In Bishopscourt en Kirstenbosch, Kaapstad is daar twee antieke lanings inheemse wildeamandelbome wat tot Nasionale Gedenkwaardighede verklaar is, in die geloof dat hulle oorblyfsels is van ’n heining wat in 1660 geplant is. Die een is bo-op die heuwel langs Klaassensweg en die ander is op die noordelike hang, binne-in die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin. In onlangse tye is die bome beskryf as “’n simbool van verdeling” (a symbol of division) deur die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA), die “berugte heining” (infamous hedge) en “die eerste apartheidsdaad op Suid-Afrikaanse grond” (the first act of apartheid on South African soil) in Kirstenbosch Botaniese Tuin se amptelike toeristebrosjure. Die groep bome in die tuin is ’n vergaderpunt vir opvoedkundige doeleindes, met inligtingsborde en sitplekke. Skoolgroepe word daarheen gebring om na die bome te kyk en van hul versinde bydrae tot die geskiedenis te hoor: “The Grade 11 field trip was to Kirstenbosch to research South Africa’s segregation … in the shadow of Van Riebeeck’s hedge, the original racial divider of the 1650’s” (sic) (The Pinelander, jaarboek van Pinelands High School, 2014, bl 23).
Adjunkpresident Mbeki se bydrae toe hy op 25 Februarie 1999 as president van die ANC voor beide kamers van die parlement die Waarheid-en-Versoeningskommissie se verslag in ontvangs geneem het, is ’n voorbeeld van hoe ernstig die versinsel opgeneem word en hoe wydverspreid dit werklik is. Sy toespraak het dit wêreldkundig gemaak. Dit lui onder andere:
At Kirstenbosch Botanical Garden, a few kilometres to our east, are the remains of a 340 hundred (sic) years old almond and thornbush hedge. Planted by Jan van Riebeeck, this thorn (sic) hedge was intended to ensure the safety of the newly arrived (sic) white European settlers by keeping the menacing black African hordes of pagan primitives at bay. Black and white had to be kept apart, circumscribed by an equation which described each as the enemy of the other, each the antithesis of the other.1
Sy toespraak verwys vervolgens na die amandelheining as ’n rasseskeidslyn en ’n simbool van rasseskeiding.2
Die doel van hierdie artikel is nie om te probeer aantoon dat bogenoemde bome, wat algemeen as “die Van Riebeeck-heining” bekend is, nie die oorspronklike bome of hul afstammelinge is nie, maar ’n poging om hulle te bevry uit die mag van politieke mitologie en stigma. Skoolhandboeke oor geskiedenis en skoolgeskiedenisleerplanne is onder enige regering nie te vertrou nie en dit sou leerlinge baat as hul historiese navorsing in graad 11 liewer uit tydgenootlike dokumente gedoen word. In die betrokke geval is die primêre bronne om te ondersoek nie ’n skoolhandboek en ’n paar belasterde bome nie, maar die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie se amptelike dokumente wat in die Kaapse Argief en in die Nationaal Archief, Den Haag bewaar word. ’n Aantal daarvan, soos die volledige Daghregisters van 1651 tot 1662, wat noodsaaklik is om die betrokke geval te begryp, is in Engels en in Nederlands gepubliseer en in plaaslike biblioteke beskikbaar.
Die historiese agtergrond
Die inheemse wildeamandel (L. Brabeium stellatifolium) kom algemeen in die Wes-Kaap voor en was vroeër volop in die Kaapse Skiereiland.3 Vanaf voorkoloniale tye het die Koina die vrugte geoes en die sade gekook of gebraai om te eet. Die bome groei redelik vinnig en die volwasse takke verstrengel – ’n egte kreupelhout – sodat dit as heining ondeurdringbaar word vir groter diere, maar nie vir mense nie.
