....
“Hulle sê die regulasie wat hulle verbied om branders te ry maak geen sin nie, aangesien daar veel groter sosiale afstand tussen branderplankryers in die see is as tussen die honderde mense wat toegelaat word om op die promenades langs die see te gaan stap.”
....
Al hoe meer Suid-Afrikaners raak gefrustreerd met die wyse waarop COVID-19 se inperkingsregulasies deur die owerhede toegepas word.
Branderplankryers in Kaapstad het Dinsdagoggend deelgeneem aan ’n landwye vreedsame protes teen ’n regulasie wat hulle verbied om in die see te wees. Hulle is vies omdat mense tussen 06:00 en 09:00 mag draf, stap of fietsry, maar nie mag branders ry waar daar baie groter sosiale afstand tussen mense is nie.
Foto: Pixabay.com
Netwerk24 berig dat ’n man Dinsdagoggend in Muizenberg in Kaapstad in hegtenis geneem is toe hy met ’n roeispaan in die hand saam met ander branderplankryers betoog het omdat hulle ingevolge die inperkingsregulasies nie hul sport mag beoefen nie.
Die hutsmerke #GetbackInTheWater en #BackInTheWater het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Foto’s en video’s van branderplankryers met hulle branderplanke by die see is oral op sosiale media en ook op koerante se webwerwe gedeel.
Live update from the famous Surfer's Corner in Muizenberg, Cape Town:
This is one site where a "National Peaceful Protest" to be permitted to #GetBackInTheWater is expected.
WATCH:@News24 @TeamNews24 pic.twitter.com/Sq2EMKqrjA
— MURRAY WILLIAMS (@NoSurrenderRSA) May 5, 2020
Die bekende Surfer’s Corner in Muizenberg was Dinsdag van vroegdag af die bymekaarkomplek van branderplankryers wat hulle misnoeë uitgespreek het omdat hulle nie soos drawwers, stappers en fietsryers mag oefen nie. Hulle sê die regulasie wat hulle verbied om branders te ry maak geen sin nie, aangesien daar veel groter sosiale afstand tussen branderplankryers in die see is as tussen die honderde mense wat toegelaat word om op die promenades langs die see te gaan stap.
....
“Die reaksie op sosiale media oor die polisie se optrede was oor die algemeen uiters negatief. Die wetstoepassers is onder andere van magsbeheptheid en onbevoegdheid beskuldig.”
....
Vreedsame betogers wat langs die strand in Muizenberg hulle stem laat hoor het, is deur die polisie verjaag en aangesê om te “beweeg” indien hulle nie gearresteer wil word nie omdat hulle teenwoordigheid nie as oefening gesien word nie.
Live update from Surfer's Corner in Muizenberg, Cape Town:
An interview with ocean-lover Aisling Vasey, a local surfer, as part of #BackInTheWater "National Peaceful Protest"
WATCH@News24 @TeamNews24 pic.twitter.com/nkb3sKrA63
— MURRAY WILLIAMS (@NoSurrenderRSA) May 5, 2020
Een van die branderplankryers is gearresteer toe hy met ’n roeispaan oefening gedoen het langs die strand en is saam met ander mense agter in ’n vangwa gelaai waar daar geen sosiale afstand tussen mense is nie.
Peaceful protester Sandy Hoffman of Lakeside says ocean sports are healthy & strengthen the immune system:
"And as an essential health worker I know a bit about health," she added.
Police patrol the beach.
WATCH:@News24 @TeamNews24 pic.twitter.com/sIFwIehp57
— MURRAY WILLIAMS (@NoSurrenderRSA) May 5, 2020
Op Bloubergstrand was daar volgens Media24 sowat 70 branderplankryers wat beswaar gemaak het teen die regulasie, maar die polisie het nie teen hulle opgetree nie, en in Port Elizabeth was daar glo net een betoger by Hobiestrand gewees.
Een van die branderplankryers in Muizenberg het op sy fiets weggekom voordat die polisie hom kon arresteer. ’n Polisieman op ’n motorfiets het hom agternagesit, maar kon nie die man op die fiets inhaal nie. ’n Video van die voorval is ook wyd op sosiale media gedeel.
In ’n ander voorval is die 30-jarige Samantha Vietri van Muizenberg volgens die nuusagentskap IOL getraumatiseer toe sy na bewering mondelings aangerand is deur ’n aggressiewe polisieman terwyl sy besig was om joga op die strand te doen. Sy is glo deur die polisieman aangesê om te “beweeg” en dat hy haar sal arresteer aangesien sy “pateties” is, berig IOL.
....
“Paul Viljoen sê hy is jammer vir die branderplankryers en het simpatie, maar daar is ander mense ook wat graag wil gaan hengel, duik of iets anders doen. Hy wil weet waar trek mens dan die streep.”
....
Die reaksie op sosiale media oor die polisie se optrede was oor die algemeen uiters negatief. Die wetstoepassers is onder andere van magsbeheptheid en onbevoegdheid beskuldig.
“Die regering is nou totaal mal!!! Wie kan vir wie aansteek op ’n brander in die see?” het een van Netwerk24 se lesers op die voorvalle reageer.
Johan D du Toit het gesê dit is dit is ’n sirkus as iemand gearresteer word omdat hy stilstaan. “Lagwekkend om die minste te sê!”
Volgens Jan van Zyl is die inperking absurd en onlogies. “Die ANC verwoes die ekonomie en boelie die wetsgehoorsame burgers eerder as om die ekonomie te beskerm en regte kriminele te probeer vang. Ek het van die begin van die inperking af elke dag gaan oefen. Nou wag ek tot 09:00 om dan te gaan oefen. Ons moet net eenvoudig teen elke sinnelose regulasie in opstand kom, dit is ons burgerlike plig,” is sy mening.
Hier en daar was daar ook simpatie met diegene wat die regulasies moet toepas. Paul Viljoen sê hy is jammer vir die branderplankryers en het simpatie, maar daar is ander mense ook wat graag wil gaan hengel, duik of iets anders doen. Hy wil weet waar trek mens dan die streep. “Kan hulle dit nie maar verander en net sê elkeen kan sy eie aktiwiteit beoefen mits hulle vyf meter van mekaar af bly nie?”
Buro: MvH