Stilhou by ’n padstal is die ideale manier om ’n langpad korter te maak. ’n Lekker pitstop vir padkos, vars tuisgemaakte produkte, of om te snuffel vir interessante ditjies en datjies te koop.
Een ding is seker, ’n “road trip” is nie voldoende sonder ’n vinnige stop by ’n padstal nie, en die Wes-Kaap het gelukkig nie ’n tekort aan interessante en ongewone padstalle nie.
Hier is 15 unieke padstaljuwele in die Wes-Kaap waar jy beslis ’n plan moet maak om te stop en in te loer.
Breede River Trading Post, Malgas
Pasteie, beskuit, plaasbotter en melktert wat jou mond sal laat water... By die Breede River Trading Post kry jy iets van alles. Vars gebakte brood, tuisgemaakte konfyt, organiese eiers, heuning, olyfolie en gemmerbier – noem maar op! Hierdie is ’n pitstop waar jy alles kan kry wat jy nodig het.
Klik hier vir meer inligting.
Affie Plaas, Robertson
Affie Plaas-padstal is al meer as 30 jaar oud, en dié padstal kan jy beswaarlik miskyk op die R62 buite Robertson met sy vriendelike figure wat uit ronde hooibale gemaak is wat jou so te sê nader wink. Dié figure se doel is om mense se aandag te trek en op die padstal te vestig, en hulle het al menige nuuskierige persoon genoop om te gaan inloer by dié padstal.
Ook hier sal jy verskeie produkte te koop kry, van pasteie, koekies, melktert en koeksisters tot gedroogde vrugte en vars groente en vrugte soos mielies en perskes. Voor jy jou weer kom kry, spandeer jy langer hier as wat jy beplan het!
Klik hier vir meer inligting.
Dassiesfontein, Caledon
Dassiesfontein-padstal in die Overberg het ’n unieke storie. Volgens die eienaars het die idee van Dassiesfontein 12 jaar gelede begin toe tuisgemaakte produkte van twee waentjies langs die N2 aan mense op pad verkoop is. In 1995 is die padstal gebou en ’n jaar later die restaurant.
’n Lekker plek om jou bene te strek en ’n lekker koppie koffie te geniet as jy die langpad aandurf. Maaltye by die restaurant word bedien met hul eie plaasbotter en tuisgemaakte brood, voorberei in hul unieke houtstowe. Dassiesfontein is juis bekend vir hul verskeidenheid yster houtstowe soos die Queen Ann, Defy Dover en Laduma.
Verder is hier nie net kosprodukte te vinde nie, maar talle interessanthede, soos antiekhede, klere, kunsvlyt en dies meer.
Klik hier vir meer inligting.
Houw Hoek-padstal, Grabouw
Houw Hoek-padstal, bekend vir sy pasteie, is beslis die stop die moeite werd. Al waaroor jy jou hier moet bekommer is om te besluit watter pastei jou gunsteling is! ’n Heerlike plek om te stop en iets te ete te geniet op die gras onder die koeltebome. ’n Piekniek hier is ’n wonderlike idee ...
Klik hier vir meer inligting.
Kardoesie, Citrusdal
Kardoesie (’n ander woord vir “papiersakkie”) sit teen die bopunt van die Piekenierskloofpas en die uitsig van die padstal oor die Renostervallei is ongelooflik. Kardoesie, wat in 1997 oopgemaak het, spog met ’n verskeidenheid eetgoed en ook ’n restaurant. Hulle het ook heerlike Sondagetes beskikbaar.
Klik hier vir meer inligting.
Moerse-padstal, Napier
“Moerse” is ’n informele woord vir “groot” in Afrikaans, en hoewel hierdie padstal in die klein dorpie Napier dalk nie fisies groot is nie, verwys “moerse” na die lekker atmosfeer van die padstal. Verskeie tuisgemaakte produkte, maaltye en padkos vir die langpad is hier beskikbaar.
By die padstal is ook ’n kwekery, Tip of Africa, waar ’n verskeidenheid plante te koop is.
Klik hier vir meer inligting.
Mooiberge, Stellenbosch
By Mooiberge word besoekers begroet deur ’n verskeidenheid vriendelike voëlverskrikkers van alle groottes en kleure wat in die omliggende aarbeivelde staan en bydra tot die unieke karakter van die padstal. Mooiberge bied ’n groot verskeidenheid produkte aan besoekers en is ’n gewilde instelling in die Stellenbosch-omgewing.
Droëvrugte, neute, vrugte, konfyt en biltong is net sommige van die produkte hier beskikbaar. Mooiberge is beter bekend vir hul aarbeie en in aarbeiseisoen kan besoekers selfs die velde in vaar en hul eie aarbeie pluk – ’n gewilde someraktiwiteit. Die Thirsty Scarecrow-restaurant is ook ’n gewilde trekpleister by die padstal.
Klik hier vir meer inligting.
Die Ou Tronk, Riversdal
Die Ou Tronk is een van die oudste historiese geboue in Riversdal; die oorspronklike deel van die gebou is in 1838 gebou en as ’n handelswarewinkel gebruik. Die gebou is in 1860 deur die staat gekoop en in ’n tronk verander – vandaar die naam Die Ou Tronk.
