Politieke partye van die Veelpartyhandves het Dinsdag hande gevat en die speelveld voorberei vir die private sektor om deel te neem aan die stryd om die ANC by die stembus te klop tydens volgende jaar se algemene verkiesing.
Benewens die agt politieke partye van die handves was daar meer as 30 organisasies teenwoordig in Ekurhuleni, waar die gesprek gevoer is.
Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, sê in ’n verklaring die bal is nou ook in die burgerlike organisasies se hande om te help om ’n wedstrydplan op te stel waarmee die ANC die stryd in volgende jaar se verkiesing aangesê kan word.
❗️Ons is vandag by die Veelparty-handves se burgerregte-organisasie geleentheid, waar die Handves met hierdie organisasies konsulteer oor wat hulle van ñ koalisieregering verwag. Hier is baie mediabelangstelling en baie prominente organisasies. #herstelenbou #verkiesing2024… pic.twitter.com/I4tfT9cT0p
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) November 28, 2023
Die DA-leier, John Steenhuisen, het voor die vergadering gesê die agt politieke partye wat deel is van die Veelpartyhandves wil graag hê dat burgerlike organisasies hulle gedagtes met die Veelpartyhandves sal deel oor wat hulle dink die politieke partye moet doen om die politieke verandering teweeg te bring wat Suid-Afrika so broodnodig het.
Today the eight parties to the Multi-Party Charter are hosting a gathering of civil society organisations.
We would like civil society organisations to share with us what they think we need to do to bring about the political change South Africa so desperately needs. ???????? pic.twitter.com/4lI4CmhH3B
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) November 28, 2023
Benewens die agt partye van die handves was onder meer die volgende organisasies teenwoordig: Accord, AfriForum, die Afrikanerbond, Brenthurst-stigting, Sentrum vir Innoverende Leierskap, Defend our Democracy, die NG Kerk, FW de Klerk-stigting, Funeral Industry Reformed Association (FIRA), Youth Employment Accelerator (Harambee), Helen Suzman-stigting, Inclusive Society Institute, Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), Johannesburgse Kamer van Koophandel, Kaapse Forum, National Community Dialogue, Ndifuna Ukwazi, Operation Watershed 2024, die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), SACanWork, Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes (SAJBD), Solidariteit, die United South African Movement (Tusam), Youth Lab, Afrikaanse Taalraad, Independent South African National Civic Organisation (Isanco), SNP, United Independent Movement (UIM), GroupsRUs, Teubes Family Wines en Wesco Forensiese Dienste.
Action Society is nog een van die talle burgerlike of nieregeringsorganisasies wat die vergadering bygewoon het. Die organisasie het op X gesê dit is ’n deurslaggewende vergadering waar burgerlikesamelewingsgroepe hul aspirasies vir die handves se impak in die komende verkiesingsjaar kon uitspreek.
Sleutelverwagtinge wat bespreek is, sluit in die transformasie van SAPD-bestuur om politieke vooroordeel uit te skakel, die versekering van streng opleiding en gespesialiseerdevaardigheidsontwikkeling, en die verbetering van die werksomstandighede vir toegewyde beamptes.
Volgens Action Society is die boodskap duidelik: Politieke partye moet die diens aan die publiek bokant hulle eie belange prioritiseer deur ’n voetsoolvlakbenadering tot regering aan te neem.
Action Society is attending a Multi-Party Charter meeting, a pivotal assembly where civil society groups express their aspirations for the Charter's impact in the upcoming election year.
Key expectations include transforming SAPS management to eliminate political bias, ensuring… pic.twitter.com/kmDcQgNYsl
— Action Society (@ActionSocietySA) November 28, 2023
Groenewald sê in sy verklaring die realiteit van die situasie is dat dit die kiesers is wat eindelik besluit wie regeer die land.
“Daar is tans nie ’n enkele politieke party wat dit op sy eie gaan regkry om die ANC te klop nie. Dit gaan ’n spanpoging verg en daar moet oor ’n wye front hande gevat word,” het Groenewald gesê.
Hy sê die sterkste gesamentlike boodskap wat na die kiesers gestuur moet word om dit te vermag, is om te registreer en te stem. “Daar is niemand in Suid-Afrika wat nie reeds self moes inspring op elke gebied waar die regering misluk nie.
“Van slaggate tot die stryd teen misdaad het Suid-Afrikaners reeds hande gevat om na hul eie belange om te sien waar die ANC-regering versuim om sy grondwetlike verpligtinge na te kom.”
Groenewald sê die politieke partye wou eerstehands van die burgerlike samelewing en organisasies hoor wat is hulle voorstelle en aanbevelings. Hy sê daar moet in gedagte gehou word dat die Grondwet partye slegs 14 dae tyd gee om ’n koalisieregering ná ’n verkiesing saam te stel. Daar moet nou reeds gepraat word oor die verwagtinge wanneer dit gebeur.
Suid-Afrika het ’n proporsionele kiesstelsel. Dit beteken dat elke stemgeregtigde wat nie vir ’n party van sy of haar keuse teen die ANC stem nie, die ANC se meerderheid met daardie een stem vergroot.
Volgens Groenewald moet hierdie boodskap gesamentlik en kragdadig uitgedra word deur politieke partye en burgerlike organisasies. Hy sê dit is die sleutel tot oorwinning by die stembus.