Polisie se fone lui, maar niemand antwoord nie

  • 0

Meer as die helfte van Suid-Afrika se polisiestasies beantwoord nie hul telefone nie.

Dit is die ontstellende bevinding van ’n omvattende landswye oudit deur die DA wat ernstige vrae laat ontstaan oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se vermoë om op noodgevalle te reageer in ’n land wat reeds met hoë vlakke van geweldsmisdaad worstel.

Die oudit, wat tussen 2 en 12 Junie vanjaar uitgevoer is en op 18 Junie in ’n verklaring deur die DA bekendgemaak is, het 1 025 polisiestasies in al nege provinsies getoets. Volgens die resultate was 571 stasies (56%) nie telefonies bereikbaar nie, terwyl slegs 454 (44%) stasies een of albei van hul amptelike kontaknommers beantwoord het.

Volgens Ian Cameron, DA-LP en die party se adjunkwoordvoerder oor polisie, dui die bevindinge op veel meer as bloot administratiewe nalatigheid.

“Elke foon wat nie beantwoord word nie, verteenwoordig iemand in ’n krisis. Dit kan iemand wees wat in lewensgevaar verkeer, ’n slagoffer van huisgeweld, of iemand wat dringend polisiëring benodig en bloot na ’n dooie lyn luister,” het Cameron gesê.

Die oudit is uitgevoer deur amptelike kontaknommers te gebruik wat van SAPD-webwerwe, provinsiale departemente en ander openbare bronne verkry is. Die resultate toon groot verskille tussen provinsies.

Limpopo het die swakste gevaar, met ’n bereikbaarheidsyfer van slegs 10,3%. Van die 87 polisiestasies wat daar geskakel is, het net nege geantwoord. Die Vrystaat het tweede swakste gevaar, met slegs 30,9% bereikbaarheid.

Aan die ander kant het die Wes-Kaap die beste gevaar, met ’n bereikbaarheid van 75,2%, terwyl Gauteng met 51,3% die enigste ander provinsie was waar meer as die helfte van die stasies bereikbaar was. KwaZulu-Natal (37,2%) en Mpumalanga (39,5%) het ook swak gevaar.

Wat die bevindinge besonder kommerwekkend maak, is dat selfs sogenaamde prioriteitspolisiestasies in hoëmisdaadgebiede onder die swak presteerders was. Stasies soos Hillbrow en Honeydew in Gauteng, Umlazi en Inanda in KwaZulu-Natal, en Khayelitsha en Nyanga in die Wes-Kaap het volgens die oudit nie hul telefone beantwoord nie.

Die probleem blyk egter nie bloot by personeel te lê nie. Waar oproepe wel beantwoord is, het beamptes gemiddeld binne minder as 12 sekondes gereageer. Dit dui daarop dat die grootste struikelblok waarskynlik infrastruktuur- en tegnologiese probleme is.

Volgens die DA was die algemeenste rede vir mislukte oproepe sogenaamde “dropped calls” of lynfoute. In altesaam 510 gevalle het oproepe eenvoudig doodgeloop. Ander oproepe het onbeantwoord gebly of die lyne was beset. Die oudit het ook bevind dat daar in baie gevalle nie eens bygewerkte en akkurate lyste van polisiestasies se telefoonnommers bestaan nie.

Die bevindinge sluit aan by vroeëre parlementêre besoeke aan die SAPD se 10111-noodsentrums waar personeeltekorte, verouderde tegnologie en ernstige kommunikasieprobleme reeds geïdentifiseer is.

Burgerregtegroepe sê die verslag bevestig wat gemeenskappe al jare lank ervaar.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, meen die situasie dryf burgers toenemend in die rigting van private sekuriteitsmaatskappye en buurtwagte.

“As die staat nie eens ’n telefoonstelsel kan bestuur nie, hoe kan ons verwag dat hulle georganiseerde misdaad moet bekamp? Die SAPD se onvermoë om basiese dienste te lewer, kos lewens,” het hy gesê.

Misdaadkenners waarsku intussen dat die probleem veel groter implikasies het as bloot onbeantwoorde oproepe.

In ’n land waar meer as 27 000 moorde jaarliks aangeteken word, kan selfs enkele minute se vertraging die verskil tussen lewe en dood beteken. Kenners waarsku dat ontoeganklike polisiestasies ook die risiko van vigilante-optrede en gemeenskapsgeregtigheid verhoog wanneer inwoners voel hulle kan nie op die staat staatmaak nie.

Cameron het bevestig dat die DA die volledige ouditverslag aan die minister van polisie en die nasionale polisiekommissaris gaan oorhandig. Die party eis ’n dringende herstelplan wat onder meer bygewerkte kontaklyste, tegnologiese opgraderings, beter bestuur en groter aanspreeklikheid insluit.

“’n Polisiediens wat nie konsekwent deur sy mense bereik kan word nie, kan nie sy grondwetlike mandaat nakom om Suid-Afrikaners te beskerm nie. Daar moet dringend verantwoording gedoen word vir hierdie administratiewe ineenstorting,” het Cameron gesê.

Die ministerie van polisie het by navraag aangedui dat die verslag bestudeer sal word voordat amptelike kommentaar gelewer word.

Vir baie Suid-Afrikaners wat daagliks met misdaad saamleef, is die vraag egter eenvoudig: As die polisie nie eens die telefoon beantwoord nie, wie antwoord wanneer hulp dringend nodig is?

  • Die DA se volledige oudit kan hier gelees word.

(Fokusprent deur Marco Mézquita van Pixabay.)

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top