Vandag is die gebou egter ’n gewilde padstal waar besoekers deur die ou selle van die tronk kan dwaal en kyk na die verskeidenheid breekware, klere, juwele, plante, antiekhede en geskenke te koop. Klop beslis ook aan vir hul gewilde wortelkoek!
Klik hier vir meer inligting.
Die Pampoenstalletjie, Worcester
Die Pampoenstalletjie bestaan al reeds vir meer as 30 jaar, en soos die naam voorstel, word dié stalletjie met pampoene assosieer. Oor die jare het pampoene ’n rol gespeel as die aantrekkingskrag tot die padstal, en steeds kan pampoene, groot, klein en verskillende vorme, oral om die padstal gestrooi gesien word.
Alle varsprodukte te koop word self op die plaas gekweek. Verder is daar ook materiaalprodukte en “allerhande ander snuisterye” te koop. Op die padstal se stoep kan jy koffie en beskuit geniet, sowel as ’n signature pampoen-muffin!
Klik hier vir meer inligting.
Peregrine-padstal, Grabouw
Peregrine is ’n gewilde padstal en altyd besig, so wees verseker jy gaan nie jouself alleen daar bevind nie. Goedere wat by die padstal verkoop word, word voorsien deur die boere van die omliggende Elgin-vallei. Behalwe die padstal waar jy ietsie vir die pad kan koop, is daar ook ’n restaurant. Peregrine is ook bekend vir hulle pasteie, so maak seker jy kry een!
Klik hier vir meer inligting.
Ronnie’s Sex Shop, Route 62
Die naam van hierdie padstal klink erger as wat dit is, en eintlik is die naam heel misleidend! Die vreemde naam is te danke aan ’n poets wat een aand op die niksvermoedende Ronnie gebak is. Die storie loop dat die eienaar van die winkel, Frank Ronald (oftewel Ronnie) Price, ’n padstal wou open en “Ronnie’s Shop” op die muur geverf het. Ongelukkig het besigheid maar ’n bietjie gesukkel. Ronnie se vriende besluit toe een aand om by wyse van ’n grap die woord “sex” by die naam “Ronnie’s Shop” te voeg. Alhoewel Ronnie aanvanklik vies was oor dié byvoeging tot sy winkel se naam, het hy gou besef dat dié vreemde naam talle nuuskierige agies lok en aanhits om te stop en te kyk wat by dié winkel aangaan. Gou-gou is die winkel omskep in ’n pub en vandag is dit ’n gewilde stopplek vir motorfietsryers en reisigers om ietsie te drink en te eet.
Klik hier vir meer inligting.
Tankwa-padstal, Tankwa Karoo
Die Tankwa-padstal is ’n kleurvolle en gewilde baken op die dorre Tankwa Karoo-grondpad tussen Ceres en Calvinia. Dié blou-geverfde padstal, sowat 80 km van Ceres en 160 km van Calvinia, is so te sê in die middel van nêrens te vinde. ’n Gewilde roete vir motorfietsryers om aan te durf, en dan by die padstal te stop. Hier sal jy ook boere van die omliggende gebied vind en talle Afrika Burn-feesgangers tydens die jaarlikse Afrika Burn-fees in die Tankwa Karoo. Kyk uit vir die windpomp in die dorre Karoo-landskap.
Klik hier vir meer inligting.
Thyme & Again, Plettenbergbaai
Nadat hy in die dertigerjare met die hele Suid-Afrikaanse kuslyn langs getoer het, het JJ de Kock hom by Keurboomstrand bevind, wat volgens hom die mooiste strand in Suid-Afrika was. In 1937 het hy ’n kothuis gebou en in 1993 het sy kleindogter, Tessa, besluit om na Keurbooms te verhuis om ’n plaasstal langs die N2, 6 km van Plettenbergbaai af, te begin.
Die plaasstalletjie het in ’n klein huis as ’n groente-stalletjie begin en stadig maar seker bly groei. Thyme & Again, deesdae ’n gewilde padstal, bied sy besoekers plattelandse gasvryheid, gekombineer met ’n verskeidenheid soet tuisgemaakte lekkernye uit sy eie bakkery, sowel as plaaslike lekkernye en ’n versameling wyne, hoofsaaklik uit die Wes-Kaap.
Klik hier vir meer inligting.
Die Tolhuis, Ceres
Soos wat jy oor Michell’s-pas ry, moet jy vir seker tyd maak om by die gesellige Tolhuis Bistro & Farm Stall te stop. Behalwe die pragtige uitsigte oor die pas, is die padstal bekend vir sy bekende roosterkoeke. Die Tolhuis het ontstaan toe Andrew Geddes Bain die pas van 1846 tot 1848 begin bou het. Goedere is vanaf Ceres-stasie (nou Wolseley) oor die Michell’s-pas gebring en ’n tolhuis is op die pas gebou waar tolgeld betaal moes word as jy die pas wou oorsteek.
Klik hier vir meer inligting:
Die Veldskoen, De Doorns
’n Gewilde padstal op die N1 net buite De Doorns en bekend vir druiwe waarmee in die De Doorns-gebied geboer word. Verskeie soorte padkos is hier te koop en die restaurant is ook gewild vir ’n middagete-stop. Behalwe ’n eetdingetjie, is hier ook meubels en verskeie ditjies en datjies te koop.
Klik hier vir meer inligting.
Buro: MvH