Piet Botha wou graag nog rock & roll

  • 0

Musikante, aanhangers en vriende van die immer geliefde Afrikaanse blues- en rockmusikant Piet Botha is verslae oor sy dood.

Huldeblyke stroom sedert sy dood die afgelope Sondag onophoudelik van heinde en ver in. Botha was die afgelope paar maande siek nadat pankreaskanker sowat drie maande gelede by hom gediagnoseer is. Tog het sy dood die meeste van sy vriende en aanhangers onkant gevang.

Karin Zoid, Anton Goosen, Valiant Swart, Riku Lätti en verskeie ander wat almal goed bevriend was met Botha, het hulle hartseer oor sy dood op sosiale media uitgestort.

Piet Botha (Foto’s: YouTube)

“Al wat ek kan sê is ons mis jou al klaar, dankie vir jou vriendskap, leierskap, liefde, jou mooi musiek. Wat ’n voorreg om saam met jou paadjies te kon stap, musiek te maak, krieket te speel, lag en lewe,” het Riku Lätti van die Wasgoedyn op sy Facebookmuur geskryf.

“Ek sou verkies om net nog ’n jaar saam met jou musikaal te kon reis,” skryf Lätti by ’n foto van hom en Botha waar hulle saam musiek maak.

Botha en Lätti het albei in die Strand gewoon en dikwels oor en weer by mekaar gekuier. ’n Video van die Wasgoedlyn waarin Botha sy bekende “Begrafnislied” sing en wat in die Strand opgeneem is, is ook deur Lätti en verskeie ander van Botha se vriende en aanhangers op sosiale media gedeel.

Karin Zoid het ’n roerende huldeblyk op haar Facebookbad oor Botha geskryf:

Ek sit en staar na jou naam en nommer op my foon. Daar is net een Piet. Nog altyd. ’n Sagte man met ’n harde baard. Nederige survivor. Hellbent rock & roller. ’n Skim, maar geen skelm. Gebore met die helm.

Die verlore seun wat aanhou loop het, het homself gevind op ’n plank in die see of met ’n stukkie hout en ses snare op die verhoog of sitkamer. Salig tussen sy kinders en sy vriende. Salig voor ’n klavier. ’n Woordenaar in murg en been.

Jy breek weer ons harte met jou special, special ways.

Ek soek na jou vlymskerp gevoel in jou songs vanaand. Jy was maar altyd net jouself en dit was ’n voorreg om te kon aanskou. Die einde van jou lewe is so ’n groot verlies wat rippel deur ons harte van oral oor die plek.

Baie liefde en sterkte vanaand aan almal wat Piet lief gehad het. My hart gaan veral uit na Jessica, Robin, Mike en Die Akkedisse maar ook aan al die vriende en familie in Piet se alomteenwoordige musikale wêreld. Hy het ’n manier gehad om mense bymekaar te bring. Die Here vat altyd die niceste mense vir Homself. No fair.

Goeienag Generaal. Ek sal jou kindness nooit ooit vergeet nie. Sien jou weer. X

Skaars ’n maand gelede het Botha in ’n openhartige onderhoud met die joernalis Hanlie Retief wat in Rapport verskyn het, gesê: “Ek het altyd gedog eendag sal my chops my inhaal, ek het net nie gedink dit sal so gou wees nie. Wat sal ’n ou nie gee vir nog vyf jaar of tien nie.”

Botha het ’n groot begeerte gehad om verlede maand nog na die Strab-musiekfees in Mosambiek te gaan waar hy sou optree. Die kanker het toe reeds verder versprei en hy moes sy planne laat vaar.

Hy sou ook volgende maand deelneem aan die Bands for Bricks-konsert ten bate van die Beeld-kinderfonds en SA Cares for Life.

Botha was die seun van die bekende Suid-Afrikaanse oudpolitikus Pik Botha wat op 12 Oktober verlede jaar oorlede is. Hy word oorleef deur sy dogters Jessica, Robynne, en Piya, sy broer Roelof Botha en susters Lien Botha en Anna Hertzog.

’n Dokumentêre film oor Botha se rock & roll-lewe word later vanjaar uitgereik.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top