Politieke partye eis dringende ingryping in Johannesburg nadat ’n uitgelekte brief van finansminister Enoch Godongwana onthul het dat die land se ekonomiese hart in ernstige finansiële nood verkeer en moontlik nie meer sy skuld kan betaal nie.
Opposisiepartye waarsku dat Johannesburg se krisis veel groter as ’n plaaslikeregeringsprobleem is en die potensiaal het om skokgolwe deur die nasionale ekonomie te stuur indien die stad verder sou ineenstort.
Die vierbladsybrief, wat op 23 April aan Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, gestuur is en hierdie week uitgelek het, skets ’n ontstellende beeld van ’n metro wat volgens die minister in “ernstige finansiële nood” verkeer.
Volgens Godongwana skuld die Stad Johannesburg tans R25,2 miljard aan krediteure, terwyl dit oor slegs R3,9 miljard in kontant en kontantekwivalente beskik. Dit laat die metro met ’n tekort van meer as R21 miljard en ’n ernstige likiditeitskrisis.
“Die stad beskik nie oor die nodige likiditeit om sy krediteure te betaal nie,” waarsku die minister in die brief.
What the Finance Minister said…@eNCA https://t.co/Ies9Y0pQpD pic.twitter.com/GvulzQ7XpA
— Yusuf Abramjee (@Abramjee) May 6, 2026
Die krisis draai grootliks om ’n omstrede R10,3 miljard-loonooreenkoms wat Johannesburg in November verlede jaar met die munisipale vakbond SAMWU onderteken het. Die tweejaarooreenkoms is glo aangegaan om arbeidsoptrede voor die G20-beraad te voorkom, maar Godongwana sê die stad het nie die geld om dit te finansier nie.
Hy beskryf die ooreenkoms as onwettig en onbefonds en sê dit oortree die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur. “Jy weet baie goed hierdie stad kan dit nie bekostig nie,” skryf hy aan Morero.
Godongwana het die burgemeester beveel om die implementering van die ooreenkoms onmiddellik te staak. Indien die stad versuim om dit te doen, dreig die nasionale tesourie om Johannesburg se Equitable Share-befondsing (billike-aandeelbefondsing) van meer as R8 miljard in Julie terug te hou.
Die brief wys ook op ander ernstige probleme binne die metro se finansiële bestuur. Dit sluit in swak invordering van skuld, groot verliese op water en elektrisiteit, toenemende skuld aan Eskom en waterrade, asook finansiële stelsels wat volgens die tesourie nie behoorlik funksioneer nie.
Herewith scathing letter to @CityofJoburgZA Executive Mayor Dada Moreno from Finance Minister Enoch Godongwana dated 23 Apr 2026. https://t.co/rG7TJ96eYA. I am wondering whether the City (and @CityPowerJhb) may be pushed into administration before the local government elections… pic.twitter.com/D8PVcxtkRm
— Chris Yelland (@chrisyelland) May 6, 2026
Volgens die minister het die stad se skuld aan krediteure sedert 2022/23 van ongeveer R17 miljard tot R25,2 miljard gestyg. Terselfdertyd word inkomste volgens die tesourie oorskat en uitgawes onderskat in die stad se aangepaste begroting.
Daar is ook kommer oor Johannesburg se finansiële verslagdoening nadat die stad se obligasies op die JSE opgeskort is omdat geouditeerde finansiële state nie betyds ingedien is nie.
Morero het intussen probeer om inwoners gerus te stel en gesê daar is “geen rede tot paniek nie”. Hy het bevestig dat ’n dringende vergadering met die tesourie aangevra is en volgehou dat basiese dienste steeds gelewer sal word.
Hy het egter nog nie aangedui of die stad bereid is om die omstrede loonooreenkoms terug te trek of te heronderhandel nie.
Die reaksie van vakbonde was vinnig en fel. SAMWU en Cosatu se Groter Johannesburg-streek beskuldig die tesourie daarvan dat dit streng besparingsmaatreëls bo werkers se regte plaas. Hulle dring daarop aan dat die ooreenkoms nagekom moet word en waarsku teen verdere arbeidsoptrede indien die regering sou ingryp.
The City of Joburg’s wage deal with municipal workers’ union SAMWU hangs in the balance. This after Finance Minister Enoch Godongwana raised concerns over the legality and affordability of the R10.3-billion wage agreement.https://t.co/7cl1bTZxqD
— eNCA (@eNCA) May 7, 2026
Opposisiepartye sê die jongste onthullings bevestig jare van swak ANC-bestuur en wanadministrasie in die metro.
Helen Zille het Johannesburg openlik as “bankrot” beskryf en gesê die stad word deur korrupsie, politieke inmenging en finansiële roekeloosheid vernietig.
The City of Joburg’s financial report card:
▪️Finance Minister declared city bankrupt
▪️French Development Agency loan refused
▪️JSE suspended the City’s bonds
▪️Moody’s credit downgradeThis is the ANC/EFF/PA/Al Jama-ah coalition of chaos. pic.twitter.com/5VILEUMCw0
— Zille for Mayor (@HelenZille4Jozi) May 7, 2026
Die DA wil raadslede wat die loonooreenkoms gesteun het, glo persoonlik aanspreeklik hou ingevolge die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, en waarsku dat inwoners die gevolge gaan dra deur verdere verval van water-, elektrisiteit-, pad- en vullisverwyderingsdienste.
Ook Makashule Gana van Rise Mzansi sê Johannesburg se inwoners betaal reeds die prys vir politieke mislukkings terwyl strate verval, pype lek en vullis ophoop.
LIVE ON AIR | SAfm@Makashule Gana MP, RISE Mzansi Chief Organiser, speaks to SAfm on the crisis facing the City of Johannesburg as National Treasury moves to freeze funding due to severe financial mismanagement.
RISE Mzansi is demanding accountability, lawful governance, and… pic.twitter.com/4AmXYpT9Ua
— RISE Mzansi (@Rise_Mzansi) May 6, 2026
Politieke ontleders meen die tydsberekening van die krisis is besonder sensitief omdat dit net ses maande voor die plaaslike verkiesings van 4 November plaasvind. Johannesburg bly een van die belangrikste politieke slagvelde in die land en die jongste onthullings kan verdere druk op die ANC plaas.
Onder die moontlike oplossings wat nou bespreek word, is ’n dringende aangepaste begroting, strenger invordering van skuld, drastiese besnoeiings op uitgawes en selfs moontlike administrasie ingevolge artikel 139 van die Grondwet.