Foto: Jean Sleigh
Van Riebeeck het in 1660, as ’n ekonomiese en voorkomende stap, probeer om die Kompanjie en die koloniste se graanlande te beskerm deur dit met ’n lewende, groeiende heining van wildeamandelbome, aangevul met natuurlike en kunsmatige materiaal, te omhein. Die gesamentlike heinings sou van Tafelbaai se strand af agter om (dws ten ooste van) die koloniste se boerderye langs die Liesbeeck strek tot die bopunt van die plaas Boschheuwel (nou Bishopscourt), en die berghang wes van Kirstenbosch, met die doel om hul landerye teen vertrapping en beweiding en hul vee teen diefstal te beskerm.4
Die plant van sade het in Junie 1660 begin.5 Van Riebeeck het Franse matrose van die gestrande oorlogskip Le Mareschal vir die taak gebruik. Hy het die tydrowende, moeisame en arbeidsintensiewe langtermynprojek in besonderhede aan sy spaarsame werkgewers beskryf: dit sou vyf of ses jaar neem om doeltreffend te word en 3 673 roede (omtrent 13,3 km) lank wees.6 Intussen sou hy bykomde sekerheidsmaatreëls tref. Daarvoor is ’n paalheining van omtrent drie kilometer lank opgerig, van die reduit Uitkijk op Tafelbaai se strand (nou binne die dokgebied), met ’n hek by die buitepos Keert de Koe (by die huidige Montagubrug in Voortrekkerstraat, Maitland) waar die Koina se trekpad na die binneland deur die Liesbeeck gaan en van daar af tot by die buitepos Ruijterwacht (by die huidige Valkenburg-hospitaal). Van die Ruijterwacht af suidwaarts is die rivier se walle steil afgesteek om die deurdryf van beeste te belet. Aan die rivier se bolope is ’n takkraal (pega-pega) gepak tot by die buitepos Houd den Bul (geraamde posisie Rosestraat en St Alban’s Close in Bishopscourt).7
Die plant van ’n lewende heining was ’n ambisieuse, moeitevolle onderneming wat oor drie winters gestrek het. Die saailinge is nooit water gegee nie en was blootgestel aan droogte, vertrapping en beweiding deur diere. Waar plantjies dood is en gapings ontstaan het, kon die gapings eers die volgende winter gevul word.
Daar was geen sprake van “verdeling”, “uitsluiting” of “apartheid” in die beplanning of uitvoering van die projek nie; vroeg in 1661 het die inheemse Cochoqua-groep se vee aan weerskante van die embrio-heining gewei. Op 8 Januarie 1663 het die Goringhaiqua se diere aan die binnekant van die heining gewei. Drie dae later het die Cochoqua ook hul vee binne die heining gebring en weke lank daar gebly; die vee het dwarsoor die heining gewei en die vinger lange plantjies vertrap terwyl hul eienaars beeste en skape vir krale en opbruikbare middele by die Fort verruil het.8 Die Goringhaicona-stam (“Strandlopers”) het ook permanent by die Duintjies (nou agter die Waterfront) binnekant die heining gewoon.
Na Van Riebeeck se vertrek is die projek amptelik in 1663 deur kommissaris P Overtwater gestaak as onnodig, duur en moeilik om te onderhou.9 Dit was ook arbeidsintensief en aan somerhitte en -droogte onderhewig. Die VOC se uitgebreide argief dek die orige 132 jaar van sy regering aan die Kaap in fyn besonderhede, en daar is hoegenaamd geen verdere verwysing na ’n wildeamandelheining te vind nie. Ook word so ’n heining nie op enige van die Kompanjie se kaarte ná 1660 aangedui nie, hoewel die Liesbeeck, die paalheining, die pega-pega, die verskillende buiteposte en ander voorkomende maatreëls wat hier bo genoem is, almal duidelik aangewys word.10 Dit kan met redelikheid afgelei word dat Van Riebeeck se projek nie soos beplan ontwikkel het nie en nooit as ’n heining bestaan het nie.
