Politieke partye met ’n Afrikaanse steunbasis vry kliphard na Afrikaanse kiesers se stemme in die aanloop tot die munisipale verkiesing op 1 November.
Beide die DA en die Vryheidsfront Plus span Afrikaans in om Afrikaanse kiesers se guns te probeer wen om vir hulle te stem.
Die DA spits hom veral toe op die taalkwessie by die Universiteit Stellenbosch (US), waar daar ’n hewige debat woed oor Afrikaans as onderrigtaal. Die VF Plus het ook die hele Departement van Basiese Onderwys by die verkiesing betrek.
Hoewel die taalkwessie weinig te make het met die plaaslike verkiesing, meen albei partye skynbaar dat hulle sodoende die guns van Afrikaanse kiesers sal wen.
Die VF Plus se woordvoerder oor basiese onderwys, Wynand Boshoff, sê in ’n verklaring die munisipale verkiesing van 2021 is nie net belangrik vir die wyse waarop munisipale dienste gelewer gaan word nie, maar ook vir die lewering van onderwysdienste in Afrikaans.
Hy sê dit is kommerwekkend dat beheerliggame van skole en universiteite aktief deelneem aan ’n staatsgedrewe projek vir transformasie in alle vlakke van onderwys. In dié verband kan die uitslag van die plaaslike verkiesing volgens Boshoff ’n belangrike invloed uitoefen.
Die feit dat ander inheemse tale nie tot universiteitsvlak ontwikkel is nie, word volgens hom as voorwendsel gebruik om Afrikaans af te gradeer. Boshoff sê die Departement van Basiese Onderwys volg sedert 2003 aktief ’n beleid om universiteite te verengels.
Die VF Plus het die naamsverandering van die Hoërskool DF Malan ook bygesleep. Boshoff sê terwyl die veldtog vir die plaaslike-regering-verkiesings aan die gang is, bou die staatsgedrewe projek vir transformasie in alle vlakke van onderwys momentum op.
Volgens hom het die VF Plus se goeie vertoning in die algemene verkiesing van 2019 onder meer Afrikaans terug op die openbare agenda geplaas. “Hoewel die party deurentyd weerstand teen departementele neigings gebied het, is geoordeel dat ’n meerderheid Afrikanerstemme op partye wat dit ondersteun het, uitgebring is. Ná die uitslag moes rolspelers oor die volle spektrum weer van die behoefte om Afrikaans te handhaaf, sowel as om histories gewortel te bly, kennis neem,” aldus Boshoff.
Volgens Boshoff is dit die omgewing wat op makrovlak geskep word wat maak dat ’n skoolbeheerliggaam soos dié van die Hoërskool DF Malan nie langer kan wag om hom van sy historiese wortels te “ontkoppel” nie.
Hy sê terwyl die veldtog vir die plaaslike-regering-verkiesing aan die gang is, bou die staatsgedrewe projek vir transformasie in alle vlakke van onderwys momentum op.
“Dit is selfs meer kommerwekkend dat beheerliggame van skole en universiteite aktief daaraan deelneem. In dié verband kan die uitslag van die plaaslike verkiesing ’n belangrike invloed uitoefen.”
Die DA se verkiesingshoof in Stellenbosch, Leon Schreiber, vry op sy beurt kliphard na Afrikaanse stemme in die Eikestad. Volgens ’n inskrywing van Schreiber op Facebook is die DA onder die leierskap van John Steenhuisen die leidende kampvegter vir taalregte in Suid-Afrika. Hy het onder meer ’n brief van die historikus Hermann Giliomee in Die Burger op Facebook gedeel waar Giliomee in die bres tree vir die DA se taalstryd op Stellenbosch en die VF Plus skerp kritiseer.
Giliomee ontken bewerings van die VF Plus dat die DA opportunisties is in sy stryd vir Afrikaans. Dit volg nadat Corné Mulder van die VF Plus in ’n artikel op Netwerk24 daarop wys dat Engels selfs in die DA-beheerde Wes-Kaap as voorkeurtaal gebruik word.
Die DA se verkiesingshoof in Stellenbosch, Leon Schreiber, het nie reageer op navrae waarom al die DA se webwerwe in die Wes-Kaap slegs in Engels is terwyl die US, wat skerp deur die DA gekritiseer word oor hulle taalbeleid, se webwerf volledig in Engels en Afrikaans is nie.