Twee vermeende mensehandelaars en ontvoerders het Maandag in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg verskyn op aanklagte van kinderontvoering en mensehandel.
Dit volg nadat die polisie se Spesiale Taakmag die afgelope naweek 90 ongedokumenteerde Ethiopiese burgers gered het wat na bewering teen hul wil en onder onmenslike omstandighede in Sunnydale Ridge, Johannesburg aangehou is.
President Cyril Ramaphosa sê intussen dat soliede polisiewerk die afgelope jaar gelei het tot meer as 700 000 arrestasies vir verskeie misdade, insluitend moord, transitorooftogte, voertuigkaping en seksuele misdrywe.
Die polisie het Sondag in ’n verklaring op X gesê die ongedokumenteerde burgers is opgesluit gevind waar hulle in kamers aangehou is en dat ondersoeke aan die gang is om vas te stel hoe hulle in die land gekom het.
#sapsHQ Amongst the Ethiopian nationals was the kidnapped victim who was also rescued. The victim was kidnapped in Benoni on Tuesday afternoon, where after his kidnappers immediately started demanding hundreds of thousands of ransom money from his family. The Ethiopian nationals… pic.twitter.com/nomvaG8yYk
— SA Police Service ???????? (@SAPoliceService) August 4, 2024
“Ons kan bevestig dat die 90 ongedokumenteerde Ethiopiese burgers almal hospitaal toe geneem is vir verdere mediese sorg,” het Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, gesê.
Die saak is aan die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Valke) oorhandig vir verdere ondersoeke.
Die Ethiopiese burgers, wat vermoedelik slagoffers van mensehandel is, is tydens die inhegtenisneming by ’n verwaarloosde en verlate huis gevind.
Volgens die polisie se verklaring was ’n multidissiplinêre span, onder leiding van die Spesiale Taakmag, besig om ’n slagoffer van ontvoering vir ’n losprys op te spoor toe hulle ook die ontdekking gemaak het van die mense wat opgesluit in kamers aangehou is. Ondersoeke is aan die gang oor hoe hierdie buitelandse burgers in SA verhandel is.
Onder die Ethiopiese burgers was die ontvoerde slagoffer wat verlede Dinsdagmiddag in Benoni ontvoer is. Die ontvoerders het glo honderdduisende rand se losprysgeld van sy familie geëis.
’n Onlangse verslag wat deur die Verenigde Nasies vrygestel is, het bevind dat kinders in vergelyking met volwassenes twee keer so geneig is om aan geweld blootgestel te word tydens voorvalle van mensehandel.
Volgens die Global Report on Trafficking is ’n derde van alle slagoffers van mensehandel kinders, en die meerderheid is meisies.
Dit blyk uit statistieke wat verlede Dinsdag bekend gemaak is ter viering van Wêrelddag teen Mensehandel.
Today is World Day Against Trafficking in Persons.
We focus on the most vulnerable: children affected by trafficking.
Everyone plays a role in saying no to child trafficking.
We urge authorities, the public, private sector, and NGOs to join to #EndHumanTrafficking pic.twitter.com/96hcfQ1bAU
— UN Trust Fund for Victims of Human Trafficking (@unvtf_tip) July 30, 2024
President Cyril Ramaphosa het Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê misdaad en geweld het so algemeen in die land geword dat baie Suid-Afrikaners dikwels wanhoop dat dit ooit sal stop.
Crime, even if it has not affected us directly, is everybody’s problem. If we continue to work together as government, the business community, labour and civil society, we can restore the safety and security that is critical to economic activity and the creation of jobs.… pic.twitter.com/Nbwe2sJsnc
— Cyril Ramaphosa ???????? (@CyrilRamaphosa) August 5, 2024
Ramaphosa sê dit is geen verrassing dat mense elke keer wanneer hulle nog ’n storie van ’n roof of ’n moord of verkragting hoor, hulself afvra hoekom niks gedoen kan word om misdaad aan te pak nie.
Volgens die President behoort die onlangse opdatering deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oor Operasie Shanela die publiek gerus te stel dat die bekamping van misdaad wel momentum kry.
Operasie Shanela, wat verlede jaar van stapel gestuur is, is ’n hoëdigtheidsinisiatief om sigbare polisiëring te verbeter en om gesoekte verdagtes op te spoor, veral diegene wat van moord en seksmisdade beskuldig word.
Operasie Shanela is ’n multisektorale misdaadbekampingstrategie wat gedryf word deur die SAPD met die ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, nasionale en provinsiale verkeersowerhede, metropolisiedepartemente, die departement van binnelandse sake, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Nasionale Vervolgingsgesag.
Dit maak grootliks gebruik van samewerking met gemeenskapspolisiëringsforums (GPF’s) en gemeenskapspatrolleerders, en werk ook saam met private sekuriteitsmaatskappye.
Deur padblokkades, stop-en-deursoek-operasies, voetpatrollies en sake-nakomingsinspeksies het Operasie Shanela se spanne belangrike vordering gemaak in die hantering van misdaadbrandpunte en georganiseerde misdaadsindikate, het Ramaphosa gesê.
Die opdatering wat verlede week deur die SAPD gelewer is, wys volgens Ramaphosa dat goeie polisiewerk die afgelope jaar gelei het tot meer as 700 000 arrestasies vir verskeie misdade, insluitend moord, transitorooftogte, voertuigkaping en seksuele misdrywe.
Oor die afgelope twee jaar is beslag gelê op meer as 20 000 vuurwapens, insluitend verskeie tuisgemaakte gewere. Daar is beslag gelê op meer as 3 000 vuurwapens in die Wes-Kaap, waar vuurwapengeweld onder strydende bendes veral voorkom.