Politieke ontleders stamp kop oor Ramaphosa se posisie in ANC

  • 0

......

“Volgens Duvenhage se inligting is Julius Malema op pad terug ANC toe om saam met Ace Magashule ’n kombinasie teen Ramaphosa te vorm.”

......

André Duvenhage, ’n politieke ontleder en hoogleraar in politieke wetenskap aan die Noordwes-Universiteit, loop onder skerp kritiek van kollegas deur oor voorspellings wat glo nie op feite gegrond is nie.

In ’n alarmistiese stuk op Facebook sê Duvenhage onder andere die COVID-19-pandemie kan dalk die voorspel wees tot Suid-Afrika se eie Arabiese Lente.

Cyril Ramaphosa (Foto: YouTube)

“Met burgers wie se lewe en lot nou deur die willekeurige toepassing van selfgemaakte reëls deur selfaangestelde amptenare bepaal word; ’n ekonomie wat tot stilstand kras met miljoene werksgeleenthede wat in gevaar is; en politieke optredes wat vér verwyder is van die waardes, norme en etos van demokrasieë, mag hierdie die voorspel wees tot Suid-Afrika se eie Arabiese Lente. Het die regering nie meer die vermoë om hierdie elementêre politieke som te maak nie?”

Hy beweer meer en meer getuienis dui daarop dat COVID-19 verkeerd gelees en geïnterpreteer is, of dalk selfs van die begin af ’n doelbewuste, fynbeplande oefening met verskuifde politieke motiewe was.

Volgens Duvenhage se voorspelling is die druk teen Ramaphosa in die ANC besig om so sterk toe te neem dat hy dalk binnekort van sy troontjie gestoot kan word. Hy sê Ramaphosa geniet nie meer die steun van sy party nie. “Daar is bronne wat selfs praat van ’n geheime Nasionale Uitvoerende Komitee-vergadering wat skynbaar elektronies gehou is ’n tydjie terug en wat oorweldigend teen CR [Cyril Ramaphosa] gedraai het.”

......

“Croucamp het op RSG se program Monitor aan Duvenhage gesê hy sal oor ’n jaar baie spyt wees oor sy ongegronde voorspelling. Croucamp sê daar het nooit so ’n NUK-vergadering plaasgevind soos die een waarna Duvenhage verwys nie.”

......

Van Duvenhage se kollegas verskil met hom en sê hy is besig met samesweringsteorieë. Hulle sê Ramaphosa is waarskynlik nou in ’n sterker posisie as in 2017 toe hy president van die ANC geword het.

Dirk Kotze, ’n politieke ontleder aan Unisa, het aan Netwerk24 gesê Ramaphosa is op die oomblik in ’n selfs beter posisie as ander regeringshoofde vanweë die wêreldwye pandemie. Hy sê Duvenhage se opsomming oor die magsbalans in die ANC is heeltemal verkeerd en die teenoorgestelde is eintlik waar.

Twee ander politieke ontleders, Piet Croucamp en Theo Venter, meen ook Duvenhage is onnodig swartgallig en slaan die bal mis met sy voorspellings.

Croucamp het op RSG se program Monitor aan Duvenhage gesê hy sal oor ’n jaar baie spyt wees oor sy ongegronde voorspelling. Croucamp sê daar het nooit so ’n NUK-vergadering plaasgevind soos die een waarna Duvenhage verwys nie. “Read my lips, daar was nié so vergadering gewees nie,” het Croucamp op Monitor gesê.

Volgens Duvenhage se inligting is Julius Malema op pad terug ANC toe om saam met Ace Magashule ’n kombinasie teen Ramaphosa te vorm.

Duvenhage het na afloop van die RSG-onderhoud op Facebook aan sy volgelinge gesê die gesprek met Croucamp was moeilik. Volgens hom het Croucamp en Monitor se aanbieder, Anita Visser, met behulp van Theo Venter hom persoonlik aangevat. “Ek het die saak probeer stel en Piet het vir die man gegaan met die hulp van Anita Visser en Theo Venter se advies.”

Die hekelrubriek “Lood se praatjies” in die dagblad Beeld het ook met Duvenhage se voorspelling die spot gedryf. Lood wou weet of die Noordwes-Universiteit nou ’n nuwe vak gaan aanbied met die naam Samesweringsteorieë. “Waarskynlik met André Duvenhage as vakhoof. Hy voorspel Cyril Ramaphosa se einde die afgelope twee jaar met reëlmaat.” Lood sê die jongste teorie daarvoor is te vreemd vir woorde. “Kwansuis het ’n NDZ [Nkosazana Dlamini-Zuma] /Ace [Ace Magashule] alliansie nou beheer van die ANC oorgeneem. Al manier hoe CR dit glo kan keer is om sigarette vinnig toe te laat.”

“Ouch, slaan hulle die NWU [Noordwes-Universiteit] se naam met ’n plank!” het Duvenhage se kollega Theo Venter op sy Facebookblad geskryf na aanleiding van die spottery in Lood se Praatjies.

Die reaksies van die publiek op die onderskeie kommentators se menings was uiteenlopend. Duvenhage se volgelinge het hom geprys en lof toegeswaai, terwyl sommige ander baie krities was. Hulle sê hy vry na die Transvaalse Landbou-unie (TLU SA) of die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR).

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top