Poetin se aggressie raak steeds die Lae Lande

  • 0
Oorlog in Oekraïne

Die Russiese inval word steeds in die Lae Lande gevoel.

België en Nederland gee Russiese diplomate die trekpas

België het aangekondig dat hy 21 Russiese diplomate uit die land gaan sit weens verdenking van spioenasie. Nederland het kort daarna gereageer en dieselfde met 17 Russiese diplomate gedoen.

Die Belgiese minister van buitelandse sake, Sophie Wilmès, sê die diplomate hou ’n bedreiging vir die land se veiligheid in.

Die diplomate het almal in die Russiese ambassade in Brussel en die konsulaat in Antwerpen gewerk. Hulle was geakkrediteerde diplomate, maar het hulle na bewering met spioenasie besig gehou. Hulle is twee weke tyd gegee om die land te verlaat.

Minister Wilmès sê: “Dit is geen strafmaatregel. Dit is louter en alleen gelieerd aan onze nationale veiligheid. De diplomatieke kanalen blijven open en de Russische ambassade kan haar activiteiten verderzetten.”

Die 17 diplomate in Nederland is ook twee weke gegee om die land te verlaat, om dieselfde redes.

Die Nederlandse minister van buitelandse sake, Wopke Hoekstra, sê: “We hebben dit besluit genomen omwille van de Nederlandse veiligheid. In de sterk veranderde context, met de oorlog in Oekraïne en de toenemende Russische assertiviteit.”

Hy wou nie sê met watter spioenasie-aktiwiteite die diplomate besig was nie. Hy verwag egter dat Rusland teenmaatreëls sal instel.

Owerheidsgeboue vir Oekraïense vlugtelinge geoormerk

Die kabinet in Nederland het kantoorgeboue van die regering asook ou tronke beskikbaar gestel om vlugtelinge uit Oekraïne te huisves.

Volgens die minister van behuising, Hugo de Jonge, moet nog minstens 15 000 plekke beskikbaar gestel word. Die kabinet het €75 miljoen (R1,2 miljard) hiervoor opsy gesit.

In die komende weke moet die geriewe ingerig word, waarna dit aan die plaaslike owerhede oorhandig sal word, wat verantwoordelik vir die vlugtelinge is.

Volgens staatsekretaris Eric van der Brug het plaaslike owerhede tot dusver nagenoeg 27 000 plekke vir Oekraïners beskikbaar gestel; 17 000 hiervan is reeds beset. Die regering verwag egter nog ’n toestroming van vlugtelinge en oorweeg dit om spesiale tydelike dorpe hiervoor te bou, berig die NOS.

Heineken vertrek ook uit Rusland

Die Nederlandse bierbrouer Heineken het die jongste groot Westerse maatskappy geword om hom volledig uit Rusland te onttrek weens die oorlog in Oekraïne.

Heineken het vroeër reeds aangekondig dat hy van plan is om sy bedrywighede in Rusland af te skaal. Tot dusver het die vervaardiging van bekende handelsmerke soos Amstel en Affligem nog voortgegaan, maar dit kom ook nou tot ’n einde.

Heineken sê in ’n persverklaring: “We hadden gehoopt op een vreedzame uitkomst van de oorlog in Oekraïne, maar in plaats daarvan is de oorlog geïntensiveerd. We hebben geconcludeerd dat Heinekens eigendom van het bedrijf in Rusland niet langer duurzaam en levensvatbaar is in de huidige situatie. Als gevolg hiervan hebben we besloten Rusland te verlaten.”

Die Russiese mark bedra sowat 2% van Heineken se wêreldwye omset.

Werknemers van Heineken sal tot die einde van die jaar nog betaal word. Die bedryf verwag om ’n verlies van sowat €400 miljoen euro (R6,4 miljard) weens die besluit te ly, berig die NOS.

