Poetin se besoek gee Suid-Afrika steeds hoofbrekens

  • 0

Die Suid-Afrikaanse regering bevind hom al hoe meer in ’n diplomatieke dilemma ten opsigte van die Russiese president, Wladimir Poetin, se voorgenome besoek aan die land tydens die 15de Brics-beraad wat in Augustus plaasvind.

Onder sy huidige wette is Suid-Afrika verplig om Poetin in hegtenis te neem as hy voet aan wal sit in die land, omdat Suid-Afrika ’n ondertekenaar van die Statuut van Rome is.

Die Internasionale Strafhof (IS) het in Maart ’n lasbrief vir Poetin se arrestasie uitgereik. Hy word daarvan beskuldig dat hy verantwoordelik is vir oorlogsmisdade tydens die oorlog in Oekraïne.

Die DA het hulle Maandag tot die hof gewend om die owerhede te verplig om Poetin in hegtenis te neem indien hy in Augustus sou opdaag.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het Woensdag water getrap toe hy tydens ’n media-inligtingsessie gevra is of Poetin in hegtenis geneem sal word indien hy Suid-Afrika toe kom. Cele wou nie ja of nee sê nie en het gesê daar is tyd tot Augustus om “asem te haal” oor die saak.

Intussen het die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco) ’n kennisgewing in die staatskoerant oor diplomatieke immuniteit en voorregte uitgereik rakende die komende Brics-beraad.

Die departement sê in ’n verklaring dit is ’n standaardtoekenning van immuniteit wat gedoen word vir alle internasionale konferensies en berade wat in Suid-Afrika gehou word, ongeag die vlak van deelname.

Buitelandse media het dit vertolk as ’n manier om by wyse van ’n agterdeur aan Poetin immuniteit te verleen tydens die Brics-beraad.

In dieselfde verklaring  sê die departement egter hierdie immuniteite ignoreer nie enige lasbrief wat moontlik deur enige internasionale tribunaal teen enige bywoner van die konferensie uitgereik is nie.

“Die immuniteite is vir die konferensie en nie vir spesifieke individue nie. Hulle is bedoel om die konferensie en sy deelnemers vir die duur van die konferensie te beskerm teen die jurisdiksie van die gasheerland.”

Die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking, Emma Louise Powell, sê in ’n verklaring  Dirco het daardeur in wese bevestig dat die inhegtenisnemingsbevel wat teen Poetin uitgereik is, van krag bly en dat sou hy in Suid-Afrika aankom, hy inderdaad gearresteer moet word onder die vaandel van die Statuut van Rome en aan die Internasionale Strafhof  oorhandig moet word.

Die DA doen nou ’n beroep op Dirco om sy amptelike verklaring deur te voer en die Russiese regering, deur sy ambassade in Pretoria, in kennis te stel dat die Suid-Afrikaanse regering die arrestasiebevel sal afdwing sou die Russiese president die Brics-beraad bywoon.

Powel sê Dirco was ondubbelsinnig oor sy standpunt dat die formaliteite rondom die Wet op Diplomatieke Immuniteite en Voorregte vir die Brics-beraad “nie enige lasbrief wat deur enige internasionale tribunaal teen enige bywoner van die konferensie uitgereik is, sal ignoreer nie.”

Dirco se erkenning dat die beroep op diplomatieke immuniteit nie inhegtenisnemingslasbriewe wat deur die IS uitgereik is, ignoreer nie, is volgens Powel in ooreenstemming met die wetlike presedent wat in 2015 oor die Al-Basjir-aangeleentheid geskep is.

Toe die regering probeer het om sy versuim om die voormalige Soedannese president in hegtenis te neem, te regverdig, met verwysing na Basjir se immuniteit as staatshoof, het sowel die Hooggeregshof as die Hoogste Hof van Appèl die regering se redenasie verwerp.

Beide howe het aangevoer dat die regering onregmatig opgetree het toe hy versuim het om Basjir in hegtenis te neem. Die Hoogste Hof van Appèl het bevind het dat die versuim teenstrydig was met Suid-Afrika se verpligtinge ingevolge die Statuut van Rome.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top