’n Verdere argument teen die aanwesigheid van wildeamandelbome bo-op Wynberg-heuwel is dat daar van 1793 af en gedurende die Britse inval van 1795 ’n reeks optiese seinstasies in werking was wat die Kasteel met die berghang agter die huidige Groote Schuur-hospitaal, die top van Wynberg-heuwel, die buitepos Muysenburg (nou Muizenberg) en die buitepos Simons Baaij (nou Simonstad) verbind het.11 Omdat visuele kommunikasie ’n ononderbroke siglyn vereis, was die afwesigheid van bome bo-op Wynberg-heuwel ’n vereiste.
Compton se aansoek om verklaring
Amper drie eeue (276 jaar) nadat Van Riebeeck se eksperiment met ’n lewende heining gestaak is, het Robert Compton, die direkteur van die Kirstenbosch Botaniese Tuin, aanspraak gemaak op ’n groepie ou wildeamandelbome in sy tuin se historiese belang, en aansoek gedoen dat hulle tot historiese monument verklaar word. Daar is nêrens aangeteken hoe hy die ouderdom en oorsprong van die bome bepaal het nie. Dit is ook moontlik dat dit nie hul belang of betekenis was wat Compton aangespoor het nie; wildeamandels kom volop voor in hul habitat, en boonop was elke plant, struik en boom in sy tuin is reeds deur die wet beskerm. Was dit ’n plan om aan die botaniese tuin wyer bekendheid te verleen met ’n historiese monument as statussimbool, ’n “moet-sien” vir liggelowige skoolgroepe, ’n lokmiddel vir betalende besoekers, ’n spesiale verwysing in toerismebrosjures en miskien groter geldelike steun van die regering?
Daar het geen historiese gronde vir die verklaring bestaan nie, en die motivering wat Compton se aansoek vergesel het, bevat nie ’n enkele jota van argivale navorsing uit VOC-dokumente óf post-VOC dokumente rakende buurplase soos Boschheuwel, Feldhausen/Veldhuisen, Klaasenbosch, Alphen en ou Kerstenbosch, of enige teken van konsultasie met ’n historikus nie. Geen verwysing uit die byna drie eeue vóór Compton se aanspraak waarin enige skrywer daardie bome met Van Riebeeck assosieer, kon gevind word nie. Ná Compton, soos blyk uit SAEHA se lêers waarin Compton se aansoek te vinde is, het diegene wat wel die bome met Van Riebeeck verbind het, dit papegaaistyl gedoen sonder om Compton se aanspraak aan argivale ondersoek of historiese verantwoording te onderwerp.12
Die Historiese Monumentekommissie se proklamasie in 1936 was ’n mistasting. Daardie besondere kommissie was nie vir hul taak opgelei of toegerus nie, soos ander swaknagevorste proklamasies, byvoorbeeld dié van die buitepos Ziekenhuis en “Oupos” (buitepos Rietvallei aan die Buffelsjagtrivier) uit hul dienstyd toon.13 Deur Compton se aansoek te aanvaar sonder om aan te dring op argivale navorsing en verantwoording, het hulle onwetenskaplik en onprofessioneel opgetree. In 1945, toe die nuwe woonbuurt Bishopscourt uitgelê is, het die ontwikkelaars nog wildeamandelbome langs Klaassensweg ontdek en aangebied; dié is ook sonder ondersoek aanvaar en geproklameer.
Margaret Levyns se bydrae
Die eerste persoon, sover as ek kon vasstel, wat iets soos ’n politieke of rassebeskouing aan Compton se sogenaamde Van Riebeeck-heining kon geheg het en dus moontlik, indirek of direk, die skepper was van die versinsel dat die heining as ’n rasseskeiding bedoel was, was die botanis Margaret Levyns in ’n bydrae tot die Standard Encyclopaedia of Southern Africa (SESA) in 1970. Sy skryf dat die heining bedoel was “to keep marauding Hottentots out of the settlement”.14 In een konteks gelees plaas haar bewering die klem op veediewe en nie op alle inboorlinge nie, maar dit is maklik om dit ook in ’n ander konteks te lees, waarvolgens alle inboorlinge uit die “nedersetting” gehou is. Sy bied geen verwysing of bron aan nie, dus moet die gedagte oorspronklik wees. Nie SESA of die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) het ooit Levyns se beskouing bevraagteken of weerspreek nie, maar dit aanvaar en gepubliseer en dit daardeur geloofwaardigheid gegee.