Somertyd in die Lae Lande

Saterdag het die horlosie in Nederland en België teen omstreeks 02:00 ‘n uur vooruit geskuif, wat beteken die Lae Lande handhaaf nou weer dieselfde tyd as Suid-Afrika. Dit beteken ook Nederlanders en Belge moes ’n uur vroeër opstaan.

Die omskakeling van die tyd tussen die winter en die somer is die eerste keer tydens die Eerste Wêreldoorlog in 1916 ingevoer om steenkool te bespaar. Met die oliekrisis in die jare ’70 is die maatreël weer ingevoer om energie te bespaar. Die idee was dat dit langer lig bly en mense dus minder energie verbruik, maar daar is later bevind dat die besparing nie juis hond haaraf maak nie, omdat mense soggens die verwarming aanskakel, en in die somer gebruik mense weer al hoe meer lugversorgers. Die somertyd beteken egter ook dat dit in die somer tot 22:00 saans nog lig is, wat goeie nuus is vir restaurante en kuierplekke.

Daar heers al baie jare lank gesprekke oor die beëindiging van verskillende tye in die winter en somer in Europa, maar daar is nog steeds geen uitsluitsel oor watter tyd om in te voer nie.

Die natuurlike tyd in Nederland en België is egter wintertyd. Bron: VRT NWS.

’n Motorongeluk eis twee kinderlewens in Noord-Brabant

In die dorpie Chaam in die provinsie Noord-Brabant het ’n motor Saterdagmiddag teen ’n boom gebots, berig die NOS en nu.nl. Twee kinders is in die ongeluk dood. Volgens die polisie was een van die slagoffers ’n baba, die ander ’n vierjarige kind. Die moeder en ’n derde kind is ernstig beseer.

Toe paramedici op die toneel opdaag, het hulle probeer om die baba en die vierjarige kind by te bring, maar die kind is op die toneel dood. Die baba is later in die hospitaal oorlede. Geen ander voertuig was in die ongeluk betrokke nie.

Dit is nog nie duidelik wat tot die ongeluk gelei het nie. Volgens getuies het die voertuig reguit teen ’n boom vasgery. Die moeder sal later ondervra word.

Getuies ontvang tans berading.

60-plussers mag vanaf die naweek ’n ekstra skraaginenting kry

In Nederland mag mense van 60 en ouer kan vanaf afgelope Saterdag ’n tweede skraaginenting teen COVID-19 kry, laat weet die minister van volksgesondheid, Ernst Kuipers. Die voorwaarde is dat minstens drie maande ná die laaste inenting of COVID-19-infeksie moes verloop het. Die Gesondheidsraad het die kabinet aangeraai om ’n tweede inenting beskikbaar te stel omdat die besmettings nog hoog is. Vanaf vroeër vandeesmaand kon ook mense van 70 en ouer, volwassenes met Down-sindroom en diegene met ’n ernstige immuunafwyking ’n tweede skraagdosis kry. Volgens die Gesondheidsraad is ’n skraagdosis vir ander volwassenes nog nie nodig nie. Dit is bekend dat die beskerming van ’n inenting met verloop van tyd afneem en mense van 60 en ouer loop ’n groter risiko om in hospitale opgeneem te word as hulle met COVID-19 besmet word, berig die NOS.

Groot skade ná brand in historiese kasteeltjie

Die Houtsaeger-kasteeltjie in De Panne in België is onbewoonbaar gelaat nadat ’n brand Saterdagaand in die dak uitgebreek het. Die inwoners is uit voorsorg na die hospitaal geneem. Die brandweer het omstreeks 18:00 op ’n noodoproep reageer van ’n brand in die dak van die gebou. Met hul aankoms moes hulle versterkings inroep. Twee bykomende waens met lere en pomp- en tenkwaens is ontplooi. Die brand was ná sowat ’n uur onder beheer. “Het hoofdgebouw liep zware schade op aan het dak,” laat weet die brandweer. Die dak van die syvleuel het heeltemal ineengestort en die onderste verdiepings is swaar deur water beskadig. Niemand is in die brand beseer nie en die oorsaak word nog ondersoek.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top