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top