Daar is nog net 3 502 polisiereserviste in Suid-Afrika oor, teenoor die meer as 50 000 sowat tien jaar gelede.
Dit blyk uit skriftelike antwoorde wat die DA se skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, in die parlement aan die minister van polisie, Bheki Cele, gestel het.
Whitfield sê in ’n verklaring die reservisteprogram van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) stort steeds verder onder minister Bheki Cele in duie – die SAPD het sedert 2011/12 meer as 90% van sy reserviste verloor.
In 2011/12 was daar 52 054 reserviste regoor die land. Tien jaar later, teen 2021/22, het net 4 393 reserviste oorgebly.
“Vandag het die getalle tot ’n verwoestende nuwe laagtepunt gedaal, met net 3 502 reserviste regoor die land,” sê Whitfield.
Hy sê terwyl misdaad voortgaan om verskrikte gemeenskappe te verwoes, ondermyn Cele die onmiddellike behoefte om die aantal stewels op die grond te vergroot deur die proaktiewe werwing en ontplooiing van reserviste.
Die ineenstorting van die reservisteprogram is volgens Whitfield ’n verwoestende slag vir die bekamping van misdaad, aangesien reserviste ’n kritieke kragvermenigvuldigingsrol gespeel het om die SAPD te ondersteun, omdat dit die dalende aantal personeellede help ondervang het.
Hy sê uit die syfers wat die DA oor die afgelope twee jaar ontvang het, is dit duidelik dat Cele meer as tien jaar gelede die reservisteprogram as sy laaste optrede as nasionale polisiekommissaris geteiken het.
Getalle het skerp afgeneem van 2011/12 (52 054), toe Cele die nasionale polisiekommissaris was, tot 2012/13 (19 129), wat die boekjaar was waarin hy afgedank is. Dit is ’n afname van 63% in reservistegetalle in net een boekjaar.
Sedertdien het reserviste se getalle aanhoudend afgeneem en vandag is daar slegs 3 502 reserviste oor.
“Ons het alle hande nodig in die stryd teen misdaad en die SAPD behoort ’n doelbewuste en dringende werwingsveldtog te volg om hul geledere te versterk met hardwerkende reserviste wat daartoe verbind is om die SAPD te ondersteun en te versterk,” het Whitfield gesê.
Hy sê die DA sal deur die parlement werk om ’n beroep op die SAPD te doen om die reservisteprogram te laat herleef met ’n doelbewuste fokus op die werwing van afgetrede SAPD-lede en ander voormalige veiligheidspersoneel om te help in die bekamping van misdaad.
“Dit is tyd dat die SAPD gelei word deur ’n ernstige en vaardige minister wat die dringende veranderinge kan implementeer wat nodig is om die SAPD aan die werk te kry. As hierdie minister nie daartoe in staat is nie, dan is dit hoog tyd dat die president hom uit sy kabinet ontslaan en iemand aanstel wat bekwaam en geskik is vir doel.”
Verlede week het die drukgroep Action Society gesê die SAPD in die Wes-Kaap se kommunikasiestelsel stort ook in duie.
Die hoofrede vir die ineenstorting, het Action Society verneem, is die feit dat die radio's wat SAPD-lede gebruik, in die 1980's uitgereik is. Hoewel sommige van hulle oor die jare opgeknap is, is die stelsel glo besig om heeltemal in duie te stort.
Action Society sê in ’n verklaring hulle is deur verskeie lede van verskillende eenhede genader wat bevestig het dat hulle hierdie krisis die afgelope paar jaar fyn dophou en sien hoe dit geëskaleer het.
“In 2009 is nuwe kommunikasietoerusting van die Tetra-stelsel aan Gauteng uitgereik, wat hulle geweldige kommunikasievermoëns gegee het. Dieselfde kan nie van die Wes-Kaap gesê word nie. Veertien jaar het verloop, en die polisiebeamptes wat die gevaarlikste gebiede in Suid-Afrika moet binnegaan, doen dit sonder kommunikasie omdat hul stelsel in die ’80’s vasgehaak het,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society.
“Die vraag is: Hoe ernstig ag die polisiekommissarisse, die minister en sogenaamde leiers die lewens van goeie polisiebeamptes? Cele het vandeesweek gekla dat hulle nie kon byhou met die aanstelling van nuwe rekrute nie weens ’n 'uittog van ervare beamptes'.”
Cameron sê dit is nie moeilik om te sien waarom daar nie genoeg nuwe aanstellings in die SAPD is en die uittog van ervare beamptes voortduur nie. Hy sê die samelewing het goeie polisiebeamptes in die gemeenskappe nodig, en organisasies soos syne sal namens hulle praat.