Op 11 Februarie 2021 is die Johan Combrink-gedenklesing langs die wynkelder van die plaas Bethlehem op Kylemore aangebied. Quinton Adams was die gasspreker. Die Vriende van Afrikaans (VVA), ’n divisie van die ATKV, bied elke jaar die Johan Combrink-gedenklesing aan ter nagedagtenis van dié bekende taalkundige, wat ook ’n stigterslid van die VVA was.
Dominique Enthoven, beter bekend aan Afrikaanse lesers as Dominique Botha, skrywer van die bekroonde roman Valsrivier, het die aand se verrigtinge geopen. Sy en haar man, Adi, besit die plaas. Die foto’s toon die bestaande geboue op Bethlehem. Pierre Simond se woning bestaan nie meer nie.
Enthoven het haar toespraak aan Voertaal beskikbaar gestel.
Liewe Vriende
Dit is vir my ’n groot voorreg om julle vanaand op ons plaas, Bethlehem, te verwelkom.
Die Dwarsriviervallei is bybelse wêreld met ’n storieryke atmosfeer wat jy begin inadem sodra jy oor die kruin van die pas afsink in hierdie paradys van berge. Waarlik die aangesig van God, soos Pniel in Hebreeus beteken.
Hier is genoeg verhale vir ’n duisend en een nagte, en miskien sal iemand nog werk daarvan maak in ’n boek, maar ek wil julle graag vertel hoekom vanaand se gedenklesing veral in pas is met die geskiedenis van Bethlehem.
Indien julle ’n glas wyn vanaand lig, is dit te danke aan die Franse vlugtelinge wat ongeveer 350 jaar gelede in die nat en koue lente van 1688 skuiling kom soek het in die Boland. Die vlugtelinge was geloofvaste mense wat vervolging, marteling, die brandstapel, die Atlantiese Oseaan, olifante, klipperige grond, Februaries so warm soos die Anderplek, om nie eers die Suidooster te noem nie, moes trotseer om uiteindelik in hierdie pragtige vallei weer te begin. En vandag baat ons as afstammelinge en mede-Suid-Afrikaners steeds uit die wynboukennis en wynstokkies in lappe toegedraai wat hulle saamgedra het in hul bannelingskap.
Die leier van die vlugtelinge, Pierre Simond, beskou as die herder en verlosser van sy getraumatiseerde gemeente, was die heel eerste eienaar van hierdie plaas, wat hy met die Bybelse naam Bethlehem gedoop het.
Ons onthou (of geheelonthou) so min of meer almal van die wyn, maar ons het grotendeels vergeet van die woord. En daarmee bedoel ek die literêre bydra van Pierre Simond, want 350 jaar gelede het hy op hierdie plaas die heel eerste boek in Suid-Afrika geskryf.
Die merkwaardige ds Simond het homself nie net as leier en besigheidsman bekwaam nie, maar ook as skrywer. Sy lewe in die Kaap was nie maklik nie. Onstuimige verhoudings met die bekende Van der Stels, asook moeilike Hugenote, het sy lewe versuur. Misien het Simond toevlug geneem in sy afgeleë vesting tussen die majestueuse Drakensteinberge en vrede gevind in sy poging om die psalms van Dawid te herberym. Hy het ook sy droom kon bewaarheid en in 1704 is Les Veilles Afriquaines in Amsterdam uitgegee.
Die bestaan van sy boek is wel opgeskryf in die argief, maar daarna verdwyn dit soos ’n speld. Vir meer as 200 jaar is daar bespiegel of die boek werklik bestaan. Het Pierre Simond inderdaad die eerste literêre werk in Suid-Afrika geskep soos aan hom toegeskryf is?
’n Antwoord op hierdie vraag het eers in die 1990’s moontlik geword. Toe die Koue Oorlog eensklaps tot ’n einde kom en Suid-Afrika se binnemure van verdeling ook val, was daar skielik weer belangstelling in die soektog na die psalms van Pierre Simond. ’n Span van vyf navorsers het die biblioteke van Europa noukeurig gefynkam en na ’n lang soektog ’n kopie van die lang verlore Les Veilles Afriquaines in die Nasionale Biblioteek van Rusland in Sint Petersburg opgespoor.
Navorsing het getoon dat die biblioteek in Sint Petersburg die kopie op ’n onortodokse manier bekom het. Dit het oorspronklik behoort aan ’n bekende Poolse biskop, Zaluski, wat ’n groot aantal religieuse tekste in die 1700’s versamel het, waaronder Pierre se psalter. Weens die heen-en-weer-rampokkery so kenmerkend van daardie wêrelddeel is buit gereeld oor die verskuiwende grense gedra. Rusland is egter in 1920 genoodsaak om die helfte van die Zaluski-versameling weer aan Pole terug te besorg. En toe verbrand die versameling in Warskou tydens die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog. Die enigste oorblywende kopie van Les Veilles Afriquaines, oftewel “Nagwake uit Afrika”, het gelukkig in Sint Petersburg bewaar gebly.
Nagwake uit Afrika het ’n dus sonderlinge reis gehad, vanaf die Banghoekberge aan die suidpunt van Afrika in 1699, via Nederland, Warskou, en uiteindelik Sint Petersburg in Rusland, waar dit eers weer in 1997 weer opgeduik het – 297 jaar na publikasie.
Ek wil graag hê dat ons vanaand ’n glas lig op Pierre Simond, onder dieselfde Afrika-maan en -sterre wat sy skrywes belig het, en voorstel dat vanaand se geleentheid die inhuldiging mag wees van hierdie ruimte as ’n plek vir skrywers, lesers, ’n plek van onthou, ’n ruimte vir drome en herberymings.
Dankie aan die ATKV, aan Quinton Adams, en aan my mededromers Chareldene van der Merwe en William Keet.
- Fotografie: Izak de Vries
Lees ook op LitNet:
Die Johan Combrink-gedenklesing: Maak vir elke kind lees die fokuspunt!