SAEHA se plakkaat
Wet 28 van 1969 het die Historiese Monumentekommissie (HMK) met die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede (RGN) vervang. Die oorspronklike, tweetalige HMK-bronsplaat uit 1945 wat langs Klaassensweg vertoon is, is gesteel. Die plaat van sintetiese materiaal waarmee SAEHA dit vervang het, was nie ’n egte replika nie; onder meer wys die moderne rasseverwysing “Khoisan” in die nuwe teks dat die oorspronklike teks verander is.
Foto: Jean Sleigh
Op die plaasvervanger voer SAEHA Levyns se bewering verder en is dus óók, soos sy voorganger, die HMK, aan die skep van “nuwe geskiedenis” skuldig. Die nuwe bewoording, alles in hoofletters en slegs in Engels, was:
Van Riebeeck’s Hedge
This hedge was planted in 1660 by order of Commander Jan van Riebeeck as a barrier protecting the expanding European settlement against the indigenous inhabitants of the Cape. The hedge stretched from Kirstenbosch along Wynberg Hill to a point below the Hen and Chicken rocks. Beyond this the barrier continued as a pole fence to the mouth of the Salt River. The hedge has come to be a symbol of exclusion.
South African Heritage Resources Agency
Elkeen van bostaande vier sinne skep meer vrae as wat dit inligting verskaf:
1. (a) Watter bewys is daar dat dié heining (this hedge) deur Van Riebeeck geplant is en nie deur plaaseienaars gedurende die eeue na hom nie? Natuurlike of groeiende heinings was algemeen in gebruik.
J Schumacher 1777 | Swellengrebel – argief
Kyk byvoorbeeld na J Schumacher se panorama van die Kaap, c 1777, waar die meeste van die plasies of “tuine” bo die stad sy eie groeiende heining het. Hoe anders is die buurman se vee buite gehou en jou eie binne? Goedkoop hout vir lang heinings het nie bestaan nie en draadheinings dateer uit die middel-19de eeu. (b) Die bewering dat ’n heining geplant is om die nedersetting teen die inheemse mense te beskerm, is onwaar. In 1660 was militêre sekerheid nie ’n prioriteit nie; argiefstukke toon duidelik en onweerlegbaar aan dat die doel slegs was om veediefstal en die beweiding en vertrapping van gesaaides te voorkom. Die Koina kon na goeddunke daar oor gaan, en het ook. (c) “San” (Sonqua/Boesmans) was in geen opsig by die saak betrokke nie.
2. Uit watter bron kom SAEHA se stelling dat “the hedge … stretched from Kirstenbosch along Wynberg Hill to a point below the Hen and Chicken rocks”? Dit beweer dat die amandelpitte slegs bo-op Wynberg-heuwel geplant is, en nie langs die hele Liesbeeck van Tafelberg se oostelike hang tot so ver as die Ruijterwacht nie, soos in argivale dokumente beskryf word.
3. Die lengte en posisie van die paalheining is ook verkeerd, want dit het net van die Kijkuijt af tot die Ruiterwacht gestrek. Die Soutriviermond was verskeie kilometer wes van Kijkuijt en speel geen rol in dié geskiedenis nie.
4. “The hedge has become a symbol of exclusion” met sy politieke ondertoon is ’n nuwe toevoeging tot die HMK se teks en berus op ’n ongegronde bewering. Dit is redelik om navorsing uit primêre bonne te verwag waar geskiedenis ter sprake is en eerlikheid in openbare sake, en onredelik om bome te stigmatiseer en as simbole van dit of dat te verklaar. Shakespeare het geskryf: “There is nothing either good or bad but thinking makes it so” (Hamlet, 2, 2, 248). ’n Simbool (negatief óf positief) bestaan dus net in die gedagte van die spreker of skrywer.
