Pogings om Waluś se parool te keer duur voort

  • 0

Die Poolse immigrant Janusz Waluś wat die afgelope 29 jaar agter tralies deurgebring het vir die moord in 1993 op die SAKP-aktivis Chris Hani, moet op die laatste vandag (Donderdag) op parool vrygelaat word. Verskeie mense poog egter om op nommer 99 ’n stokkie daarvoor te steek.

Hoofregter Raymond Zondo het verlede Maandag in die Konstitusionele Hof gelas dat Waluś binne tien dae op parool vrygelaat moet word.

Die ANC en sy drieparty-alliansievennote, die SAKP en Cosatu, het Woensdag hulle betogings teen Waluś se parool voortgesit en onder andere ’n optog na die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria gehou.

Lede van die organisasies is gegrief deur die beslissing wat parool aan Waluś toegestaan het. Hulle wil hê Hani se moordenaar moet agter tralies bly.

Die SAKP het reeds dokumente by die Konstitusionele Hof ingedien waarin hulle vra dat die besluit om Waluś op parool vry te laat, teruggetrek word.

Solly Mapaila, hoofsekretaris van die SAKP, sê die hofstukke is Dinsdag ingedien.

“Ons [...] prokureurs het dokumente by die Konstitusionele Hof, die Hooggeregshof en ook by die Minister van Korrektiewe Dienste ingedien om aan te dui dat ons die nodige stappe gedoen het en wil hê dat die opskorting van die eksekusiebevel oor hierdie aangeleentheid aangehoor word.”

Daar was uiteenlopende reaksies op verlede Maandag se uitspraak.

ANC-parlementslid Pemmy Majodina het tydens Woensdag se betoging gesê Waluś moet in die tronk vrot.

Sy sê Waluś het nog nie die volle waarheid oor Hani se dood bekend gemaak nie en verdien nie om vrygelaat te word nie.

Clive Derby-Lewis, wat saam met Waluś aangekla is vir die moord op Hani, is in Junie 2015 op mediese parool uit die tronk vrygelaat nadat hy 22 jaar van sy vonnis uitgedien het. Hy is op 3 November 2016 aan longkanker oorlede.

Op 10 Maart 2016 het die Hooggeregshof in Pretoria reeds beslis dat Waluś ook op parool vrygelaat moet word, maar dit is telkens weens besware van onder meer Hani se familie en die onderskeie ministers van justisie vertraag en eers die afgelope Maandag finaal bekragtig.

Waluś se prokureur het aan die media gesê sy kliënt het nooit om verblyf in Suid-Afrika aansoek gedoen nie en moet daarom na Pole gedeporteer word wanneer hy op parool vrygelaat word.

Die Pools-gebore Waluś se Suid-Afrikaanse burgerskap is in 2017 herroep. Die kanse dat Waluś, wat kort voor sy parool in die tronk met ’n mes gesteek is, die res van sy lewe rustig in Pole sal deurbring, lyk egter skraal.

Die minister van binnelandse sake, Aaron Motsoaledi, het vroeër die week in ’n verklaring gesê sy departement se standpunt is dat Waluś as deel van sy vonnis sy parooltydperk in Suid-Afrika moet uitdien. Volgens Motsoaledi sal sy departement nie betrokke wees by enige deportasieproses van Waluś na Pole nie.

Motsoaledi sê dit is duidelik uit mediaberigte dat die ambassade van Pole glo dat indien Waluś na Pole gedeporteer sou word, hy geen parool in Pole sal uitdien nie, want die Suid-Afrikaanse Konstitusionele Hof se uitspraak is nie bindend vir daardie land nie.

Die minister meen verder dat die gruwelike misdaad wat teen die mense van Suid-Afrika gepleeg is deur die moord “op een van die ikone van die bevrydingstryd”, dit verpligtend maak dat Waluś sy parooltydperk as deel van sy vonnis in Suid-Afrika moet uitdien.

Volgens Waluś se prokureur het sy kliënt nooit om verblyf in Suid-Afrika aansoek gedoen nie en moet hy daarom gedeporteer word. Dit is ondanks die feit dat die Departement van Binnelandse Sake aan Waluś vrystelling verleen het om sy parooltydperk in Suid-Afrika uit te dien.

Die minister het volgens Waluś se prokureur nie die bevoegdheid om ’n spesiale vrystelling toe te staan ​​nie, omdat geen aansoek deur die aansoeker vir daardie status gedoen is nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top