Pogings om om weer oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette, of die sogenaamde Bela-wet, te beraadslaag, het die wind van voor gekry in die parlement toe die parlement se portefeuljekomitee oor basiese onderwys besluit om weens ’n regsmening nie daarmee voort te gaan nie.
President Cyril Ramaphosa het meer as ’n maand gelede die Bela-wet onderteken, met die uitsondering van twee klousules wat oor skole se taal- en toelatingsbeleid handel. Hy het drie maande grasie gegee vir verdere raadpleging oor dié klousules.
Die parlement se regsdienste sê egter ingevolge die wet word die parlement verhoed om weer oor die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette te beraadslaag.
Die MK-party se hoofsweep in die parlement, Mzwanele Manyi, het verlede week ook sy party se teenstand uitgespreek teen Ramaphosa se besluit om sekere klousules van die Bela-wetsontwerp vir drie maande agterweë te hou.
Die MKP is bekommerd dat die DA se betrokkenheid by die RNE ’n ommekeer van wette kan veroorsaak wat deur die vorige ANC-administrasie aanvaar is.
Mzwanele Manyi, MK Party's Parliament chief whip, is questioning President Cyril Ramaphosa's decision to put the BELA Bill and NHI on hold
The MK Party is concerned that with the DA's involvement in the GNU might see a reversal of laws passed by the previous ANC administration.… pic.twitter.com/mWKUf3BIcx
— News Live SA (@newslivesa) October 17, 2024
“Moet ons nou as Suid-Afrika verwag dat al die wette wat deur die sesde administrasie aangeneem is toe die ANC behoorlik aan bewind was, omgekeer kan word noudat ons hierdie koalisie met die DA gekry het?” het Manyi gevra.
Intussen het die Freedom Park Erfenisterrein in Pretoria Afrikaanse organisasies se aansoek om ’n vreedsame protesoptog teen die Bela-wet, wat vir 5 November beplan word, afgekeur om te voorkom dat hulle die terrein binnegaan.
AfriForum sê in ’n verklaring die Solidariteit Beweging, AfriForum, Solidariteit, die Solidariteit Skole-ondersteuningsentrum (SOS) en talle ander Afrikaanse instellings gaan voort met planne om die protesoptog te hou. Indien dit genoodsaak word, sal die optog volgens hulle tot by die ingang van Freedom Park gaan.
Bela-optog gaan voort al weier Freedom Park toegang; McKenzie gevra om in te gryp. pic.twitter.com/iWCEP6e7F2
— AfriForum (@afriforum) October 22, 2024
Die Solidariteit Beweging het hulle tot die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie, gewend en doen nou ’n beroep op hom om dringend in te gryp om toe te sien dat Freedom Park dié besluit heroorweeg.
Groot getalle mense het glo reeds vir deelname daaraan geregistreer by www.belaprotes.co.za.
𝐒𝐓𝐀𝐏 𝐒𝐀𝐀𝐌!👣📚
Op 5 November 2024 stap duisende vir hul kinders in protes teen die Bela-wet. Die Bela-wet verbreek die 1994-skoolooreenkoms. Ons wil die regering ontmoet by die plek wat die regering gebou het om die oorgang van 1994 te simboliseer. https://t.co/U1KQzdvvES— Solidariteit (@solidariteit) October 14, 2024
Die aksie word gereël om protes aan te teken teen artikels 4 en 5 van die Bela-wet, wat die finale besluitnemingsmagte oor skole se toelating- en taalbeleid van beheerliggame ontneem.
Volgens Solidariteit bedreig die Bela-wet Afrikaanse onderwys soos nog nooit tevore nie. Volgens Anlia Archer van die Solidariteit Onderwysersnetwerk is Bela ’n instrument om Afrikaans as onderrigtaal uit skole te verwyder eerder as om inklusiwiteit te bevorder.
Afrikaanse onderwys is deel van ons gemeenskap se siel, en Bela bedreig dit soos nog nooit tevore nie. Solidariteit hou op 5 November 2024 'n optog teen die Bela-wet. As Afrikaanse skole vir jou belangrik is, kom wys jou steun! Bespreek jou plek nou: https://t.co/1tK0UuGrex pic.twitter.com/9v3QP99PmH
— Solidariteit (@solidariteit) October 22, 2024
Minstens 50 Afrikaanse organisasies en meer as 70 skole het tydens die Bela-aksieberaad wat op 10 Oktober gehou is, ’n resolusie aanvaar vir ’n dag van protes en ’n protesoptog om die Afrikaanse gemeenskap se teenkanting teen die twee artikels te wys.
AfriForum het op 14 Oktober ’n skrywe aan die uitvoerende hoofbeampte van Freedom Park, Jane Mufamadi, gerig en amptelik aansoek gedoen om aan die protesgangers toegang tot die terrein te verleen as eindpunt van die optog.
In die brief word besonderhede van die beplande optog, die rede vir die optog en die versekering dat alle nodige veiligheidsmaatreëls getref sal word vir die aanbied van die geleentheid, gegee. “Ons beplan om vanaf die Voortrekkermonument na Freedom Park te stap, waar ons beoog om ’n memorandum aan verteenwoordigers van die RNE en die presidensie te oorhandig,” skryf Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Pretoria, in die aansoek.
Mufamadi sê in haar antwoord dat daar ná “sorgvuldige oorweging” nie toestemming vir die versoek gegee kan word nie, aangesien Freedom Park “nie die mandaat het om versoeke van dié aard te hanteer nie”.
AfriForum is voorts geadviseer om met die presidensie oor die aangeleentheid te kommunikeer.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, dui Freedom Park se weiering daarop dat dié instelling, wat beweer dat dit Suid-Afrika se erfenis vier, nie die viering of beskerming van Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap as deel van dié mandaat ag nie.
“Die park se missie om ’n toekoms as ’n verenigde nasie te bou, sluit skynbaar nie die Afrikaanse gemeenskap in nie, en hul weiering kan slegs geïnterpreteer word as ’n simboliese stap om Afrikaners en Afrikaanssprekendes van deelname aan hierdie eenheid uit te sluit,” sê Buys.
Die Solidariteit Beweging, wat reëlings vir die protesaksie lei, het sy regspan intussen opdrag gegee om ook met regstappe te begin en om benewens die versoek aan McKenzie, alle moontlike remedies vir die goedkeuring van die protesaksie te ondersoek.