Suid-Afrikaanse politieke randfigure met oortuigings so ver verwyder van mekaar soos die ooste van die weste, het blykbaar ’n gemeenskaplike raakpunt gevind in hul bewondering vir die Russiese leier Wladimir Poetin.
Twee van die land se mees omstrede en uitgesproke Afrikaners aan teenoorgestelde pole van die politieke spektrum, Carl Niehaus van die Zuma-faksie in die ANC en Dan Roodt wat hom vir ’n Afrikaner-volkstaat beywer, deel skynbaar ook ’n bewondering vir Poetin en weersin vir Westerse regerings wat Oekraïne steun.
Die regeerkundige Erwin Schwella van die Hugenote Kollege in Wellington is een van talle Suid-Afrikaners wat hieroor kopkrap.
Hy wou op die Facebook-groep Nagkantoor, waar joernaliste se menings dikwels onder skoot kom, weet wat Afrikaners soos Niehaus met sommige ander Afrikaners gemeen het dat hulle so groot verering vir Poetin het.
Baie Suid-Afrikaners wat Poetin ondersteun, is ironies genoeg, óf uitgesproke ondersteuners van Amerika se vorige president, Donald Trump, óf Suid-Afrika se vorige president, Jacob Zuma.
Een van die Vryheidsfront Plus se ondersteuners het op die party se Facebook-blad geskryf hy is spyt dat hy vir die VF+ gestem het nadat die party se leier, Pieter Groenewald, in die parlement vir Oekraïne in die bres getree het.
Groenewald het Dinsdag tydens ’n parlementêre debat oor die oorlog in Oekraïne gesê die ANC moet daarvan kennis neem dat hy die mense van Suid-Afrika in die steek laat vanweë sy strugglevriendskap met Rusland.
“Oor Rusland se aggressie in die oorlog moet daar geen onduidelikheid wees nie. ’n Land wat sy tenks en sy troepe oor ’n ander land se grens stuur, ongeag die redes, is die aggressor,” het Groenewald gesê.
"ANC, how does Russia see you? Do they see you as a friend or as a useful idiot?" - @GroenewaldPJ pic.twitter.com/XrgDVIbz1B
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) March 15, 2022
Josua Keys sê in reaksie hierop hy het gedink die VF+ is wakker, maar nou blameer hulle ook vir Poetin, wat volgens hom die Nuwe Wêreldorde in Oekraïne gestuit het.
Hy sê Groenewald verraai die Boerevolk om vir Biden, “die grootste duiwel en sy clan”, in die oorlog te ondersteun. “Julle bevestig dat julle niks beter as die DA is nie,” het hy teen die VF+ se leier uitgevaar.
Hy sê hy is nie ’n Poetin-aanhanger nie, maar is nou jammer dat hy sy kruisie vir die VF+ gegee het.
Schwella het in reaksie op kommentaar van mense wat Poetin steun, gesê: “Gelukkig is diegene ook in die goeie geselskap van oudpresident Jacob Zuma se dogter Dudu Zuma-Sambudla wat Poetin nou net-net naas Zuma as die nuwe nommer een sien.
Die regse politieke aktivis Dan Roodt het, net soos Zuma se dogter, ook op sosiale media sy simpatie met Rusland betoon. Hy het hom sterk uitgespreek teen die Weste se sanksies teen Rusland en verskeie anti-Oekraïne poste op sy Twitterprofiel gedeel.
Een van die inskrywings wat hy van iemand anders op sy Twitterprofiel gedeel het, lui: “Absoluut afgryslik die manier waarop Russe in Amerika en in die buiteland behandel word [...] Russiese lewens maak saak.”
Roodt stem ook saam met een van sy volgelinge op Facebook wat reken dit is dalk beter om Rusland toe te trek. Hy skryf Rusland het mos daardie onafhanklike “oblast” in Siberië wat hulle vir die Jode geskep het nog voordat Israel daar was. “Ons kan dalk daar gaan bly en ’n volkstaat skep. Trouens, ek dink amper hulle het mense al uitgenooi om daar te kom bly, want die plek loop leeg,” aldus Roodt.
Hierop het een van sy volgelinge. Levett Prins, geantwoord: “Vir ’n begin kan ons onmiddellik politieke en militêre bande met die Russe vestig maar die Afrikaner se volksintelligensie is nog nie hoog genoeg vir enige iets meer nie. Mense soos Ernst Roets wat eerder gaan gatkruip by Amerika wat ons in Angola verraai het moet eers verdwyn.”
Niehaus is op sy beurt vies omdat die ANC en Ramaphosa nie meer uitgesproke ten gunste van Rusland is nie en beskuldig ook die ANC daarvan dat hulle anti-Poetin en pro-Westers is.