SAEHA se nuwe plaat is ’n voorbeeld van onkundigheid, moontlike opsetlike verwringing van die geskiedenis, openbare verspreiding van waninligting en onnodige administratiewe werk, koste en arbeid. Watter amptenaar dit gemagtig het, is nie bekend nie, maar dit het amptelike erkenning aan die leuen gegee en waarskynlik die stof verskaf vir adjunkpresident Mbeki se Waarheid-en-Versoeningskommissie-toespraak.
Die toekoms
Ná die nodige deproklamasie deur Erfenis Wes-Kaap en die verwydering van SAEHA se plaat behoort die Stad Kaapstad die bome langs Klaassensweg as ’n Graad 3A-erfenisstuk in bewaring te neem en inligtingsborde op te rig wat aan die publiek vertel dat die inheemse Koina die vrugte as voedsel gebruik het, dat die robuuste, vinnig-groeiende bome ’n digte natuurlike heining vorm en onder pionierstoestande vir plaasheinings gebruik kon word, en dat voorheen gedink is dat dit die oorblyfsel is van ’n heining wat uit 1660 dateer. Hopelik sal Kirstenbosch en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement die voorbeeld volg.15
Verwysings
1 Thabo Mbeki: Statement of the President of the African National Congress, Thabo Mbeki on the report of the TRC: Joint sitting of the Houses of Parliament, Cape Town, 25.2. 1999, bl 1.
2 Ibid, bl 17.
3 “… bitter amandel boomen, hier veel zijnde”. DB Bosman en HB Thom (reds): Daghregister gehouden by … JA van Riebeeck, deel II, 6.6.1657, bl 134.
4 “… datter geen beesten off schapen sullen cunnen werden door gedreven”. DB Bosman en HB Thom (reds): Daghregister gehouden by … JA van Riebeeck, deel III, 23, 24, 25.2.1660, bl 187. Die frase “om de boeren voor invallen van buyten te beschermen” verwys na soortgelyke voorsorgmaatreëls deur grondbesitters in “Duyts- ende Keulsland”, nie na die Kaap nie.
5 Vir die doel van die heining, lees AJ Böeseken (red): Memoriën en Instructiën, 11.3.1661, bl 28; Ibid, 5.5.1662. Oor die aanplant daarvan, lees: DB Bosman en HB Thom (reds): Daghregister gehouden by … JA van Riebeeck, deel III, 24. 5.1660, bl 229.
6 DB Bosman en HB Thom (reds): Daghregister …,13.5.1661, bl 366.
7 Oor die paalheining, pega-pega, ens, lees DB Bosman en HB Thom (reds): Daghregister …, 31.7.1659, ble 09–h.
8 AJ Böeseken: Daghregister … Z Wagenaer, 8.1.1663, bl 43; Ibid, 11, 14, 15.1.1663, ble 43–4; 13.1.1663, bl 43; 24.1.1663, bl 46.
9 AJ Böeseken (red): Memoriën en Instructiën, 7.9.1663, bl 60.
10 Kyk kaarte 4. VEL 808 en 4. VEL 807 (Nationaal Archief, Den Haag) in B Brommer (red): Grote Atlas van de VOC, deel V, ble 85, 86–7).
11 C 707 Instructiën: Orde … voor de vlaggelieden, 22.6.1793, ble 149–54; Ibid, 9.11.1793, ble 263–4.
12 HMK / RNG / SAEHA / EWK – lêer 11 K /Kaa /4 deel 1.
13 JJ Oberholster (red): The Historical Monuments of South Africa, ble 109, 118.
14 DJ Potgieter (hoofred): Standard Encyclopaedia of Southern Africa, vol 1 (1970), bl 312.
15 Die skrywer bedank Helena Scheffler vir haar hulp met hierdie artikel.
Buro: NM