Polisieminister by korrupsie betrek

  • 0

Die minister van polisie, generaal Bheki Cele, is na bewering omgekoop om korrupte lede van die polisie se intelligensie-eenheid te beskerm.

Dié ernstige aantyging is Maandag voor die Zondo-kommissie gelewer toe kolonel Dhanajaya Naidoo sy getuienis vanuit ’n geheime plek voor die kommissie voorgesit het.

Cele was destyds die nasionale kommissaris van polisie. Naidoo het aan regter Zondo gesê daar was ook allerhande gerugte dat Cele betrokke was by die toekenning van groot tenders aan ’n plaaslike sakeman in KwaZulu-Natal, Panganathan Marimuthu, terwyl Cele nog lid was van KwaZulu-Natal se provinsiale regering.

Naidoo het aan die begin van sy getuienis Maandag bevestig dat hy self nie onskuldig is nie en dat hy homself ook in sy getuienis inkrimineer. Hy het byvoorbeeld self R100 000 van die misdaadintelligensie-eenheid se geld gesteel.

Hy het later toe dinge begin warm word met die hele sak patats vorendag gekom en ’n fluitjieblaser geword oor die beweerde korrupsie by die polisie se misdaadintelligensie-eenheid.

Naidoo leef reeds die afgelope agt jaar onder ’n nuwe vals identiteit onder polisie-beskerming in vrees vir sy lewe nadat hy inligting aan die Valke verskaf het oor die grootskaalse korrupsie waarby senior polisie-offisiere na bewering betrokke was.

Bheki Cele (Foto: Marcello Casal Jr/ABr [CC BY 3.0 BR], via Wikimedia Commons)

Die voorsitter van die kommissie wat staatskaping ondersoek, adjunkhoofregter Raymond Zondo, het dele van Naidoo se getuienis oor Cele bevraagteken. Naidoo het aan die kommissie gesê hy het opdrag van die hoof van finansies van die eenheid, Solomon Lazarus, gekry om te reël vir na bewering R40 000 omdat dit moeilik is om ’n afspraak te kry met Cele, wat toe die nasionale kommissaris van polisie was.

Hy sê hy het aanvaar dat die geld vir Cele bedoel is.

Naidoo, wat in ’n getuienisbeskermingsprogram is, getuig oor miljoene rande uit die eenheid se geheime fonds wat geplunder is. Regter Zondo wou klarigheid oor Naidoo se getuienis hê. Naidoo het aan Zondo gesê dit sal later in sy getuienis duidelik word.

Hy sê terwyl hulle vir Cele gewag het om met hulle te vergader, het Lazarus aan hom gesê dit is nie maklik om ’n vergadering met Cele te reël nie. Hy is glo aangesê om ’n groot bedrag kontant te reël wat volgens sy aanname bedoel was vir Cele wanneer hy by die vergadering sou opdaag.

Hy het egter reeds ’n beweerde R40 000 van die geheime fondse by hom gehad en dit vermoedelik aan Lazarus oorhandig. Hy sê Lazarus en Cele het afsonderlik in ’n ander deel van die huis vergader en die beweerde R40 000 is nooit weer aan hom terugbesorg nie, daarom het hy aanvaar die geld is aan Cele oorhandig. 

Naidoo het ook verder getuig hoe die hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, Richard Mdluli, vir byna sewe jaar die septer geswaai het en gesorg het dat hy mense aanstel wat hom sou beskerm.

Hy was vermoedelik ’n magtige persoon in die intelligensiewêreld en het presies geweet wat politici vir mekaar oor die telefoon sê wanneer hulle gedink het niemand anders hoor waaroor hulle praat nie.

Hy het na bewering ook op ’n onderduimse manier ontslae geraak van eerlike polisiemanne deur hulle loopbane te kelder en leuens oor hulle te versprei wanneer hulle korrupsie wou oopvlek.

Mdluli het nog nie self voor die Zondo-kommissie getuig nie, maar is glo gereed daarvoor. Hy is reeds skuldig bevind op vier aanklagte van intimidasie, twee aanklagte van ontvoering, twee aanklagte van aanranding en twee aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Sy vonnisoplegging daarvoor is uitgestel tot November.

Naidoo het ook Maandag getuig hoe familie en vriende van Lazarus vermoedelik as geheime agente aangestel is en só finansiële voordeel daaruit gekry het.

Hy het ook vertel hoe minstens drie joernaliste na bewering betrokke was by omkopery.

............

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top