Plaasmoorde in Suid-Afrika is besig om weer toe te neem, en so ook die wreedheid waarmee die aanvalle gepleeg word.
Dit blyk uit die burgerregteorganisasie AfriForum se jongste statistieke rakende plaasaanvalle wat Donderdag 13 Mei bekendgestel is. Sedert April verlede jaar was daar 395 plaasaanvalle landwyd.
AfriForum sê in ’n verklaring hoewel daar ’n afname was in die aantal plaasaanvalle in die 2020/2021-boekjaar in vergelyking met die vorige boekjaar, was daar ’n toename in plaasmoorde. Daar is die afgelope jaar 59 mense op plase in Suid-Afrika vermoor, in vergelyking met 41 in die vorige jaar.
Die aanvalle bly volgens AfriForum steeds ’n groot bron van kommer weens die uitermatige geweld wat gereeld met dié misdade gepaard gaan. In 22% van die aanvalle is slagoffers wreed gemartel deur hulle met strykysters te brand, dood te slaan of dood te skop, of herhaaldelik met ’n skerp voorwerp te steek.
| MEDIAVERKLARING |
Plaasmoorde neem weereens toe https://t.co/TKDmoAivtZ
— AfriForum (@afriforum) May 13, 2021
Altesaam 64% van die slagoffers was bo die ouderdom van 50.
Items wat die meeste gebuit word tydens plaasaanvalle is vuurwapens, voertuie en elektroniese toestelle, hoewel daar minstens ses plaasmoorde was waar niks gesteel is nie.
“Die feit dat plaasmoorde en die wreedheid van die aanvalle toegeneem het ten spyte van die feit dat die aantal aanvalle afgeneem het, is uiters kommerwekkend. Dit wys ook vir ons dat die lippediens wat die Minister van Polisie en die President vir ’n kort rukkie verlede jaar aan die onderwerp bewys het, eintlik maar op niks uitgeloop het nie en dat dit vir gemeenskappe al hoe belangriker word om na hul eie veiligheid om te sien,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie.
AfriForum sê in hulle verslag dit is nie slegs die boerderygemeenskap wat deur hierdie misdade geraak word nie. Die verantwoordelikheid om die plaasgemeenskappe daarteen te beskerm behoort nie slegs op die boere se skouers te rus nie.
“Die vraag is hoeveel meer slagoffers moet nog deur hierdie trauma gaan voordat die regering besluit dit is ernstig genoeg om ’n volhoubare en standhoudende plan te regverdig om dit te bekamp.
“Hoeveel burgers moet nog gemartel, vermoor en traumatiseer word voordat dit as ernstig genoeg beskou word? “
Die verslag sê meer diepgaande wetenskaplike navorsing kan gedoen word om hierdie misdaadverskynsel te ondersoek indien plaasmoorde as ʼn prioriteitsmisdaad beskou sou word. Dit sal tot ’n effektiewer teenstrategie en beter voorkomingsmaatreëls lei. Die nodige hulpbronne sal egter beskikbaar gestel moet word om dit suksesvol te implementeer. Volgens AfriForum sal so ’n strategie baie help om plaasmisdade suksesvol te bekamp en oortreders ooreenkomstig die brutaliteit van hul misdade te vervolg en aan die pen te laat ry.
Daar was gedurende die verslagtydperk 395 bevestigde plaasaanvalle teenoor die 465 gevalle tydens die huidige verslagtydperk. Die meeste van die aanvalle het in Augustus 2020 plaasgevind en die minste moorde is in April verlede jaar gepleeg. Daar moet volgens die verslag daarop gelet word dat die syfers nie noodwendig die volle prentjie vertel nie, aangesien nie alle aanvalle aangemeld word nie.
Die meeste plaasmoorde het in KwaZulu-Natal en Gauteng voorgekom, gevolg deur die Vrystaat en Mpumalanga. Daar was die afgelope verslagtydperk geen plaasmoorde in Noordwes nie en die grootste styging in die aantal moorde sowel as aanvalle was in KwaZulu-Natal gewees.
AfriForum moedig landelike bewoners aan om hul veiligheid in hul eie hande te neem, binne die raamwerk van die wet, en om veiligheidsnetwerke te stig of om by een van AfriForum se 160 buurt- en plaaswagte landwyd aan te sluit.
Die organisasie het ook onlangs sy Beveilig ’n Plaas-veldtog bekendgestel. Besoek www.beveilignplaas.co.za vir meer inligting oor die veldtog.
Klik hier om die volledige verslag te lees.