Poedelkaal te perd deur dorp se hoofstraat

  • 0

.........

“Vanessa het besluit om op dié eksentrieke manier die lewe te vier. Sy het volgens Netwerk24 onlangs kanker oorwin en wou op dié manier groter bewusmaking van kanker skep nadat sy die siekte oorwin het.”

.........

’n Sakevrou van Clarens in die Vrystaat het die hele land aan die gons nadat sy poedelkaal op ’n wit perd deur die dorp se hoofstraat gery het.

Die 48-jarige Vanessa Faarking Jenkins is die eienaar van ’n winkel op die dorp met die naam Neked wat onder meer dagga-olie verkoop. Diegene wat haar in haar Evasgewaad op ’n spierwit perd deur die hoofstraat sien galop het, was egter glad nie gerook nie.

Plakkaat van Duitse drama-fliek Lady Godiva: Wikimedia Commons 

Vanessa het besluit om op dié eksentrieke manier die lewe te vier. Sy het volgens Netwerk24 onlangs kanker oorwin en wou op dié manier groter bewusmaking van kanker skep nadat sy die siekte oorwin het.

Toe sy met kanker gediagnoseer is, het sy haar lus vir die lewe heeltemal verloor. Sy sê ’n laaste operasie om die kankergewas uit haar rug te verwyder en dagga-olie het haar lewe gered.

Haar kaalbasrit op die perd deur die dorp herinner aan die verhaal van Lady Godiva wat byna duisend jaar gelede ook ter wille van ’n saak poedelkaal op ’n wit perd deur haar dorp gery het. Volgens die legende was sy gegrief deur die buitengewoon hoë belastings wat haar man van die dorp se inwoners gehef het. Nadat sy hom tot vervelens toe versoek het om die belasting te verminder, sou hy glo grappenderwys uit pure moedeloosheid oor haar aanhoudende gekla instem om dit te doen – mits sy kaal op ’n perd deur die dorp se hoofstraat ry.

.........

“Jenkins sê net soos kanker het die perd haar ook ’n paar keer afgegooi. ‘Dan moet jy maar weer opstaan, opklim en verder ry,’ het sy volgens Netwerk24 gesê.”

.........

Die vasberade Godiva het volgens die legende al haar klere uitgetrek en met slegs haar lang hare as bedekking te perd deur die dorp gery nadat sy die inwoners gewaarsku het om binnenshuis te bly en nie te loer nie. Een man het egter wel geloer en is volgens die legende met blindheid geslaan.

Clarens se Lady Godiva ontken dat sy die perd kaalbas bestyg het om aandag te trek. Dit was vir haar deel van haar kankerreis wat op ’n spesiale manier gevier moes word.

Jenkins se Facebook-vriende en talle ander mense op sosiale media het haar geprys vir haar moed en oorspronklikheid, maar vir baie ander mense was dit ’n perd van ’n ander kleur.

Vera Potgieter du Preez het op Netwerk24 geskryf: “Mens is nie bitchie nie. Ja vd manne like dit. Maar ek sal my dankbaarheid anders gedoen het. God al die eer gegee het. En dit getuig het in koerant nie kaalgat op ’n perd in die dorp nie. More oor more hoor ons sy is verkrag of iets. Nee a vrou al die kleuriges sien jou, begeer jou, hou jou nou dop want jou dorp is ’n klein plekkie” [sic].

Nog ’n ontevrede leser, Brenda Whelan, sê jammer, ’n mens eer nie die Here so nie. “Baie bly jy is gesond. Kon jy nie op jou knie gaan en vir die Here dankie sê nie ... Ag nee man.”

Baie mense het haar optrede egter geprys, al het van hulle die legende oor Lady Godiva so effens aan die stert beet gehad. Carmen Kriel skryf byvoorbeeld daar is soveel meer aan die storie. “Lady Godiva het kaal op ’n perd deur haar dorp gery nadat die kerk verskeie vroue gebrand het vir heksery omdat hulle te veel vel gewys het ... Lady Godiva was ’n noble lady en dit was ’n groot storie. Haar storie het baie dinge vir vroue wêreldwyd verander. Die vrou verkoop canibis [sic] produkte vir kanker en die mense in haar gebied het vir haar gesê sy moet loop sy is ’n heks en toe beat sy cancer ... Ek dink dis super cool dat sy kaal op ’n perd gery het en baie van pas.”

Jenkins sê net soos kanker het die perd haar ook ’n paar keer afgegooi. “Dan moet jy maar weer opstaan, opklim en verder ry,” het sy volgens Netwerk24 gesê.

Volgens haar het die polisie wel opgedaag terwyl sy op die perd se rug was, maar haar laat begaan.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top