Skielik het ’n intrigerende nuwe debat hom onder ons ingesmokkel, die een oor die onafhanklikheid van die Kaap. Dis ook nuttig, want al sien die meeste mense dit nog as wensdenkery, verskaf dit ’n nuwe lens om na ou probleme te kyk, sodat ons almal nie onmiddellik hoef te sug: “Tog nie al weer ras, tog nie al weer korrupsie, tog nie al weer misdaad nie.”
Onlangs is die Cape Independence Advocacy Group gestig, en dit lyk of dit die pad van ander inisiatiewe sal volg nadat dit ’n vlag in die kleure van die ou koloniale moondhede ontwerp het. Maar die nuwigheid is dat daar nou al vanuit ’n rits oorde daaroor geskryf is – in Vrye Weekblad deur Max du Preez, in Daily Maverick deur Richard Poplak, en in Die Burger deur Jan-Jan Joubert; en Mail & Guardian het ook aandag daaraan gegee. Investec se kliënte vra glo daaroor.
Die grootste rede waarom ’n mens meer aandag aan so ’n flentergatgroepie (soos Du Preez hulle noem) kan gee, is ’n algemene gees van keelvolheid met die regering. Terwyl mense enkele maande gelede nog bereid was om Cyril Ramaphosa sy soveelste laaste kans te gee, is Ramaforie nou morsdood, en bring sy hantering van die COVID-19-krisis ’n mens voor vrae te staan soos: As Cyril self sterf aan die virus, sou jy geneë wees om onder een van die ander top-ses in die ANC te dien?
.......
“Die Cape Independence Advocacy Group het binne ’n paar weke 25 000 volgelinge getrek, en dis opmerklik hoe baie bruin mense die idee steun. Die groep se manifes is in drie tale: Engels, Afrikaans en Xhosa, en hy doen spesiaal moeite om nierassigheid te verkondig.”
.......
Daar is mense soos Jonathan Jansen wat ’n Ace Magashule-bewonderaar is, maar die meeste, dink ek, voel soos ek: Oor my dooie liggaam sal ek hom of iemand soos DD Mabuza as my soewerein aanvaar.
By hierdie keelvolheid is daar gebeure wat besig is om groot simboliese krag op te bou wat veral Wes-Kapenaars vatbaar kan maak vir verandering – enige verandering. Die Hartswater-moorde het tot optrede gelei wat sterk herinner aan nasionalistiese aksies in die 19de eeu toe inwoners om die hofgebou gesirkel het waar die verdagtes verskyn het. In Limpopo het honderde boere in hul bakkies na ’n hof gestroom na ’n plaasaanval.
Vir my is daar nog ’n simptoom van hoe openbare sentiment in die suide dalk besig is om te swaai: dat die kommentators oor Kaapse onafhanklikheid nie meer die klem laat val op die morele of etiese onhoudbaarhede van die idee nie, maar die praktiese uitvoerbaarheid daarvan. As hulle begin skryf hoe moeilik dit is om dit te laat geskied en om verby die ANC in die parlement te kom, dink ’n mens onmiddellik politiek is maar net die kuns van die moontlike, en moontlikhede vir Kaapse onafhanklikheid bestaan daar wel op allerlei ander wyses as om die ANC te gaan vra.
Foto: Pixabay.com
Die afgelope 100 jaar is etlike dosyne nuwe state geskep en het ewe veel gebiede binne hierdie en ou state outonome status verkry. En op baie vlakke is daar nie veel onderskeid tussen outonome gebiede en deelstate in ’n federasie soos die VSA of Rusland, of selfs die provinsies van China nie. Selfbeskikking is geen randverskynsel nie, en dis nie ’n ding vir regsgesinde populiste alleen nie – van die mees prominente afskeidingsbewegings is “links” of “progressief”, soos dié in Katalonië in Spanje en Koerdistan in Irak.
Ernest Duga Titanji, regsdosent van die Universiteit van Jaoende II in Kameroen, beskryf die internasionale reg oor afskeiding en outonomie as ’n Janus-figuur: Dit draai watter gesig jy ook al wil hê na jou toe. “International law neither forbids nor encourages secession. If one were to apply the popular legal adage that what is not forbidden by the law is permissible, then one may argue that secession is permitted under international law,” skryf hy in Tukkies se African Human Rights Law Journal.
As ’n nadraai van dekolonisasie en die baie oorloë die laaste eeu is daar heelwat konsensus dat wanneer ’n etniese of taalgroep onderdruk word, hulle die reg het om af te skei. Sulke onderdrukking kom nie in die Kaap voor nie. Maar dan is daar ’n groep ander teorieë, genaamd primêre-reg-teorieë, ingevolge waarvan enige groep mense binne ’n geografiese gebied van wie die meerderheid vir onafhanklikheid stem, op “eksterne afskeiding” kan aandring. In sulke gevalle is net die instemming van die internasionale gemeenskap nodig.
Dis dus eenvoudig: As ’n meerderheid van die mense in ’n gebied vir afskeiding stem, het dit reeds geldigheid, en soms regskrag, soos met Brexit en die Europese Unie. Omdat hierdie beginsel so logies en eties volhoubaar is, doen die meeste demokratiese state vooruitlopende stappe deur hul grondwette ’n persentasie groter as 50% te laat voorskryf vir groepe wat wil afskei.
