Polities korrekte taal in die spervuur

  • 0

Die Universiteit Stellenbosch se transformasieveldtog het ’n polemiek op sosiale media ontketen. Dit volg na ’n berig en kommentaar in die Sondagkoerant Rapport oor die universiteit se transformasiekantoor. Studente en dosente word aangemoedig om nie die woord “woman” te gebruik nie, omdat dit glo seksisties is.

Pleks van die woord “woman” moedig die transformasiekantoor die gebruik van die woord “womxn” aan, omdat dit nie na die man verwys nie. In die gidsboek wat deur die transformasiekantoor beskikbaar gestel is, word glo ook beweer rassisme kan net deur gekleurde mense ervaar word en dat swart mense gevolglik nooit rassisties kan wees nie.

Die transformasieveldtog op die Matie-kampus is deel van ’n veldtog om gendergelykheid te bevorder en weg te doen met rassisme en homofobie.

Maar Rapport se redakteur, Waldimar Pelser, meen ’n woord soos “womxn” maak die gesprek bespotlik.  Pelser skryf in ’n kommentaarstuk dat om taal te manipuleer en polisieer sodat ’n woord soos “woman” onaanneemlik word, of sodat wit mense toegang tot die aanklag van “rassisme” verloor, dra niks tot die debat by nie. Hy meen dit kontamineer eerder die gesprek.

“Deur die betekenisse van woorde só te bevraagteken en gebruikers daarvan só verdag te maak, bevorder Maties allermins die oop gesprek waarna hulle sê hulle streef. Dit maak eerder ’n projek bespotlik wat hom met werklike ongeregtigheid behoort te bemoei,” aldus Pelser.

Rapport se berig en Pelser se kommentaar het sommige studente op die kampus warm onder die kraag gehad wat tot ’n lewendige gesprek op Facebook gelei het.

Een van die nagraadse studente aan die universiteit, Hanzline Davids, het die berig en kommentaar as neerhalend tot die self-ontwikkeling van swart vroue, en veral minderheidsgroepe soos LBGTI-persone van kleur se identiteit bestempel.

Hy sê die term “woman” was deur wit feministe in die VSA betwis. “Wit feministiese vroue het geargumenteer dat ‘vrou’ as subjek se identiteit onafhanklik is van ‘man’. Daarom die woord ‘womyn’ wat vir die bevryding van vroue veg. Swart queer vroue het egter ‘womxn’ verkies om interseksualiteit van hulle identiteit te erken binne sisteme van klas, ras, gender en seksualiteit,” sê Davids.

Johan Swarts het in reaksie daarop op Facebook gesê mense wat “womxn” skryf is geskiedkundig onakkuraat. “Die ‘man’ in ‘woman’ beteken histories nie ‘persoon met ballas’ nie, maar bloot mens.”

’n Sielkundige van Somerset-Wes en sterk voorstaander van vroueregte, Elize Morkel, stem saam dat diegene aan die kant van bevoorregting moet baie versigtig wees met hulle taalgebruik.

Morkel sê dit is belangrik om oor taalgebruik te praat wanneer daar oor sosiale transformasie gedink word. “Ons weet egter ook maar te goed dat polities-korrekte taalgebruik nie noodwendig houding- of hartsverandering impliseer nie.”

Sy sê die mikro-aggressie is selde geleë in die gebruik van enkele woorde of begrippe maar word  dikwels deur heelwat meer deur taalinhoud gepaardgaande met intonasie en konteks oorgedra.

Volgens Morkel is dit slegs diegene aan die ontvangkant daarvan wat werklik kan beoordeel wat die effek daarvan is en dit teenoor wie almal verantwoordbaar is.

Jaco Nel wat die aanvanklike berig geskryf het en ook onder Davids se tong moes deurloop op Facebook, het verskeie kenners aangehaal wat uiteenlopend oor die saak dink. Sommige meen dis tipies Orweliaans en soos Amerikaanse identiteitspolitiek terwyl ander meen instellings soos universiteite het ’n plig om alle vorme van vooroordeel te bekamp.

 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top