Platsak ANC is in ’n finansiële verknorsing

  • 0

Suid-Afrika se regerende party, die ANC, bevind hom op die vooraand van die munisipale verkiesings in ’n yslike finansiële verknorsing. Daar is nie meer geld in die bank om sy werknemers se salarisse te betaal nie en die party se ondersteuners word nou gevra om die party van finansiële ondergang te red.

In ’n desperate poging om agterstallige salarisse te betaal wend die party hom nou tot sosiale media om geld in te samel deur middel van sogenaamde skarebefondsing waar die publiek gevra word om geld te skenk.  

Die ongewone stap is deur middel van ’n verklaring op Twitter bekendgemaak. Daarin sê die party die veldtog is daarop gemik om ANC-lede en ondersteuners te mobiliseer om deel te neem aan die veldtog om die party se programme en aktiwiteite te befonds. 

Die verklaring maak nie spesifiek melding van waarvoor die geld benodig word nie, maar dit is algemene kennis dat die party nie meer geld het om sy werknemers se salarisse te betaal nie.

Werknemers van die ANC sukkel al van Mei af om elke maand hulle salarisse te ontvang. Die party hou egter vol hy is nie bankrot nie. Die situasie is so ernstig dat werknemers verlede week met ’n volskaalse staking begin het. Dit het veroorsaak dat ANC-kantore verlede Donderdag landwyd moes sluit.

The Sowetan berig die ANC skuld die staat boonop sowat R80 miljoen aan inkomstebelasting wat van werknemers se salarisse afgetrek is, maar nie aan die staat oorbetaal is nie. Die party se salarisrekening beloop elke maand in die omgewing van R18 miljoen, wat glo onvolhoubaar is omdat dit geensins rekening hou met die party se inkomste nie.

Die Sondagkoerant City Press het ook die naweek in ’n spotprent na die ANC se finansiële dilemma verwys.

Verlede week moes die ANC vir die hoeveelste keer by sy werknemers pleit om aan te hou werk ten spyte van die salarisprobleme. Die staking deur ANC-werknemers is ook een van die groot redes waarom die party nie betyds sy kandidaatslyste vir die komende munisipale verkiesing by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) kon indien nie. Hulle vra nou dat die OVK uitstel gee vir die indiening van die nominasielyste.

Opposisiepartye wat hulle lyste betyds ingedien het, is egter sterk gekant teen enige uitstel. Hulle sê as hulle by die sperdatum kon hou, is daar geen rede waarom die ANC nie ook betyds hulle lyste kon indien nie.

Die VF Plus sê in ’n verklaring dit sou uiters onbillik wees teenoor die ander partye wat wel by die spertyd gehou het indien die Verkiesingshof gehoor sou gee aan die versoek van die ANC. In vorige verkiesings, insluitend plaaslike verkiesings, was daar gevalle waar partye en kandidate gediskwalifiseer is omdat hulle nie die sperdatums gehaal het nie.

Die VF Plus se leier, Pieter Groenewald, sê die feit dat die ANC nie in staat was om sy personeel se salarisse die afgelope drie maande te betaal nie, is een van die groot redes waarom die ANC nie sy lyste betyds gereed kon kry om in te dien nie.

Hierdie onbevoegdheid van die ANC het volgens Groenewald lank reeds die norm geword van die wyse waarop hy as regering op alle vlakke regeer.

“Dit is ironies dat ’n party wat nie bevoeg is om sy nominasielyste te voltooi nie, van die publiek verwag om vir hom te stem,” sê Groenewald.

Ook die DA is sterk gekant teen die heropening van die nominasielyste. Die party sê in ’n verklaring die ANC se verskoning dat hulle weens tegniese probleme nie betyds hulle kandidatelyste van sowat 30 munisipaliteit betyds kon indien nie, hou geen steek nie. Die DA sê as hulle en talle ander partye dit kon doen sonder om enige tegniese probleme te ondervind, kon die ANC dit ook doen. Politieke partye weet al van 6 Julie af die spertyd om die lyste in te dien was 23 Augustus.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top