Poetin se oorlog hou Europa besig

  • 0
Oekraïne

Poetin se aggressie in Oekraïne word ook deeglik in die Lae Lande gevoel.

Gevolge van oorlog kring uit

Rusland raak steeds meer geïsoleer ná sy inval in Oekraïne. In een van die jongste verwikkelinge het die Hermitage Amsterdam aangekondig dat hy alle bande met Rusland verbreek.

Die Hermitage word beskou as ’n tak van die Hermitage in St Petersburg in Rusland – een van die grootste museums ter wêreld – en het sedert sy ontstaan altyd ’n Russiese uitstalling gehad. Die besluit het tot gevolg dat die grootste deel van die museum gesluit word.

“Oorlog maakt alles kapot. Zo ook dertig jaar samenwerking,” staan op die webwerf van die Hermitage Amsterdam. “De Hermitage Amsterdam heeft op dit moment geen andere keuze.”

Danksy die samewerking die afgelope jare kon besoekers aan Amsterdam pronkstukke uit die museum in St Petersburg besigtig.

Tog bly die Hermitage hoopvol: “Zoals iedereen hopen wij op vrede. En op veranderingen in de toekomst in Rusland, waardoor we de banden met de Hermitage Sint-Petersburg kunnen herstellen.”

Lae Lande maak plek vir Oekraïners

Die Antwerpse stadsraad het besluit om met onmiddellike ingang 100 blyplekke in ’n woonsorgsentrum vir vlugtelinge uit Oekraïne beskikbaar te stel. Woonsorgsentrums is plekke waar bejaardes spesiale versorging kan kry, maar is duur en staan daarom dikwels leeg.

Die De Tol-woonsorgsentrum in die Belgiese Deurne staan op die oomblik leeg en is tot onlangs as kwarantyninrigting gebruik vir seelui wat met COVID-19 besmet is.

Die Antwerpse burgemeester, Bart de Wever, sê: “We weten niet hoeveel er zullen komen en hoelang we ze moeten opvangen, maar het is onze plicht om deze oorlogsvluchtelingen te huisvesten.”

Hy sê vlugtelinge wat in De Tol tydelike verblyf sal kry, is mense wat mediese hulp nodig het, en die plek is geskik om sodanige hulp te bestuur, berig VRT NWS.

Premier Mark Rutte van Nederland het ook tydens ’n mediakonferensie beloof dat dié land plek sal maak vir Oekraïners en het aangekondig dat Nederland ’n krisiskomitee in die lewe geroep het om die toestroming van vlugtelinge na Nederland te bestuur. “We zullen zo ruimhartig mogelijk opvang bieden aan Oekraïnse vluchtelingen.”

Hy sê daar word met die verskillende veiligheidstreke beraadslaag om te sorg dat daar voldoende plek vir vlugtelinge is.

Intussen berig Het Parool dat die vlugtelingkamp in Harskamp, wat plek vir 950 vlugtelinge het, Maandagaand heeltemal vol geraak het. Die munisipaliteit van Ede, waar die kamp geleë is, probeer intussen bykomende huisvesting vir die vlugtelinge vind, berig NU.nl.

Intussen berig die NOS dat 12 000 mense bereid is om huisvesting aan Oekraïnse vlugtelinge te bied. Na wat berig word, het minstens 10 000 mense teen Maandag op die platform Takecarebnb geregistreer. ’n Woordvoerder van die platform, Robert Zaal, sê: "Vroeger gingen we even kijken bij mensen thuis, maar omdat er zoveel aanmeldingen zijn, houden we het bij een telefonische intake." Om hiermee te help, moes die organisasie bykomende personeel in diens neem om mense wat blyplek aanbied, te keur. Luister hier na ’n radio-onderhoud met Robert Zaal oor die onderwerp:

Shell staak die aankoop van Russiese brandstof

Die oliereus Shell het aangekondig dat hy nie van plan is om enige olie of gas meer in Rusland te koop nie. Die maatskappy gaan ook al sy vulstasies in Rusland sluit.

Shell het verlede week nog aangekondig dat hy 725 000 vate Russiese olie teen groot afslag gekoop het. Ná hewige kritiek het die maatskappy laat weet dat hy alles in sy vermoë doen om na alternatiewe vir Russiese olie te soek, maar dat die saak ingewikkeld is, aangesien Russiese olie ’n belangrike rol in die wêreldaanbod speel, berig die NOS. Dit blyk egter dat Shell nou voor druk geswig het en Rusland tog vaarwel toeroep.

Standbeeld van Leopold II loop deur onder vandale

Lede van die aktivistegroep De Stoete Ostendenoare het koning Leopold II se standbeeld in Oostende beklad, omdat hulle voel dat die beeld verwyder moet word, berig VRT NWS. Die polisie het die vandalisme tydens ’n patrollie in die nag ontdek.

Koning Leopold II was omstrede omdat hy aan die einde van die 19de eeu gruweldade in die destydse Belgiese Kongo gepleeg het. “Dit is een laatste verwittiging. Anders is de volgende actie het beeld neerhalen,” laat weet die aktiviste.

Die burgemeester van Oostende, Bart Tommelein, het die optrede veroordeel en gesê: “Koning Leopold II was belangrijk voor Oostende. Dat beeld gaat niet weg.” Die polisie is nog op soek na die skuldiges.

Drie Nederlanders sterf in ’n padongeluk in Suid-Afrika

Die NOS berig dat drie Nederlandse toeriste verlede Vrydagmiddag in ’n motorongeluk in Suid-Afrika dood is. Die ongeluk het gebeur toe die minibus waarin hulle gereis het, teen ’n vragmotor gebots het wat teen ’n paneelwa vasgery het. Die ongeluk het op die N4-tolpad naby Schoemanskloof in Mpumalanga in die rigting van Mbombela plaasgevind, berig 1limburg. Altesaam is vyf mense in die ongeluk dood. Vier ander is beseer.

Die Nederlandse Ministerie van Buitelandse Sake sê die oorledenes was twee vroue – een van 55 en een van 21 jaar afkomstig uit Limburg. Die ander Nederlander was ’n 27-jarige man van Suid-Holland.

Vallende voëls veroorsaak vertraging op snelweg

Talle dooie voëls op die A2-snelweg tussen Amsterdam en Utrecht het verkeer verlede week Donderdag met minstens 70 minute vertraag, berig die NOS. Hulpdienste moes drie van die vyf rybane sluit om die voëls op te ruim wat op die pad beland het. Rijkswaterstaat vermoed dat die voëls uit die lug geval het en daar word ondersoek of die voëls met voëlgriep besmet was.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top