Politieke partye looi mekaar voor verkiesing

  • 0

Met net meer as twee weke oor voordat Suid-Afrikaners na die stembus gaan om nuwe plaaslike besture te kies, is politieke partye regoor die land in ’n hewige stryd met mekaar gewikkel om soveel as moontlik stemme te trek.

Terwyl die groter partye soos die ANC, DA, EFF, Vryheidsfront Plus en IVP alles in die stryd werp om hulle steun onder die kiesers te vergroot, hoop kleiner partye en onafhanklike kandidate om vanjaar groter partye se magsgreep op plaaslike vlak te breek.

Daar heers veral groot belangstelling om te sien hoe nuwe partye soos ActionSA gaan vaar. ActionSA het in slegs ’n paar van die metropole kandidate gestel. Hulle hoop om in veral in Johannesburg goed te vaar. Die party se leier, Herman Mashaba, was burgemeester van Johannesburg toe hy nog in die DA was. Hy hoop sy party kan vanjaar die magsbalans in die metro deur middel van koalisievorming met ander partye bepaal.

Al die partye se grootste uitdaging is om te sorg dat soveel as moontlik van hulle ondersteuners hulle kruisies op1 November gaan trek.

Die VF Plus sê hulle word oorval deur geregistreerde kiesers wat nie daarin kan slaag om nuwe of plaasvervangende identiteits- en reisdokumente te kry nie vanweë die Departement van Binnelandse Sake se agterstand vir die uitreiking van noodsaaklike dokumente. Die wagtyd is dikwels maande.

Die party sê in ’n verklaring die uitreiking van nuwe identiteitsdokumente en reisdokumente was lamgelê lank voordat minister Aaron Motsoaledi op 28 September 2021 die hervatting van die uitreiking van nuwe identiteitsdokumente en reispaspoorte ingevolge die verslapping van COVID-19-inperkingsmaatreëls aangekondig het.

Verskeie klagtes van regoor die land dui glo daarop dat talle plaaslike kantore van die departement glad nie op nuwe aansoeke reageer nie of buitengewoon lank neem om aansoeke te verwerk, terwyl die nasionale hulplyn van die departement onbeantwoord bly.

Die departement, wat reeds voor die inperkings van 2020 agterstande beleef het, se diensvermoë het volgens die VF Plus nou sodanig verswak dat talle geregistreerde kiesers deur die versuim van die departement “ontkieser” kan word omdat hul doodgewoon nie voor die verkiesing op 1 November in besit van ’n geldige ID-dokument sal wees nie.

Intussen probeer politieke partye oor en weer munt slaan uit mekaar se blapse tydens die verkiesingsveldtog. Die voorsitter van die DA se federale raad, Helen Zille, sê sy weier om standpunt in te neem téén haar party se verkiesingsplakkate in Phoenix in Durban. Dié plakkate het ’n groot opskudding veroorsaak omdat dit na bewering rassisties sou wees en geweld goedpraat. Meer as 30 mense is in Phoenix tydens die onrus in Julie dood.

Die DA se leierskap in KwaZulu-Natal het om verskoning gevra en die plakkate verwyder, maar Zille sê sy sal dit nie duld dat die regering oor minderheidsgroepe loop nie.

In die Wes-Kaap is die DA en die VF Plus in ’n hewige bekgeveg betrokke oor bewerings dat die DA van plan is om  laekoste-behuising in die Kaapstadse metro te vestig, onder meer op bestaande gholfbane.

Die VF Plus sê hulle is bekommerd oor die feit dat die DA klaarblyklik nie die impak van hierdie besluit op die ekonomie, werkskepping en eiendomswaarde in ag neem nie. Die stap sal volgens hulle verreikende gevolge inhou vir honderde mense van alle rasse wat vir hul lewensbestaan van gholfbane afhanklik is.

Die DA ontken egter ten sterkste dat hulle Kaapstad se gholfbane sal “sloop” om “krotbuurte” te skep. Die party sê in ’n verklaring diegene wat insinueer dat die DA dit wil doen, probeer doelbewus die publiek mislei. “Die DA is nie van plan om gholfbane of enige ander sport- of ontspanningsgeriewe te sloop nie.”

Die DA sê dit is tyd dat opposisiepartye eerlik is oor die DA se uitmuntende rekord om eiendomsreg te beskerm, in plaas daarvan om populistiese leuens te versprei en die risiko van grondgrype en die impak van die behuisingsnood in Kaapstad te ignoreer.

Die SAUK berig op sy beurt dat die leier van die ACDP, Kenneth Meshoe, ontken dat sy party strydig met die Grondwet optree oor sy standpunt oor die beëindiging van swangerskappe. Meshoe het in ’n onderhoud aan die SAUK gesê hoewel sy party nie met die bepalings in die Grondwet saamstem nie, bestaan daar nie konflik wanneer aborsies uitgevoer word nie. Meshoe sê voorts sy party is ’n voorstander van gelyke regte, insluitend vir die LGBTQI-gemeenskap. Hy sê die gemeenskap se regte is in die Grondwet vervat en die ACDP respekteer dit.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top