Die beleërde DA-burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, wie se tugverhoor Dinsdag begin het se kop staan volgens verskeie politieke waarnemers in die rigting van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF).
Sy word deur haar eie party daarvan beskuldig dat sy die DA se federale grondwet oortree het. Sy hou vol dat sy onskuldig is en beweer daar word ’n politieke heksejag teen haar gevoer deur lede in haar party.
Bespiegelings dat De Lille by die EFF sal aansluit indien sy deur haar party geskors word, het opnuut opgevlam toe sy in ’n bloedrooi broekpak by haar verhoor opgedaag het. Daar word reeds geruime tyd bespiegel dat sy die EFF haar nuwe politieke tuiste gaan maak indien die DA haar uitskop.
’n Lid van die EFF het op Twitter geskryf De Lille se kleredrag verklap alles en dit is tyd om haar in hulle geledere te verwelkom.
Die onderleier van die EFF, Floyd Shivambu, het ’n opskudding veroorsaak toe hy een van Media24 se joernaliste aangerand het buitekant die gebou waar De Lille se verhoor geskeduleer was en waar Adriaan de Kock saam met ander joernaliste gewag het.
Shivambu wat ook by die gebou opgedaag het, is deur De Kock gevra of hy kommentaar wil lewer oor De Lille se verhoor terwyl hy ’n foto van hom geneem het.
Shivambu het hom vererg en aangedring dat die joernalis die foto op sy kamera uitvee. Hy het die joernalis daarna aan sy keel gegryp en probeer om sy kamera af te neem terwyl van die ander joernaliste die hele voorval op video afgeneem het.
Die video-insetsel van die voorval het onmiddellik soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Die veteraan joernalis Max du Preez het getwiet dit is die eerste keer dat hy sien ’n joernalis word op dié wyse deur ’n politikus geïntimideer sedert die destydse leier van die AWB, Eugène Terre’Blanche en sy trawante hom op soortgelyke wyse rondgepluk het.
Die voorval is wyd deur ander joernaliste en media-kenners veroordeel. Die voorsitter van die parlementêre persgalery, Andiswe Makinana, het gesê hulle gaan dit met die speaker van die parlement opneem.
Shivambu se optrede is ook wyd op sosiale media veroordeel. Hy is onder andere van boewery en rassisme beskuldig. “Haai man Floyd, WTF!” het Victor Mkalipi op Times Live se webwerf sy verontwaardiging uitgespreek.
Voor haar verhoor het De Lille ’n verklaring op Twitter geplaas waarin sy gesê het sy gaan aandring dat die verhoor in die openbaar geskied en dat die media dit mag bywoon. Die DA het egter aangedui dat hulle dit as ’n interne saak beskou.
De Lille het gedreig sy sal hof toe gaan as die DA nie die media by haar verhoor toelaat nie omdat dit volgens haar ’n openbare saak is en die publiek die reg het om haar kant van die saak eerstehands aan te hoor.
In die verklaring wat sy op Twitter geplaas het sê De Lille dit is ironies dat die DA-parlementslid Glynnis Breytenbach wat gevra het haar verhoor moet in die openbaar plaasvind toe sy by die Nasionale Vervolgingsgesag geskors is, een van die voorbokke in die DA is wat wil hê De Lille se verhoor moet agter geslote deure gehou word.
Buro: NB