Pik Botha was nie bang om dood te gaan nie

  • 0

Een van Suid-Afrika se kleurrykste politici tydens die apartheidsjare, Pik Botha, is op 86-jarige ouderdom by sy huis in Pretoria oorlede nadat hy die afgelope tyd vir hart- en longprobleme behandel is.

Tydens een van sy laaste openbare optredes vroeër vanjaar by die Woordfees in Stellenbosch het Botha aan die gehoor gesê hy is nie bang om dood te gaan nie.

Die geleentheid was ter ere van die land se eerste demokraties verkose president, Nelson Mandela, wat vanjaar 100 jaar oud sou gewees het. Botha het saam met die satirikus Pieter-Dirk Uys hulde gebring aan Mandela. Botha is hartlik deur die gehoor verwelkom en “tannie Evita” het spesiaal vir haar “darling” ’n geskenkie uit Darling saamgebring.

Die laaste minister van buitelandse sake in die apartheidsregering, Pik Botha. Regs onder: satirikus Pieter-Dirk Uys (sy alter ego Evita Bezuidenhout) en Pik Botha by Woordfees 2018, Stellenbosch (Foto's: Liné Enslin)

Aan die einde van die gesprek het die bejaarde Botha gesê hy is nie bang om dood te gaan nie. “Mooi is die lewe en mooi is die dood. Ek is nie bang om dood te gaan nie, want ek keer terug na God in watter vorm ek ook mag bestaan. Intussen waardeer ek elke minuut van my lewe en aardse bestaan,” het hy die gesprek afgesluit

Botha was een van die apartheidsregering se politici wat wêreldbekend was, en in ’n stadium die langsdienende minister van buitelandse sake in die wêreld. Hy het onder andere as minister van buitelandse sake gedien in die kabinet van John Vorster en PW Botha en later ook in Nelson Mandela se kabinet as minister van minerale en energiesake in die regering van nasionale eenheid.

Hy sal onthou word as ’n gesoute diplomaat en een van die sogenaamde verligtes in die destydse Nasionale Party (NP). Hoewel hy die apartheidsbeleid internasionaal verdedig het, was hy ook die eerste senior minister wat hom reeds tydens PW Botha se bewind bereid verklaar het om onder ’n swart president te dien.

Hy was ’n kleurryke politikus en een van die min NP-ministers wat daarin kon slaag om selfs in die  stormagtige tagtigerjare vol sale te trek toe die NP al op die afdraandepad was.

Botha het hom twee keer verkiesbaar gestel as regeringshoof, maar kon nooit die paal haal  nie.

Hy het reeds as jong advokaat naam gemaak in die hofsaal van die Wêreldhof in Den Haag in Nederland. As ambassadeur by die Verenigde Nasies was hy betrokke by die jare lange onderhandelings oor die onafhanklikheid van die destydse Rhodesië wat later Zimbabwe geword het, en ook die eertydse Suidwes-Afrika (Namibië).

As politikus was hy óf geliefd óf gehaat. Die regses het hom as ’n verraaier beskou en die verligtes het hom vir sy progressiewe denke geloof.

Die lighartige gesprek tydens vanjaar se Woordfees is telkens afgewissel met ernstige anekdotes oor die onderskeie ontmoetings wat Botha en Uys met Mandela gehad het.

Botha het by die geleentheid vertel hoe Cyril Ramaphosa langs Mandela gestaan het toe hy sy eerste toespraak as vry man op die Kaapse parade gehou het. Hy het gesê sê dit was ’n historiese voorspelling van wat vandag in die land gebeur, met Ramaphosa wat nou Mandela se skoene volstaan.

Botha het ook vertel van die enigste keer toe hy Mandela snikkend hoor huil het. Dit was toe hy hom gebel het nadat hy en Winnie Mandela geskei is. “Ek het hom in die presidentswoning gebel waar hy stoksielalleen was om hom sterkte toe te wens. Mandela was baie alleen en dit was die enigste keer dat ek hom snikkend hoor huil het.”

By een geleentheid het Mandela Botha gemaan dat die Nasionale Party sagter te werk moet gaan met die leier van die destydse Konserwatiewe Party, Andries Treurnicht. Hy het aan Botha gesê geen vorm van geweld sal blywende vrede in die land skep nie. Hy het geglo Treurnicht  sal uiteindelik inval by die nuwe Suid-Afrika as hulle hom sagter behandel.

Met verwysing na HF Verword het Botha gesê die van Verwoerd is nie ’n skeldnaam nie. Hy het verwys na Verwoerd se rol tydens die destydse hofsaak oor die toekoms van Suidwes-Afrika (Namibië). Botha het gesê as dit nie vir Verwoerd was nie, sou Suid-Afrika die hofsaak verloor het en die land sou ten gronde gegaan het omdat Suid-Afrika met geweld en die steun van die Verenigde Volke-organisasie (nou die VN) uitgedryf sou gewees het. “Verwoerd wou Namibië nooit vir Suid-Afrika gehad het nie en het altyd gesê die land moet onafhanklik word. Mense weet nie dié goed nie, maar die waarheid moet uit. Ons moet by die waarheid bly,” het Botha gesê.

Lees ook op LitNet

Evita en Pik huldig Mandela

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top