Poppe dans oor seksvoorligting in skole

  • 0

Seksvoorligting by skole het die hele land in rep en roer. Dit volg nadat ’n herrie losgebars het oor die departement van basiese onderwys se omstrede nuwe plan vir seksvoorligting aan skoolkinders.

Talle ouers is ontsteld oor die voorgestelde skoolkurrikulum wat kinders so jonk as nege jaar oud van volgende jaar af aan seksvoorligting sal blootstel. Die departement van basiese onderwys se aangepaste kurrikulum wat onlangs aan die media uitgelek is, het uiteenlopende reaksie by ouers uitgelok.

Foto: Unsplash.com

Sommige ouers beskou dit as “sagte pornografie” en sê hulle sal beslis nie toelaat dat hulle kinders daaraan blootgestel word nie. Ander meen weer die herrie wat ontstaan het, is ’n storm in ’n teekoppie en dat ouers niks het om oor histeries te raak nie.

“Daar is ’n tyd en plek vir als – en ek verkies dat ek self met my kinders hieroor gesels – op die regte tyd en ouderdom. Ek vertrou nie die staat hiermee nie. So ek sal bitch en moan hieroor want dis die punt – ek wil nie hê die staat moet met my kind hieroor praat nie,” het een van die ouers haar lot op Facebook bekla.

Ander ouers meen egter seksvoorligting is ’n uiters belangrike saak in Suid-Afrika en dat kinders so vroeg moontlik ingelig moet word oor hoe om swangerskappe en geslagsiektes te voorkom. “Ek hoop net ons konserwatiewe kerkgenootskappe en morele volksmoeders bly uit hierdie saak uit. Hulle het in die verlede al te veel ellende op hierdie gebied veroorsaak. Kinders moet vanselfsprekend so vroeg moontlik ingelig word, nie om hulle aan te moedig om seks te hê nie, maar juis om daarvan weg te bly en versigtig te wees,” het Piet Westra op Netwerk24 geskryf.

............

“... seksopvoeding gaan daaroor om kinders vanaf ’n baie jong ouderdom te leer oor deernis en respek en liefde vir hulself sowel as vir ander en nie oor seks as sulks nie.” Marlene Wasserman

............

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het in antwoord op ’n vraag in die parlement gesê ouers sal kan kies om aan die Comprehensive Sexuality Education (CSE) seksvoorligtingkurrikulum te onttrek as hulle wil. Sy sê dit is moontlik vir ouers om te weier dat hulle kinders die programme bywoon, mits ouers ’n alternatiewe kurrikulum kan voorsien wat aan die nodige vereistes voldoen.

Paul Colditz, voorsitter van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), sê dit beteken nie kinders kan nou seksvoorligting ontduik nie. Onderwysers kan wel die voorgeskrewe leermateriaal se aanbieding aanpas of versag vir ’n betrokke skool of gemeenskap in soverre dit steeds aan die kurrikulum se vereistes voldoen.

Die DA (Demokratiese Alliansie) se voorsitter van die parlementêre komitee oor basiese onderwys, Nomsa Tarabella-Marchesi, het intussen gevra dat die komitee dringend vergader om die kwessie te bespreek.

Die DA meen seksopvoeding moet ’n fyn balans handhaaf tussen inligting om jong mense toe te rus om die regte besluite te neem en om leerlinge onopsetlik te sekulariseer.

Die president van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), Chris Klopper, sê daar is te veel geheimsinnigheid rondom die nuwe kurrikulum en bykans 90% van sy lede sê die nuwe inhoud en leerplanne is nie aan hulle voorgelê nie terwyl skaars twee persent opleiding oor die wysigings ontvang het.

Die joernalis Willemien Brümmer skryf in ’n meningsartikel wat op Netwerk24 verskyn oordrewe preutsheid en stilte oor seks gaan net maak dat jou kind dinge agter jou rug doen.

Die internasionaal gerekende seksuoloog, Marlene Wasserman, bekend as Dr. Eve, het aan Brümmer gesê sy het die nuwe kurrikulum onder oë gehad en die ophef daaroor is ’n groot bohaai oor niks.

Volgens haar is die histerie begin deur regse godsdienstiges wat baklei vir ’n onthoudings-gebaseerde seksopvoedingsprogram wat gebaseer is op konserwatiewe godsdienstige waardes en dit is inderwaarheid skadelik vir kinders, meen sy.

Sy sê seksopvoeding gaan daaroor om kinders vanaf ’n baie jong ouderdom te leer oor deernis en respek en liefde vir hulself sowel as vir ander en nie oor seks as sulks nie. 

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top