Polisie op gereedheidsgrondslag na Waluś se parool

  • 0

Suid-Afrikaners is diep verdeeld oor die parool wat toegestaan is aan die Poolse moordenaar van Chris Hani, Janusz Waluś, wat hom in 1993 koelbloedig doodgeskiet het voor sy huis.

Die polisie is volgens mediaberigte op ’n hoë gereedheidsgrondslag geplaas vir enige optrede wat mag spruit uit Waluś se paroolgoedkeuring. Verskeie hoëprofielpolitici het gesê dit kan nie daar gelaat word nie en geskimp op een of ander protesaksie. Daar was ook ’n stortvloed woedende reaksies op sosiale media wat die Konstitusionele Hof se besluit skerp veroordeel het op dieselfde dag toe ’n ander hof beslis het Jacob Zuma moet teruggaan tronk toe.

Die leier van die EFF, Julius Malema, was een van verskeie politieke leiers wat met optrede gedreig het. Malema het gesê Chris Hani se dood moes as ’n keerpunt gedien het vir die land. Hy sê as daar ’n revolusie was toe Chris Hani deur Waluś vermoor is, die land nie sou moes toekyk hoe hy beloon word met vryheid omdat hy ’n ikoon vermoor het nie.

Terwyl ondersteuners van Hani openlik dreig dat Waluś se parool tot ’n burgeroorlog kan lei, meen ander Waluś het sy straf uitgedien en moes reeds lankal op parool uitgelaat gewees  het.

Gauteng se premier, Panayaza Lesufi, het egter gesê dat hy en ander Suid-Afrikaners verraai voel deur die Konstitusionele Hof se uitspraak, omdat Hani nie ’n gewone mens was nie.

“Ons voel verraai, ons voel in die steek gelaat, en ons kan dit nie sonder meer laat verbygaan nie,” het Lesufi gesê. Hy het ’n beroep op die SAKP gedoen om op te tree en nie daaroor verskoning te vra nie. Hy het verder gesê dat Suid-Afrikaners nie hul arms kan vou en hierdie onreg aanskou nie.

Kol Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het volgens Netwerk24 gesê die polisie neem kennis van die uitsprake en het gewaarsku dat dit ’n misdaad is om geweld en intimidasie aan te hits.

Zuma se dogter, Duduzile Zuma-Sambudla, het Dinsdag op Twitter gesê: “Vandag is ’n dag vir die skietbaan en geweerskoonmaak. Soos Mama Winnie eenkeer gesê het: “Singayisusa nanini” ... Want wow! Hulle spoeg nou in ons gesigte en loop letterlik oor ons dooie liggame met hulp van [hoofregter Raymond] Zondo & Cyril. Ons Cdes, vaders & moeders het nie verniet gesterf nie.”

Die Konstitusionele Hof het die minister van justisie en korrektiewe dienste Maandag beveel om Waluś binne 10 dae op parool te plaas. Die Departement van Korrektiewe Dienste het nog geen aanduiding gegee wanneer hy vrygelaat sal word nie en sê hulle bestudeer die hofuitspraak.

Die SAKP, waarvan Hani ten tye van sy dood hoofsekretaris was, het die Konstitusionele Hof se uitspraak as “sieklik en teleurstellend” bestempel.

Solly Mapaila, hoofsekretaris van die SAKP, het namens die party op die uitspraak gereageer: “Die uitspraak sê nie eers iets oor die voorleggings wat deur die SAKP en die Chris Hani-familie gemaak is toe die hof hierdie aangeleentheid aangehoor het nie.”

Hy sê die SAKP ondersteun die familie van Hani ten volle. Die sluipmoord op Chris Hani het ’n gapende wond in sy familie, die SAKP en die geledere van die werkersklas gelaat en die hof se besluit vryf sout in die wonde.

Waluś is vier keer in die verlede parool geweier, ten spyte van sy prokureur se bewering dat hy heeltemal gerehabiliteer is en langer in die tronk was as Nelson Mandela.

Hani se weduwee, Limpho Hani, het Maandag by die Hooggeregshof uitgevaar teen hoofregter Raymond Zondo en die ander regters wat gelas het dat Waluś op parool vrygelaat word. Die meeste regskenners en grondwetlike aktiviste het egter gesê die uitspraak bevestig die oppergesag van die reg.

Zondo het in die hof se uitspraak die beginsel van gelykheid voor die reg beklemtoon en gesê die handves van regte is nie net geskryf vir diegene wat apartheid beveg het nie, maar ook vir diegene wat dit aktief ondersteun het.

Hani se weduwee sê Waluś se optrede het Suid-Afrika byna in burgeroorlog gedompel en bygevoeg karma sal die regters wat ingestem het dat haar man se moordenaar op parool vrygelaat moet word, binne twee jaar inhaal.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top