Plunderaars wat verlede week aan die strooptogte op winkelsentrums deelgeneem het, word nou gevra om die gesteelde eiendom vrywillig terug te gee as hulle vervolging wil vryspring.
Die polisie het Maandag voortgegaan met ’n uitgebreide veldtog om die gesteelde goedere op te spoor en te konfiskeer. Verskeie hiervan is reeds gevind.
#sapsGP Police moved swiftly from street to street in Extension 3 , Zones 3,4 and 6 following information about the suspicious stolen property. The information resulted in the recovery of various items and the subsequent arrest. #RejectAndReportStolenGoods #DontBuyStolenGoods TM pic.twitter.com/q4jfxDtkSt
— SA Police Service 🇿🇦 (@SAPoliceService) July 19, 2021
Die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestrukture (Natjoints) het die naweek in ’n verklaring ’n beroep gedoen op mense om hulle samewerking te gee. Indien daar nie gehoor gegee word aan die versoek om die gesteelde goedere vrywillig terug te gee nie, staar die skuldiges arrestasie in die gesig wat ’n kriminele rekord tot gevolg sal hê indien hulle skuldig bevind word.
Media statement issued by the National Joint Operational and Intelligence Structure (NatJOINTS)
Sunday, 18 July 2021
LOOTERS CALLED UPON TO VOLUNTARILY SURRENDER LOOTED PROPERTY OR FACE POSSIBLE ARREST AND CRIMINAL RECORDS AS THE INTEGRATED RECOVERY OPERATIONS CONTINUE pic.twitter.com/zl2uMLKzZ8
— Chrispin Phiri 🇿🇦 (@Chrispin_JPhiri) July 18, 2021
Wetstoepassers het reeds meer as 3 000 mense in hegtenis geneem wat betrokke was by die plundery en is steeds besig om skuldiges aan te keer en gesteelde goedere op te spoor.
Die owerhede sê hulle het verskeie oproepe en wenke ontvang van gemeenskappe in beide KwaZulu-Natal en Gauteng wat gelei het tot die herwinning van groot volumes gesteelde goedere. Die waarde van die gesteelde goedere wat reeds teruggevind is, moet nog bepaal word.
Teen die einde van die naweek was daar reeds 3 074 verdagtes op verskeie klagtes gearresteer sedert die uitbreking van die geweld ’n week gelede. Slegs een van die verdagtes het borgtog ontvang. Meer as duisend aangeklaagdes sal eersdaags in howe in beide KwaZulu-Natal en Gauteng verskyn terwyl die oorblywende sake nog ondersoek word.
Natjoints sê noudat die spanning besig is om af te neem, kan die veiligheidsmagte hulle aandag toespits op die herwinning van gesteelde goedere met behulp van inligting deur lede van die publiek wat wenke aan die polisie verskaf en help met die opruiming van strate en winkels wat onder die plunderaars deurgeloop het.
#sapsHQ Situation in the country is gradually returning to normal in most parts of Gauteng & KwaZulu-Natal. Members of the #SAPS remains dedicated to ensure the safety and security of everyone in South Africa. #RejectAndReportStolenGoods #DontBuyStolenGoods #CrimeStop TM pic.twitter.com/OSbT73LU8R
— SA Police Service 🇿🇦 (@SAPoliceService) July 19, 2021
Die intelligensieagentskappe waarsku dat hulle bewus is van boodskappe wat op verskeie sosialemediumplatforms versprei word waarin daar gedreig word om polisiestasies aan te val, wetstoepassingsbeamptes te ontwapen, howe aan te val en sleutelinfrastruktuur soos brandstofpypleidings te vernietig en voortgaande plundering aan te moedig.
Daar is besluit om soveel bronne as moontlik te mobiliseer om die dreigemente die hoof te bied en die sigbaarheid van die veiligheidsmagte op voetsoolvlak te verhoog.
Maatreëls is ook ingestel om stabiliteit te verseker en die lewens en eiendom te beskerm van diegene wat nie betrokke was by die wetteloosheid nie en graag wil aangaan met hulle gewone daaglikse bedrywighede.
Lede van die publiek is gevra om voort te gaan om enige kriminaliteit aan die polisie te rapporteer. Dit kan ook anoniem gedoen word deur die stop-misdaad-nommer 08600 1011 te skakel of deur middel van die MySAPS-app wat op enige slimfoon afgelaai kan word.
’n Waarskuwing is ook aan die diegene gerig wat nie deel was van die plundery nie maar van die gesteelde eiendom by die plunderaars koop dat hulle ook in hegtenis geneem sal word vir die besit van gesteelde eiendom.
In Gauteng is daar die afgelope naweek by verskeie hostelle in Tembisa, Johannesburg, Alexandra en Moroka toegeslaan waar 14 verdagtes aangekeer is vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom wat deel was van die plundery.
Onder die goedere waarop daar beslag gelê is, was matrasse, televisiestelle, sitkamerstelle, yskaste, hoëtroustelle, rekenaars, kruideniersware en klerasie.
Daar is ook by grensposte soos Beitbrug en Groblersbrug van die gesteelde eiendom wat geplunder is teruggevind.
#sapsKZN A casket was recovered in the Ezinqoleni area during house raiding conducted this afternoon. #RejectAndReportStolenGoods #DontBuyStolenGoods #CrimeStop ML pic.twitter.com/u65YWLnLu1
— SA Police Service 🇿🇦 (@SAPoliceService) July 19, 2021
In KwaZulu-Natal is daar gedurende die afgelope naweek 92 mense gearresteer vir die besit van gesteelde eiendom.
’n Beroep is weer eens op die publiek gedoen om hulle te weerhou van die aanstigting van geweld en om nie opruiende boodskappe te versprei wat die reeds gespanne situasie kan vererger nie. Natjoints sê sulke boodskappe jaag die temperatuur verder op en boesem vrees in by die publiek en ondermyn die gesag van die staat.