Die land se munisipaliteite skuld hul krediteure miljarde rand en munisipale skuld van meer as R63 miljard aan Eskom alleen is een van die dringendste uitdagings wat die kragvoorsiener in die gesig staar.
Munisipaliteite se skuld aan Eskom het teen einde Junie tot R63,7 miljard toegeneem vanaf R58,5 miljard einde Maart.
Die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het vroeër die week aan die media gesê die regering beplan om maniere te vind om saam te werk met munisipaliteite wat Eskom geld skuld om te help om die skuld te delg.
Dit nadat elektrisiteit vir meer as vyf weke aan die Ditsobotla-munisipaliteit in Noordwes ontkoppel is as gevolg van sy R5 miljoen-skuld aan die kragvoorsiener.
Dit blyk egter dat Eskom sy oog op die belastingbetalers se sakke het hom hulle verder te melk ten einde hulle boeke te laat klop.
Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het op 10 Maart 2023 Eskom se jaarlikse tariefverhogings goedgekeur.
Dit behels ’n verhoging van 18,65% vir standaard-Eskom-klante en 18,49% vir munisipaliteite vir die 2023/24-boekjaar.
Die April-verhogings het slegs diegene geraak wat direk deur die kragvoorsiener voorsien word, terwyl elektrisiteitstariefverhogings vir munisipaliteite op 1 Julie in werking getree het.
Die DA berei reeds voor om op 11 September Nersa se besluit om aan Eskom ’n tariefverhoging van 31,4% oor twee jaar toe te ken, by die Noord-Gautengse Hooggeregshof te betwis.
Dit het nou ook aan die lig gekom dat Eskom ’n nuwe aansoek ingedien het om ’n bykomende R24 miljard uit oorbelaste verbruikers te probeer wurg.
Die nasionale tesourie het Dinsdag Eskom se ongeouditeerde kwartaalresultate aan die staande komitee oor bewilligings voorgelê. Eskom se verkoopsvolumes was 6,2% laer as waarvoor begroot is en het met 7% gedaal vergeleke met die vorige ooreenstemmende tydperk, hoofsaaklik as gevolg van opwekkingsvoorsieningbeperkings, wat die beurtkrag in die land veroorsaak het.
Eskom het glo in April ’n regulatoriese skoonmaakrekeningaansoek (RCA) by Nersa ingedien waarin hy poog om R24 miljard se historiese koste- en inkomste-afwykings vir die 2021/22-boekjaar te verhaal. As Nersa hierdie aansoek goedkeur, sal dit waarskynlik bygevoeg word bo en behalwe toekomstige elektrisiteitstariefverhogings.
Die DA sê in ’n verklaring hulle vind hierdie aansoek deur Eskom verregaande en heeltemal toondoof vir die probleme waarmee verbruikers in ’n hoë-inflasionêre omgewing te kampe het.
“Met die hof se toestemming sal ons hierdie jongste Eskom-aansoek byvoeg as deel van bewyse om te motiveer waarom Nersa se Januarie 2023- elektrisiteitstariefverhogingsbesluit hersien en tersyde gestel moet word.”
Die DA se skaduminister van openbare ondernemings, Ghaleb Cachalia, sê die gevolge van Nersa se tariefverhoging van 31,4% word reeds regoor die land gevoel, terwyl verbruikers die strate invaar om teen die toenemend onbekostigbare elektrisiteitsrekeninge te protesteer.
Cachalia sê as Nersa voortgaan en hierdie klandestiene aansoek deur Eskom vir ’n bykomende R24 miljard goedkeur, sal dit elektrisiteitskoste verder verhoog buite die bereik van baie en sal arm huishoudings dit nie meer kan bekostig om toegang tot elektrisiteit te verkry nie.
Hy sê daar moet nie van verbruikers verwag word om Eskom se ondoeltreffendheid deur roofsugtige kosteverhalingsmaatreëls te finansier nie. “Die feit dat Eskom op die punt staan om hulle hele dieselbegroting te spandeer, moet nie as basis gebruik word om die koste aan verbruikers deur te gee nie. Dit is in wese ’n roofsugtige misbruik van Eskom se monopolie waar die koste van disfunksie gereeld aan die verbruiker deurgegee word.”
Ten spyte van duidelike bewyse dat die Eskom-monopolie ’n las op verbruikers geword het, deur ’n permanente toestand van beurtkrag en hoë elektrisiteitstariewe, dring die ANC-regering steeds daarop aan om daardie monopolie te behou, sê Cachalia. Hy sê hierdie sluipaansoek om meer geld deur Eskom moet van die hand gewys word omdat verbruikers nie die hoë onderhoudskoste van ’n entiteit op sy sterfbed behoort te finansier nie.