Suid-Afrika is ’n yslike diplomatieke dilemma gespaar na ’n ooreenkoms met Rusland dat die Russiese president, Wladimir Poetin, nie meer die Brics-beraad sal bywoon wat volgende maand in Suid-Afrika plaasvind nie.
Die aankondiging dat Poetin nie meer die beraad sal bywoon nie, volg te midde van ’n hofsaak wat deur die DA aangevoer is om duidelikheid te kry hoe die regering ’n arrestasiebevel vir Poetin moet uitvoer indien hy wel volgende maand in Suid-Afrika sou aankom vir die Brics-beraad.
Ramaphosa se kantoor het Woensdag in ’n verklaring bevestig dat Poetin nie meer die beraad sal bywoon nie.
Die Gautengse Hooggeregshof het beveel dat president Cyril Ramaphosa se vertroulike beëdigde verklaring wat verband hou met ’n inhegtenisnemingsbevel vir Poetin bekendgemaak moet word.
Ramaphosa se beëdigde verklaring, wat in Junie onderteken is en aanvanklik as “vertroulik” gemerk is in antwoord op die DA se hofaansoek, is Dinsdag gepubliseer, nadat die hof beslis het dat dit openbaar gemaak moet word.
Die DA het Maandag hof toe gegaan om Ramaphosa te verplig om die dokument te deel.
In ’n uitspraak het die hof hom verplig om sy beëdigde verklaring met alle betrokke partye te deel. Die hof het verder beveel dat die media toegang sal hê tot die verhoor, wat Vrydag in ’n ope hof aangehoor sal word.
Ramaphosa het aangevoer die inhoud kan nie gedeel word nie, omdat hy verbied word om dit te doen weens internasionale reg wat die werking van die Internasionale Strafhof (IS) beheer.
In hofstukke wat Dinsdag vrygestel is, het Ramaphosa ook aangevoer dat “Rusland dit duidelik gemaak het dat die arrestasie van sy sittende president ’n oorlogsverklaring sou wees”.
Hy het ook aangevoer dat Poetin se arrestasie die Suid-Afrikaans-geleide missie om ’n vredeskikking vir die oorlog in Oekraïne te beding, sal ondermyn.
Die DA-leier, John Steenhuisen, sê die besluit dat Poetin nie meer die beraad sal bywoon nie, is ’n oorwinning vir die oppergesag van die reg en die land se ekonomiese toekoms.
The DA has won a famous victory for the rule of law and our country’s economic future. We welcome the announcement that Putin has backed down after the DA’s court battle to compel the SA government to arrest him if he set foot on our soil.
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) July 19, 2023
Hy het gesê die DA verwelkom die aankondiging dat Poetin teruggestaan het ná die DA se hofstryd om die regering te dwing om hom in hegtenis te neem as hy sy voete op Suid-Afrikaanse bodem sit.
Ramaphosa het die afgelope maande en weke verskeie pogings aangewend om uit die diplomatieke verknorsing rakende Poetin se voorgenome besoek te kom.
Hy het Poetin glo reeds tydens die Afrika-leiers se onlangse besoek aan Rusland probeer oortuig dat hy nie die beraad moet bywoon nie, maar Poetin wou na bewering nie gehoor gee aan sy versoek nie.
Adjunkpresident Paul Mashatile het in onlangse onderhoude met plaaslike media gesê die regering het Poetin probeer oorreed om nie te kom nie, maar was tot dusver onsuksesvol.
Ramaphosa het ook probeer om die Internasionale Strafhof te oorreed om Suid-Afrika vry te stel van sy verpligting om Poetin te arresteer ingevolge die Statuut van Rome, waarvan Suid-Afrika ’n ondertekenaar is.
Die IS het ’n lasbrief vir Poetin se arrestasie uitgereik wat hom beskuldig van ’n oorlogsmisdaad omdat Oekraïense kinders glo na Rusland ontvoer is. Suid-Afrika sou as lid van die IS verplig gewees het om Poetin in hegtenis te neem sou hy vir die beraad opgedaag het.
Die DA het in ’n verklaring gesê dit is ’n flou argument van Ramaphosa om te beweer dat Rusland oorlog teen Suid-Afrika sou verklaar indien Poetin gearresteer sou word as hy die land binnekom.
Die DA sê dit is duidelik dat die Suid-Afrikaanse regering elke poging wou aanwend om hierdie deurslaggewende aangeleentheid toe te smeer om publieke ondersoek te vermy en om bloot sy onvermoë om op te staan teen oorlogsmisdadigers en despote soos Poetin te verdoesel.
Die Russiese staatsnuusagentskap Ria Novosti berig dat Poetin die beraad nou virtueel sal bywoon. Rusland sal in persoon deur sy minister van buitelandse sake, Sergei V Lawrof, verteenwoordig word.