.......
“Hoe anders gaan ons van die ANC ontslae raak? Die reënboognasie is vir alle praktiese doeleindes dood, en in die plek daarvan het ons ’n patronaatstaat wat sy swart kiesers omkoop met staatstoelaes en tenders.”
.......
Die enigste ander vereistes, tot die mate waarin hulle bestaan, is dat daar ’n regering moet wees en dat ’n grondwet opgestel moet kan word wat algemene menseregte onderskryf, om te verseker dat ’n demokratiese besluit geneem word. Daaraan voldoen die Wes-Kaap, en is die praktiese uitvoerbaarheid van afskeiding binne so ’n konteks blote detail.
Die vraag is natuurlik of dit wenslik is. Gaan dit iets verander in ons hoogs verweefde wêreld? Daarop kan ’n mens weer vra: Hoe anders gaan ons van die ANC ontslae raak? Die reënboognasie is vir alle praktiese doeleindes dood, en in die plek daarvan het ons ’n patronaatstaat wat sy swart kiesers omkoop met staatstoelaes en tenders. Die enjin van hierdie bedeling is die hoogs rassistiese en fascistiese EFF wat sonder berisping die Covid-staat van afsondering gebruik om blindelingse grondbesettings en die afbrand van staatsgeriewe aan te hits of goed te praat.
Ek deel nie die versugting van nieswart mense wat graag praat van “hulle” – dis nou swart ANC-aanhangers – wat nie die mense wil uitstem wat hulle besteel en besig is om ’n nuwe Zimbabwe te skep nie. Na al die korrupsie en al die ongerymdhede bly die ANC/EFF die enigste instansies wat mense nie links en regs uit hul werke wil skop nie of wat Black Lives Matter onvoorwaardelik steun. Die ander pool van ons benarde situasie bly die absolute skynheilige en gewetenlose uitbuiting van Suid-Afrika se kapitalistiese instellings, wat nog steeds die vernaamste instrument vir Eurosentriese dominasie is.
.......
“Die ander pool van ons benarde situasie bly die absolute skynheilige en gewetenlose uitbuiting van Suid-Afrika se kapitalistiese instellings, wat nog steeds die vernaamste instrument vir Eurosentriese dominasie is.”
.......
Maar die feit bly staan dat swart identiteitspolitiek ’n dooie punt in Suid-Afrika se politieke ontwikkeling geskep het wat nog lank gaan duur. Die EFF en die ANC saam trek 73% van die land se stemme, wat beteken swart nasionalisme is net besig om te groei. Die Demokratiese Alliansie is ’n wrak van haarself, en gaan dit nie op nasionale vlak kan terugrem nie, laat staan nog omswaai.
Die Cape Independence Advocacy Group het binne ’n paar weke 25 000 volgelinge getrek, en dis opmerklik hoe baie bruin mense die idee steun. Die groep se manifes is in drie tale: Engels, Afrikaans en Xhosa, en hy doen spesiaal moeite om nierassigheid te verkondig. As die praktiese weg na ’n Kaapse onafhanklikheid gaan wees om die internasionale gemeenskap te oortuig, sal sodanige beleid die minimum moet wees. En die minimum sal dalk nie genoeg wees nie, want wat ook soos ’n paal bo water staan, is dat so ’n nuwe staat gemeet sal word aan dieselfde vraag wat sake noordwaarts beduiwel: Wat gaan julle doen om apartheid reg te stel onder veral bruin mense? Dit is die eintlike toets, en die een wat sal bepaal of ’n onafhanklike Kaap dan regtig beter gaan vaar as ’n ANC-regering.
Dit is moontlik om dit te doen sonder om die vernietigende “positiewe” rassisme van SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging) toe te pas. Wat my sou kon oorhaal om Kaapse onafhanklikheid te steun, sou byvoorbeeld ’n sterk gelyklopende veldtog wees om lande soos Brittanje en Nederland wat slawe hierheen gebring het, om kompensasie aan hul afstammelinge te laat betaal – iets wat nie naastenby op die radar van die ANC is nie; inteendeel, een van sy top-ses self, Jessie Duarte, kla oor diskriminasie, en implisiet teen onder andere Wes-Kapenaars.
’n Ander noodsaaklikheid sal wees om ’n Kaapse nasionalisme te vermy. Nasionalisme se dae is verby – dit is regressief, keer bevolkings in op hulself en bevorder vernietigende identiteitspolitiek. Ook dit behoort nie moeilik te wees nie – die Kaap is een van die mees kosmopolities gebalanseerde gebiede in Afrika, en geen enkele etniese groep kan die botoon voer nie. Dit sal ook nie isolasionisties kan wees nie. Dit kan alleen werk as dit sy heil in Afrika bly soek en deel is van ’n antikoloniale herontwerp van die hele Suider-Afrika.
Om hierdie voorwaardes na te kom, sal wit Kapenaars minder rassisties moet word. Maar dis nie onmoontlik dat COVID-19 genoeg van ’n kentering sal bring nie, en dan kan ’n Kaapse onafhanklikheidsbeweging die enigste praktiese manier wees om die ANC-houvas op ten minste ’n deel van die land te breek.
Buro: MvH