Piepklein party kraai koning in verskeie munisipaliteite

  • 0

’n Piepklein hoofsaaklik bruin politieke party in Suid-Afrika, die Patriotic Alliance (PA), waarvan baie mense nog skaars gehoor het en wat tydens die afgelope munisipale verkiesing minder as een persent steun op nasionale vlak kon kry, is een van die koningmakers in verskeie munisipaliteite waar geen party ’n volstrekte meerderheid kon behaal nie.

Die PA het reeds hulle eerste burgemeester in Laingsburg tot die amp verkies gekry en hoop om nog verskeie burgemeestersposte en ander uitvoerende poste op burgemeesterskomitees landwyd in te palm.

Mitchell Smith van die PA was Maandag die eerste lid van die party wat op ’n raadsvergadering van die Laingsburg-munisipaliteit tot burgemeester van die dorp verkies is na ’n koalisieooreenkoms met die ANC.

Die party hoop om met die ANC se hulp nog minstens vyf van sy lede as burgemeesters verkies te kry, een as adjunkburgemeester en 13 lede van burgermeesterskomitees in munisipaliteite waar die PA as koningmakers optree.

Die party se leier, Gayton McKenzie, noem dit die grootste magsdeelooreenkoms wat nog in die geskiedenis van Suid-Afrika bestaan ​​het.

McKenzie is ’n voormalige veroordeelde misdadiger, bankrower, gangster, sakeman, motiveringspreker, skrywer en nou president van die PA. Hy het in die vroeë 2000's bekendheid verwerf vir ’n video wat hy in die tronk gemaak het oor die korrupsie daar wat uiteindelik gelei het tot sy vroeë vrylating te midde van ’n ondersoek na gevangeniskorrupsie deur die Jali-kommissie van ondersoek.

McKenzie se party, wat hulle hoofsaaklik vir bruin belange beywer, sê hulle wil die vloek in hulle gemeenskappe verbreek. “Hoekom moet die bruin man altyd tweede kom?”

Hy het in ’n onderhoud met Newzroom Afrika gesê terwyl koalisiegesprekke voortduur in munisipaliteite waar daar nie ’n volstrekte meerderheid behaal is nie, sal die PA op hulle eie voorwaardes onderhandel. Hy sê selfs die Vryheidsfront Plus het voelers na sy party uitgesteek.

Volgens McKenzie sal die PA ingevolge die magsdelingsooreenkoms met die ANC die munisipaliteit van Karoo Hoogland volledig bestuur. Dit sluit dorpe soos Fraserburg en Sutherland in.

"Ons het baklei tussen Hantam- en Karoo Hoogland-munisipaliteite. Ons het toe voorgestel dat die ANC Hantam beheer en ons het gesê ons sal saam met jou stem en nie inmeng nie, maar gee dan vir die PA hul eie munisipaliteit (Karoo Hoogland) sodat ons kan doen wat ons aan ons mense belowe het ons sal doen."

Hy sê ander mense kan nie meer blameer word as daar nie werk is nie.

“Ons kan nie meer mense blameer as daar nie huise is nie.

"Ons gaan skole bou vir ons mense en klinieke bou. Ons het nou die mag. Ons gaan ons mense opbou. Gaan begin jou maatskappy, kry jou papiere reg, want daar is slaggate wat gevul moet word.”

Volgens McKenzie is van die posisies wat die PA reeds beklink het, of hoop om te beklink:

  • Beaufort-Wes-munisipaliteit – burgemeester
  • Laingsburg-munisipaliteit – burgemeester
  • Prince Albert plaaslike munisipaliteit – onderburgemeester
  • Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit – onderburgemeester
  • Bitou-munisipaliteit – burgemeester
  • Theewaterskloof plaaslike munisipaliteit – burgemeester
  • Koukamma plaaslike munisipaliteit – burgemeester
  • Witzenbern plaaslike munisipaliteit – speaker
  • Ekurhuleni – uitvoerende komiteelid van behuising
  • Stad Johannesburg – twee uitvoerende-komitee-posisies.

Sy party was aanvanklik ook deel van samesprekings met die DA, ActionSA, die Vryheidsfront Plus en ander kleiner partye om koalisie-ooreenkomste te bereik, maar het uitgestap toe hulle nie die posisies kon kry waarop hulle aangedring het nie en met die ANC onderhandel.

Volgens hom was die gesprekke tussen die DA en ander partye uiters warm en was daar veral min liefde te bespeur tussen Helen Zille van die DA en Herman Mashaba van ActionSA, van veral Zille se kant. Hy sê tydens die vergadering het Mashaba oorgestap na Zille om haar met die hand te groet, maar sy het geweier om hom terug te groet.

"Ons het met DA vergader voordat ons met die ANC gepraat het, maar die DA wou nie vir ons gee wat ons wou hê nie. Ons het by Ramaphosa se ANC gesit en daar het ons mekaar gevind. Dit was nie maklik nie maar ek salueer mense soos Thoko Didiza, Jessie Duarte en Paul Mashatile. Ons het mekaar in 95% van die besprekings gevind. Dit is die grootste magsdelingsooreenkoms in die geskiedenis van SA," het McKenzie gesê.

Die PA het sy eerste verkose verteenwoordigers in die 2016 munisipale verkiesing gekry. Hoewel die party toe net 0,06% van die nasionale stemme gekry het, het hulle ook setels in die metropolitaanse munisipaliteite van Kaapstad, Nelson Mandelabaai, Johannesburg en Ekurhuleni gekry.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top