Politieke party sê Wes-Kaapse minister van onderwys is apologeet van rassisme

  • 0

Die EFF verwerp die bevinding van die Wes-Kaapse departement van onderwys dat rassisme geen rol gespeel het by die reëlings van die privaat matriekfunksie vir leerlinge van die Hoërskool Brackenfell nie.

Dit volg nadat die Wes-Kaapse onderwysdepartement ná ’n ondersoek bevind het niemand is op grond van ras uitgesluit van die funksie nie, dat dit ’n privaat funksie was en daar ook geen rede is om onderwysers wat die geleentheid bygewoon het te vervolg nie.

Die funksie wat volgens die EFF se bewerings ’n rassekwessie is omdat slegs wit leerders daarheen genooi is, het tot grootskaalse betogings deur die EFF by die skool gelei. Tydens die eerste betoging het EFF-ondersteuners en ouers slaags geraak en mekaar voor die skool te lyf gegaan.

Die tweede betoging het handuit geruk toe die polisie moes ingryp nadat honderde EFF-ondersteuners na die skool opgeruk het terwyl slegs 100 betogers toegelaat sou word om te betoog. Die polisie moes die skare in een stadium met waterkanonne, traanrook en rubberkoeëls uiteenjaag toe hulle nie wou gehoor gee aan die opdrag om uiteen te gaan nie.

In die departement van onderwys se ondersoek is bevind die uitnodiging na die byeenkoms is wyd gesirkuleer op WhatsApp-groepe en het geen persoon van enige ras uitgesluit nie.

Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, het Maandag in ’n verklaring gesê die ondersoek het getoon dat daar geen rede is om teen die skool of die onderwysers wat die funksie bygewoon het, op te tree nie. Sy sê dit was duidelik ’n privaat geleentheid wat deur van die leerders se ouers georganiseer is wat teleurgesteld was omdat die amptelike matriekafskeid as gevolg van COVID-19 gekanselleer moes word. Die funksie is ook nie op die skoolterrein gehou soos wat beweer is nie.

Die uitnodiging wat op sosiale media geplaas is, was oop vir leerlinge van alle rasse. Dit is uiteindelik bygewoon deur 42 leerders van Hoërskool Brackenfell, asook 30 leerders van omliggende skole, wat wys dit was nie ’n amptelike skoolfunksie nie.

Die EFF in die Wes-Kaap sê egter in ’n verklaring hulle het geen insae gehad in die verslag oor die voorval nie en weier om met hulle hande gevou te sit wanneer daar sprake van [vermoedelike] rassisme is.

Die party beskuldig Schäfer in hulle verklaring daarvan dat sy ’n apologeet van rassisme is en verskonings maak vir rassisme by die skool. Volgens die EFF is hulle nie verbaas oor die DA se reaksie nie, aangesien dit volgens hulle ’n party is wat wit baasskap ten alle koste wil behou.

Die EFF hou vol dat daar verskeie leerlinge is wat getuig het van rassistiese praktyke by die skool. Hulle sê die departement het nie net hierdie getuienis geïgnoreer nie, maar ook die onderdrukking en diskriminasie, wat leerders van kleur vermoedelik by die skool moet ervaar, afgemaak.

Intussen is die Hoërskool Brackenfell se aansoek om ’n interdik teen die EFF se betogings by die skool te verkry, Dinsdag in die Hooggeregshof in Kaapstad hervat. Die skool wil ’n interdik verkry teen EFF-betogings op die skoolterrein en omliggende omgewing.

Die skool se beheerliggaam het verlede maand ’n dringende aansoek gebring, waarna die hof dit van die hand gewys en beslis het dat dit nie ’n dringende aangeleentheid is nie.

Die aansoek het gevolg op verlede week se chaos by die skool toe ouers en lede van die gemeenskap met EFF-betogers slaags geraak het.

Uitspraak in die saak is voorbehou en sal op 22 Desember gelewer word. Die saak is die afgelope week deur regter Siraj Desai aangehoor.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top