Phala Phala-dollars in Ramaphosa se rusbank na bewering "vuil" geld

  • 0

Die Phala Phala-dollars wat in die rusbank op Cyril Ramaphosa se wildplaas gesteel is, is na bewering nooit by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verklaar toe dit die land binnegekom het nie.

Die Phala Phala-spook wat Ramaphosa die afgelope maande agtervolg, het Maandag nuwe lewe gekry. Die SAID het bevestig dat hulle geen rekords het van die $580 000 wat aan Ramaphosa se Phala Phala-plaas betaal is nie.

Die ongeveer R10 miljoen se dollars wat in die bank op sy plaas versteek was toe dit gesteel is, was dus volgens die DA “vuil” geld gewees.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het Maandag onthul dat die geld na bewering nooit by die SAID verklaar is toe dit Suid-Afrika binnegekom het nie.

Die DA sê in ’n verklaring hulle het dié inligting direk van die SAID gekry na aanleiding van ’n versoek wat ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien is.

Teen die einde van verlede jaar het Ramaphosa beweer dat hy $580 000 van ene Hazim Mustafa, ’n Soedannese burger, ontvang het as betaling vir ’n wettige saketransaksie.

Op sy beurt het Mustafa in ’n media-onderhoud beweer dat hy voldoen het aan die vereiste om die geld by SAID-amptenare by OR Tambo-lughawe te verklaar met sy binnekoms in Suid-Afrika.

Die SAID se doeanebeleid oor oortollige valuta bepaal dat “elke persoon buitelandse valuta moet verklaar” met aankoms in die land. Versuim om aan hierdie bepaling te voldoen is ’n oortreding wat tot die kriminele vervolging kan lei van die persoon wat dit begaan.

Steenhuisen het op 7 Desember 2022 ’n PAIA-versoek by die SAID ingedien om die relevante valutaverklaringsvorms te bekom wat deur Mustafa ingedien sou gewees het waarin hy die $580 000 verklaar.

Die DA sê hulle het die SAID se reaksie Maandagoggend ontvang, en dat die inkomstediens bevestig het dat daar nie so ’n rekord bestaan en/of nie gevind kan word nie.

Dit is vergesel van ’n beëdigde verklaring van Siyabonga Nkabinde, ’n regspesialis in die SAID se afdeling vir korporatiewe regsdienste.

Steenhuisen sê die reaksie deur die SAID beteken dat hulle nou weet dat “die President van Suid-Afrika vuil dollars wat die land onwettig binnegekom het”, in ’n rusbank op sy wildplaas versteek het.

“Dit maak Ramaphosa se bewering dat hierdie fondse bloot die opbrengs van ’n saketransaksie was, onmoontlik om te glo, omdat wettige saketransaksies gewoonlik nie vir die SAID in ’n rusbank weggesteek word nie,” het Steenhuisen gesê.

Steenhuisen sê dit lyk nou meer waarskynlik as ooit tevore dat Ramaphosa dalk in besit was van hierdie vuil dollars vir ’n korrupte, onwettige of kriminele doel.

Volgens die DA-leier versterk die inligting ook die bevindinge van die artikel 89-paneel se verslag dat daar prima facie-bewyse bestaan ​​dat Ramaphosa moontlik die Grondwet, die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite, asook sy ampseed oortree het.

Die ANC het verlede jaar sy meerderheid in die Nasionale Vergadering gebruik om die paneel se verslag te verwerp en Ramaphosa het belowe om dit in die hof om te keer.

Die Konstitusionele Hof het hom egter verlede week direkte toegang geweier om die paneel se bevindings te betwis.

Steenhuisen sê indien Ramaphosa hom tot ’n ander hof wend in sy “desperate poging” om aanspreeklikheid te vermy vir sy besit van beweerde vuil dollars en die daaropvolgende toesmeer van die diefstal by Phala Phala, die DA hierdie nuwe inligting van die SAID sal gebruik as bewys dat die paneel se verslag moet bly staan.

Hy sê die DA sal ook hierdie inligting aan die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, voorlê as nog ’n rede waarom sy moet instem tot die DA se versoek vir die dringende samestelling van ’n ad hoc-komitee om die waarheid agter die President se sogenaamde vuil dollars volledig bloot te lê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top