Polisiestasies word van wapens beroof, bendelede infiltreer die polisie

  • 0

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens is uit verskeie oorde onder skoot weens ’n gebrek aan dissipline en behoorlike polisiëring.

Rooftogte by polisiekantore word ’n groot bron van onwettige vuurwapens wat in die hande van misdadigers beland, terwyl bendelede skynbaar daarin geslaag het om dele van die polisie in die Wes-Kaap tot op bestuursvlak te infiltreer.

Volgens ’n skriftelike antwoord wat die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, in die parlement aan die minister van polisie, Bheki Cele, gerig het, was daar van 1 April 2018 tot 31 Maart 2021 dertien rooftogte by polisiekantore waarin 78 vuurwapens en 982 rondes ammunisie geroof is.   

Intussen het regter Daniel Thulare verlede week in ’n uitspraak onthul dat daar bande tussen bendelede en die polisie in die Wes-Kaap bestaan.

Groenewald sê in ’n verklaring behalwe die rooftogte, wat bewys misdadigers vrees nie die polisie nie, is dit ontstellend dat nie ’n enkele een van die 24 misdadigers wat in hegtenis geneem is, tot op hede suksesvol vervolg is nie.

Dit dui op swak polisiewerk, sê Groenewald.

Hy sê indien in ag geneem word dat die wapens 23 5,56 mm-aanvalsgewere en 40 9 mm-pistole insluit, die soort wapens wat veral in transito- en ander rooftogte gebruik word, het polisiekantore duidelik ’n gerieflike bron van onwettige vuurwapens vir misdadigers geword.

Slegs ses van die 23 aanvalsgewere en net vier van die 40 pistole kon teruggevind word.

Volgens die minister was daar geen rooftog in die 2021/2022-boekjaar by polisiekantore nie, maar Groenewald sê dit is nie korrek nie. Die Hotazel-polisiekantoor is na bewering op 31 Julie 2021 van drie R5-aanvalsgewere, agt 9 mm-pistole en twee 12 boor-haelgewere beroof.

“Indien die duisende vuurwapens wat gesteel of verlore raak by polisiekantore in ag geneem word, raak die polisie nou een van die grootste bronne van onwettige vuurwapens vir misdadigers,” het Groenewald gesê .

Hy sê die minister sal moet antwoorde verskaf hierop en moet sê wat hy daaraan gaan doen.

Die DA het na aanleiding van regter Thulwe se skokkende uitspraak oor die insypeling van bendelede in die Wes-Kaapse polisie opnuut aangedring dat die devolusie van polisiemagte in die provinsie versterk word.

Thulare het gesê hy betreur die korrupte bedrywighede van SAPD-amptenare, wat bande met georganiseerde misdaad het; ook hoe dit maak dat die veiligheid van staatsaanklaers in die gedrang gebring word. Hy het in sy uitspraak gesê bendelede het daarin geslaag om die regstelsel binne te dring.

Volgens die regter dui die getuienis daarop dat die senior bestuur van die SAPD in die provinsie binnegedring is, tot so ’n mate dat die 28’s-bende toegang het tot die kantoor waar die provinsiale kommissaris van die SAPD in die Wes-Kaap saam met sy senior bestuurders gesetel is.

Die DA se skaduminister van polisie, Andrew Whitfield, sê in ’n verklaring die ontstellende bewyse van hierdie soort infiltrasie dui daarop dat die polisiediens in die Wes-Kaap heeltemal onbekwaam is om sy eie funksies onder beheer van die nasionale regering te bestuur.

“Bendelede wat die bestuursvlak van die polisie kan infiltreer, vernietig enige kans dat die polisie die oorlog teen bendes wat gemeenskappe verwoes in hierdie provinsie effektief sal kan wen,” het Whitfield gesê.

Die DA sê die party ondersteun ten volle die versoek van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, aan die polisie-ombudsman om die beweerde verband tussen bendeleiers en die polisie te ondersoek.

Gemeenskappe regoor die Wes-Kaap word voortdurend deur bendelede aangeval en in baie van hierdie gebiede het wetteloosheid die strate oorgeneem.

Die DA sê waar hulle voorheen volgehou het dat die grootste rede vir voortslepende bendegeweld die gebrekkige hulpbronne en onderkapasiteit van die SAPD is, blyk dit nou dat die SAPD dalk juis ’n aktiewe rol speel om gemeenskappe deur bendegeweld te destabiliseer.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top