“Die Grondwet het gewen,” verklaar Julius Malema, “opperhoof” van die EFF (soos die party se eie grondwet dit wil hê), in reaksie op die Konstitusionele Hof se Phala Phala-uitspraak. Later trap hy egter weer in die strik waaraan Suid-Afrikaners so gewoond geraak het wanneer uitspraak in hoëprofielsake gelewer word.
In hierdie geval het die Hof die EFF Vrydagoggend gelyk gegee dat die Nasionale Vergadering (NV) se stemming in Desember 2022 teen ’n ondersoekpaneel se bevinding oor Cyril Ramaphosa “irrasioneel en ongrondwetlik” was.
Die uitspraak sê basies dat die NV voortydig opgetree het deur te stem oor die verslag van ’n artikel 89-paneel, gelei deur voormalige hoofregter Sandile Ngcobo, voor die komitee se aanbevelings in werking gestel is. Die bevinding was, kortom gestel, dat genoegsame rede of bewys bestaan dat Ramaphosa ’n prima facie-saak het om op te antwoord of rekenskap van behoort te gee.
’n Mens hoef nie hier al die (beskikbare) besonderhede te herhaal van wat aanleiding gegee het tot wat nou as #PhalaPhalaGate bekend staan nie. Opsommend: Meer as ’n halfmiljoen Amerikaanse dollar – in kontant – is vroeg in 2020 uit Ramaphosa se woning op sy wildsplaas Phala Phala gesteel. Die publiek raak eers in 2022 daarvan bewus toe Arthur Fraser, ’n voormalige hoof van die Staatsveiligheidsagentskap, ’n klag by die polisie indien oor onwettige optrede wat met die ontdekking van die diefstal gepaard sou gegaan het.
Sedert die Ngcobo-verslag deur die NV afgekeur is, het ander ondersoeke na moontlike oortredings deur Ramaphosa persoonlik, onder meer deur die Reserwebank, die Inkomstediens en die Openbare Beskermer, hom ook van enige blaam onthef. Nou het die Konstitusionele Hof se uitspraak die Phala Phala-klankbaan verander.
Die uitspraak sal onthou word as een wat gelewer is in die maand waarin die 30-jarige herdenking van die aanvaarding van die land se nuwe Grondwet gevier word. Dié historiese mylpaal is gekenmerk deur oudpres Thabo Mbeki se lewering van sy ikoniese “I am African”-toespraak in die NV. In ’n mediaverklaring het die ANC na dié toespraak verwys en die stryd wat gelei het tot die aanvaarding van die nuwe Grondwet.
“Die ANC neem met kommer kennis van die terugvegpogings teen die Grondwet se transformasiewaardes deur groeperinge wat gekant is teen regstellende aksie, BBBEE, grondhervorming en universele gesondheidsorg,” lui die verklaring. Geen melding word egter gemaak van die wyse waarop korrupsie, bedrog en die ANC se beleid van kaderontplooiing ook teenproduktief teen die “transformasiewaardes” van die Grondwet inwerk nie.
Ramaphosa het dié waardes – en ’n verbintenis tot die beëindiging van staatskaping, korrupsie en bedrog – vir sy presidensiële-veldtog-boodskap aangewend toe hy in 2017 as ANC-leier en vroeg in 2018 as staatshoof by Jacob Zuma oorgeneem het. Die Phala Phala-skandaal is ’n klad op sy naam – en daarom is dit noodsaaklik dat hy die geleentheid gegun word om die onsekerhede daaroor en die onbeantwoorde vrae uit die weg te help ruim.
Terwyl deursigtigheid ook een van Ramaphosa se verklaarde waardes is, wys kritici daarop dat hy hof toe is om die bekendmaking van die befondsers van die ANC-leierskapveldtog in 2017 geheim te hou – selfs al sweer hy dat hy self nie eens weet wie vir hom geld geskenk het nie.
Die Presidensie was nie haastig om op die Konstitusionele Hof-uitspraak te reageer nie. Sowat twee ure later het Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, net die volgende aangekondig: dat hulle kennis geneem het van die uitspraak, dat Ramaphosa die regstelsel respekteer, en dat hy self niemand as verhewe bo die reg beskou nie. Mahlengi Bhengu, woordvoerder van die ANC, het egter vroeër buite die hof die versekering gegee “dat dit standaard [praktyk] in die ANC is om die regbank te respekteer”. Oor die vraag of die uitspraak ’n “groot terugslag” (“massive blow”) vir Ramaphosa as partyleier is, het sy gekeer: “Dit is nie ’n groot terugslag nie. Dit is eerder ’n toets vir die sterkte van ons demokrasie.”
Malema se reaksie op die uitspraak was in ooreenstemming hiermee toe hy dit as ’n “oorwinning vir die Grondwet” bestempel het. Suid-Afrikaners is immers al gewoond aan die gebruik dat aansoekers in hofgedinge, soos Malema, die regstelsel prys wanneer daar in hul guns bevind word, en dat hulle krities teenoor die regbank reageer wanneer hulle aan die verloorkant is. Soms is dit ’n bietjie van albei, want Malema kon homself nie keer om sy party se oorwinning te vier deur óók te kap na die regters van die Konstitusionele Hof wat opponerende insette vir die uitspraak gelewer het nie.
Die onvanpastheid van sy optrede word in dié geval oorskadu deur die moontlike implikasies wat die uitspraak vir Ramaphosa inhou – nie dat ’n mens kan bekostig om oorhaastig te wees om tot ’n slotsom te kom nie. “Die proses om Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging te plaas,” dring Malema aan, “moet onmiddellik begin.”
Die speaker van die NV, Thoko Didiza, sal egter noukeurig te werk gaan om te verseker dat die parlement nie nuwe (grondwetlike) foute begaan met die hantering van dieselfde saak nie. Maar dit sal raadsaam wees vir Ramaphosa, wat reeds binne die ANC onder druk is van ondersteuners van sy adjunk, Paul Mashatile, en dié se Uniegebou-ambisies, om intussen sy vennote in die RNE in sy vertroue te neem oor hoe die Phala Phala-uitspraak die RNE se toekoms kan beïnvloed.
Die politieke aasvoëls draai nou bokant hom (én die RNE) rond, soos dié bo ’n karkas op ’n wildsplaas in Limpopo.

