Planne oor regering van nasionale eenheid gou bekend

  • 0

Suid-Afrikaners behoort laatstens môre te weet hoe die beoogde regering van nasionale eenheid min of meer gaan lyk.

Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, het gister (Dinsdag) gesê hulle het met alle partye vergader wat gretig is om idees uit te ruil oor hoe hulle die land gesamentlik vorentoe kan beweeg deur ’n regering te vorm wat nasionale eenheid en stabiliteit sal verseker, die transformasie van Suid-Afrika sal voortsit en die grondwetlike demokrasie sal beskerm.

Daar word reeds in die media en op sosiale media bespiegel hoe die nuwe regering gaan lyk.

Dit wil voorkom of die ANC, DA, IVP en van die kleiner partye mekaar tot ’n redelike mate gevind het. Die besonderhede daarvan moet voor Vrydag se byeenkoms van die Nasionale Vergadering uitgepluis word voordat daar ’n ooreenkoms kan wees.

President Cyril Ramaphosa het aan die begin van die gesprekke gesê so ’n ooreenkoms moet skriftelik wees en dat dit ’n openbare dokument moet wees wat deur alle deelnemende partye onderteken sal word.

Van die bespiegelings wat Dinsdag die ronde gedoen het, is dat die DA en IVP die ANC sal steun wanneer Cyril Ramaphosa as presidentskandidaat genomineer word, mits daar sekere waarborge aan hulle gegee word.

Dit lyk onwaarskynlik dat die EFF en MKP deel sal vorm van so ’n regering.

Dit sal Vrydag die eerste keer wees dat ’n ANC-presidentskandidaat nie ’n oorwinning gewaarborg sal wees nie, aangesien die party nie die volstrekte meerderheid het om ’n president op sy eie suksesvol te verkies nie.

Daar word gegis dat die DA moontlik ’n kandidaat as speaker sal benoem en dat die IVP-leier, Velenkosini Hlabisa, ook ’n sleutelpos in die nuwe regering sal beklee in ruil vir hulle steun aan Ramaphosa as president.

Mbalula sê die ANC het ook onderhoude gevoer met die finale ANC-premierskandidate wat hierdie week bekendgemaak sal word.

Een van die moontlikhede is dat die DA in die algemeen meer van ’n oorsigrol in die nasionale regering sal speel, eerder as om aan te dring op spesifieke poste in die kabinet.

Tydens die eerste sitting van die parlement Vrydag sal hoofregter Raymond Zondo die voorgeskrewe eed of bevestiging, na gelang van die geval, deur die nuut verkose lede van die Nasionale Vergadering laat aflê.

Dit is ’n eed of bevestiging van getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet. Artikel 48 van die Grondwet vereis dat LP’s dit moet aflê voordat hulle hul pligte mag aanvaar.

Nadat die LP's ingesweer is, of nadat die voorgeskrewe bevestiging afgelê is, sal die hoofregter die verkiesing van die speaker behartig. Sodra die speaker verkies is, sal hy of sy direk daarna die verkiesing van die adjunkspeaker behartig. Nadat die adjunkspeaker verkies is, sal die hoofregter weer oorneem om vir die verkiesing van die president voor te sit.

Die president sal later die kabinet aanwys. Anders as in die verlede sal hy vanjaar ook die ander partye wat deel vorm van die regering moet raadpleeg om konsensus te probeer bereik oor wie in die kabinet gaan dien.

Intussen is dit steeds ’n deurmekaarspul in die MKP.

Die party se stigter, Jabulani Khumalo, het Dinsdag ’n dringende aansoek in die Wes-Kaapse Hooggeregshof ingedien om die parlement en die MKP te verbied om sy naam as ’n parlementslid wat Vrydag ingesweer moet word, te verwyder. Die saak word Donderdag aangehoor.

Die MKP sal ook môre (Donderdag) ’n dringende aansoek by die Konstitusionele Hof indien om die Nasionale Vergadering te verbied om Vrydag te sit.

Die party het in sy hofstukke gesê die Nasionale Vergadering kan nie behoorlik saamgestel word tensy daar minstens 350 parlementslede teenwoordig is soos voorgeskryf in artikel 46 van die Grondwet nie.

Die party het ook in sy dokumente die hof gevra om president Cyril Ramaphosa te beveel om ’n nuwe verkiesing te hou omdat daar volgens hulle onreëlmatighede was met die afgelope verkiesing se uitslae en die bewering deur die MKP dat daar van sy stemme “gesteel” is.

Grondwetkenners is dit egter eens dat die MKP geen saak het nie en dat Vrydag se byeenkoms van die Nasionale Vergadering soos beplan sal voortgaan. Hulle sê die MKP vertolk die Grondwet verkeerd wanneer dit gaan oor hoeveel lede Vrydag teenwoordig moet wees.

Die sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies sal by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gehou word.

Die eerste sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) sal na verwagting Saterdag gehou word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top